Vandag vier ons Vars Spinasiedag (Fresh Spinach Day), verseker Dr Google my. Dit lyk my die wêreld is altyd op soek na iets om te vier, maar ek is heeltemal bereid om in te val by hierdie fees. Blare is my kos.

My balkontuin floreer
My balkontuin floreer

Ek het in ‘n vorige blog al gesels oor my balkontuin wat genoodsaak is deur die skaarsste van winkels rondom ons en intussen het die tuin al uitgebrei na ‘n blomakker (gedoop die bokstuin) by die ingang. Die arme, verwaarloosde bokstuin het net een pieperige ou palmboompie in gehad en hy was ook so tussen lewe en dood. So stil-stil het ek begin om ‘n paar tamatie-, soetpeper-, peppadew- en knoffeluiplantjies daar in te druk. Daar eenkant staan ‘n pynappelplant wat nie lyk asof hy ‘n pynappel wil word nie hoewel hy floreer, en dan is daar sommer so ‘n blomplantjie of wat.

Die bokstuin
Die bokstuin

Die blou plastieksakkies (Genis se poop bags – leeg nè!) in die tamatiebos, word oor die tamaties gespan om aap se kind weg te hou. Die stoutgatte ontsien geen moeite om my uitgeswelde tamaties by te kom nie. My man storm kort-kort hier uit met sy kettie en my dogter se versameling strandklippies om die diewe te verwilder. Hy is ‘n dodelike skut, maar is verbied om die ape te tref; nie net is dit teen die wet nie, maar hier woon ook ‘n paar bleeding hearts hier in ons huis.

Vanmiddag sit ek hier voor my rekenaar en sukkel met ‘n dokument wat net nie verstaanbaar wil word nie, toe die reuk van vars kruie my skielik tref. Jy kan dhanya en basiliekruid mos myle ver oor die vlaktes ruik. Dokument net daar gelos en ek is kombuis toe om te gaan kyk. Ja, sy het geoes en is besig om pesto voor te berei.

Pesto

Ek het “gehelp” deur die helfte van die oes sommer net so op te eet en my dogter het geduldig gebly tot ek my vingers in haar pesto gedruk het om te proe. Toe word ek weggejaag. My dokument is nie meer op die skerm nie (ek is seker dit het nou iewers in die kuberruim verdwyn) en nou sit en dink ek sommer net. Aan kruie en blare.

My pa het jare gelede in die droë sanderige Namakwaland ook altyd ‘n groentetuintjie aangelê. Soms het die plantjies wasdom bereik, maar merendeels het hulle maar die gees gegee onder die warm son en die brakwater. Daar was darem altyd beet en rape; hierdie bolplante het gedy en ons het lekker daaraan geëet. My ma het selfs die beetblare gekook en glo my, dit smaak nes spinasie.

Naomi, ons geliefde kinderoppasser, het in die Vrystaatse velde wilde marog geoes en vir ons gaargemaak saam met krummelpap. Dit was heerlik en glo my, smaak ook maar net soos spinasie.

Deesdae kry jy baie soorte spinasie en elke soort het sy eie aanhangers. Maar glo my, spinasie is ook maar net blare – blare wat ek met groot vreugde sal gedenk en vier – en ek is seker Popeye het ook nie ‘n voorkeur vir ‘n spesifieke soort spinasie gehad nie.

3124-cartoon-popeye-pictures-page-15_1920x1080

 Viva la blare!!!