Baie dankie vir die deelname aan ons vorige Lê-Jou-Eier uitdaging Vertel ‘n Spookstorie. Hierdie onderwerp het ons laat lag en / of met koue rillings gelaat.

Ek hoop dat hierdie week (23 – 30 November 2017) se onderwerp jou sal laat droom of aanmoedig om die stoute skoene aan te trek. Ek het iewers op google of facebook die boodskappie raakgelees: “Jy leef net een keer, lek die bak uit.” Daarby is ‘n fototjie van ‘n mengbak met die oorblyfsels van ‘n deeg wat duidelik gebruik is om sjokoladekoek te bak. Baie van ons is mos te ordentlik om die bak somerso met die vinger uit te lek, selfs al is daar niemand wat afloer nie. Nou nie dat ek sodanig ordentlik is nie, maar gelukkig gaan hierdie storie nie oor my nie.

Vertel ons van ‘n droom wat jy in jou kop ronddra, iets wat jy graag wil sien, doen, beleef. Iets wat nie noodwendig die enger samelewing se goedkeuring sal wegdra nie. Iets wat sal maak dat die ou tannies hulle wenkbroue sal lig. Is ou ooms ook so besadig en te bang om die bak uit te lek?

Wees kreatief. Onthou, alles wat in blogland gebeur … bly in blogland word deur die res van die wêreld gelees.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=751225

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).