Scrapydo se Toeka-Tokkel: Huis

Ek raak nie gebonde aan ‘n tuiste waar ek woon of voorheen gewoon het nie. Iewers in my voorgeslagte moes daar ‘n trekker gewees het – Voortrekker, bedouin, wêreldreisiger, kruisvaarder of seevaarder – want ek het geen probleem daarmee om my tentpenne uit te pluk en ‘n nuwe huis te gaan opslaan nie.

Ja, ek dink soms terug aan mooi vlaktes, berge en bergstrome, plantegroei, oseane en (minder dikwels) aan mense wat agtergebly het. Oor die algemeen is ek egter baie gemaklik daarmee om na ‘n nuwe omgewing te trek, MITS:

  1. My gesin en troeteldiere kan saamgaan
  2. My rekenaarstelsels, telefone en alle elektronika ordentlik kan werk
  3. Daar ‘n Pick ‘n Pay iewers in die omgewing is, en
  4. Die weer warm is en die son skyn.

Wat ek wel mis, is my tuin. Waar ek ookal kom, moet ek my hande (of my man se hande dan) aan die grond kan slaan. Dit hoef nie ‘n groot tuin te wees nie; ek het al tuin gemaak op ‘n balkon 1 meter wyd en 2 meter lank en drie verdiepings in die lug. Snaaks, ek hou niks van huisplante nie. Ek hou ook nie van blomme in my huis nie. Plante en hulle blomme hoort buite.

Ons het ‘n paar maande gelede ‘n groot huis met ‘n groot tuin verkoop en hier bo die see kom bly. My man was boos oor die tuin wat hy met soveel sorg uitgelê en versorg het (met my as bekdrywende voorman), maar ek het ewe windgat vertel dat die omgewing by ons nuwe huis een groot deel van die Skepping is: wyd uitgestrek, welige plantegroei, waterryk, feitlik op ‘n stil strand – die Paradys self en MOOI. Ons sou nie ‘n tuin nodig hê nie. Ons kan terugsit en die Skepping geniet.

Ja.

Baie gou het ek agtergekom dat die Pick ‘n Pay ver is; dat vrugte en groente en vars kruie nie lank hou as dit van die winkelrak af kom nie; dat my balkon met die fantastiese uitsig mooi is, maar baie leeg. So mettertyd het ek ‘n ou patio-stelletjie met sambreel aangekoop, ons ou tuinbankie reggeskuif, ons ou braaivleisstelletjie en houttafeltjie ‘n plek gegee, maar die plek bly LEEG.

Hier naby ons is ‘n kwekery en my dogter het vir my pietersielieplantjies daar gaan koop, siende dat haar ma so ‘n vreeslike vloermoer kan gooi oor aartappelslaai met gedroogde pietersielie in. Toe gaan koop sy slaaiblare, basiliekruid en wilde uie. Dis nou vir die mengelslaai sien? Toe kon my hart dit nie meer hou nie en ek is saam kwekery toe. Nou het ek tamaties ook, en soet pepers, oreganum, “water cress” (bronkorsslaai in Afrikaans dink ek?) en ja, ‘n paar goudgeel Afrikanertjies en ‘n pienk malva en my hart se punt – ‘n rooipienk bougainvillea. O ja en die kaktus wat saamgekom het van Gauteng af. Nou kan ek slaai maak en my siel kan saam eet.

Tuin1 Tuin2

Die ou plantjies is nog klein en jonk, maar hulle sal groei en gedy in die oggendson. Namiddag staan hulle in koelte. Daar op die houttafeltjie lê ‘n versameling skulpe, neutedoppe, klippe en dryfhout wat nog “iets” kan word in my tuin.

Dis net ‘n ou klein tuintjie, maar ek het weer ‘n behoorlike tuiste. Met ‘n tuin.

Buitendien het ek ‘n baie groot balkon en daar is nog baie leë plek oor.

Advertisements