Sunlight shining through the treetops

Tussen ons huis en die snelweg, is daar ‘n diep vallei. As ons op die agterste balkon staan, sien ons net die boomtoppe en die teerpad aan die anderkant. Dis natuurlik onvermydelik dat ons die een of ander tyd die Groot Trek deur die bos sou onderneem om ondersoek in te stel – nuuskierigheid loop dik in die bloed. Toe ons die geesdrif nie langer kan demp nie, vaar ons die vallei binne, goed gepantser met twee lae klere, heavy duty gumboots en hoed op die kop. Baie gou was die boomtoppe, wat ons gewoonlik net van bo af sien, ver bo ons koppe.

Sunlight through the leaves

Ons weet dat daar lewe is in die digte bos: ons sien elke nou en dan apies, bosbokke, bosvarke en natuurlik is ons ook alte bewus van die slange en spinnekoppe. En muskiete. Moenie vergeet van muskiete nie. Dus is ons geestelik voorbereid. Aan die begin gaan dit goed, maar toe word die bos al hoe digter en ons besluit om die stroompie te volg na die groot rivier se kant toe.

Brook in the woods

My dogter loop voor en ek trap mooi in haar voetspore. Die gedagte kom by my op dat ons rolle nou omgedraai is; toe sy jonger was het sy van my verwag om die leiding te neem – deesdae laat ek die leisels (en die motor se sleutels) baie gemaklik en met groot vertroue in haar hande.

Die lyf is al so ‘n bietjie ouer en die litte strammer, dus moet sy so nou en dan help dat ek onderdeur- of bo-oor ‘n tak kan kom. So ‘n slag of wat sit ek vas in wat ek sweer is ‘n wag-‘n-bietjie-bos en sy moet my kom loswikkel.  Sy dink natuurlik niks daarvan om my so ‘n oomblik in die lug te laat hang bo die waterstroompie sodat sy gou ‘n foto kan neem nie.

In the woods

Op ‘n stadium het die plantegroei regtig so welig geraak dat ons benoud gewonder het of die son onder gegaan het. Dit was egter sprokiesmooi en ek dink as ek ‘n feetjie was, sou ek net soos daardie pienk-pers blommetjie tussen die mosbedekte takke wou woon.

Wonder world

Ons het op ‘n stadium begin wonder of ons moes omdraai, maar die pad terug was lank en moelik en ons kon die verkeer bo-op die snelweg duidelik hoor, selfs al kon ons niks sien nie, dus was ons nie verdwaald nie. Voorwaarts dus! En wat ‘n lieflike beloning het nie op ons gewag nie: skielik het die donker bos oopgebreek en hierdie fantasie-wêreld vir ons oopgemaak.

Water Lily

Ons het lank hier vertoef, tè lank, want ons het geweet Pa sal angstig word omdat ons so lank wegbly. Ons kon nou ietwat vinniger vorder en ‘n entjie verder het ons die grondpad se brug oor die rivierlopie gesien, met die water van die strandmeer aan die anderkant. Dit was ‘n welkome gesig.

Exit from the woods

Ons het behoorlik tone geklap al met die grondpad langs die groot rivier af, om die hotelgronde en bult-op tot by die huis. My arme tong het op die grond gesleep, maar my hart was lig. Dit was ‘n heerlike dag.

Wonder waarheen gaan ons volgende?

Advertisements