Sleutelwoorde

, , ,

Ons het ‘n klein, bedorwe hondjie wat soos ‘n stertjie al agter sy pa aandraf. Ons gaan bitter weinig iewers heen sonder die kleine brakkie, dus moet ons altyd seker maak dat hy welkom is op die strand, op die winkelstoep, of by ‘n opelug-restaurant, sodat ons kan beplan waarheen ons gaan vir ontspanning. Natuurlik, as Genis nie welkom is nie, hou ons ook verby en gaan soek na ‘n plekkie waar hy kan saamkuier. By die huis bly is nie ‘n opsie nie.

Genis is geleer om doodstil onder die tafel te sit terwyl sy huismense eet; hy eet nou darem nie uit ons borde of drink bier uit ons glase nie. Hy blaf of knor nie en hardloop nie rond nie. Hy bad ook elke dag, omdat hy elke dag in soutwater swem, sy inentings is op datum en sy tande word geborsel en nie hy of sy mense ly aan ergerlike oordraagbare siektes nie. Ek dink darem ons maak voldoende versekering dat mense veilig kan voel in sy geselskap.

Toe ons nou die naweek besluit om stil te hou by ‘n strandrestaurant waar heerlike pizzas bedien word, het ons eers gaan seker maak dat Genis toegelaat sal word. Ons is hartlik verwelkom buite op die stoep waar ‘n paar katte ook rondgesluip het.

genisondiet

Alles het goed gegaan totdat daar ‘n groterige dame in ‘n kleinerige rokkie opgedaag het, so ene wat selfs met ‘n hewige gerem en getrek nie die babagesiggies op die knietjies wou verbloem nie.

Ek kon nie help om op te let dat sy en Genis gelyk het asof hulle familie kon wees nie – albei se dra-velletjies het sulke kolletjies op en sit taamlik styf en albei het so ‘n moderne weergawe van ‘n Rod Stewart haarstyl, net nie so sexy nie. Die enigste verskil was dat Genis se wenkbroue baie ruig is (hy IS immers na die beswaarde Genis met die woeste wenbroue in Koöperasiestories vernoem), terwyl die dame sulke dun strepies bo haar oë laat tatoëer het.

Nog skaars het sy haar sit gekry, toe begin die dame luidkeels haar misnoeë uitspreek oor die wyn wat suur is (dis nou nadat sy die hele glas uitgedrink het), die teenwoordigheid van mossels in haar seekossop (?!), die musiek wat te hard / nie hard genoeg was nie en natuurlik oor die onhigiëniese gebruik om katte en honde in ‘n restaurant toe te laat.

Ons maak altyd ‘n punt daarvan, wanneer ons agterkom dat iemand ongemaklik is met diere in ‘n openbare plek, om pad te gee uit die geselskap. Ons het dus onmiddellik ‘n braksakkie (sies! wat ‘n onhigiëniese benaming) bestel, ons rekening betaal en gewaai.

Nou dink ek toe agterna eers daaraan, ek moes darem net ‘n oomblik by die dame se tafel stilgestaan het, nie net om verskoning te vra vir my hond se teenwoordigheid nie, maar ook om haar bewus te maak van die volgende:

My hond pas mooi in sy vel. Jy bars uit jou rokkie uit.

My hond is geskeer en sy haartjies is blinksag. Jou hare lyk soos ‘n muisnes.

My hond is mooi van nature. Jou grimering is aangeplak met ‘n troffel.

My hond ruik na babasjampoe. Jy stink na sigaretrook en dassiepis-parfuum.

My hond het goeie maniere. Jy het nie.

My hond kan nie met ‘n mes en vurk eet nie. Jy ook nie.

Advertisements