Siembamba

Ons het uiteindelik kant en klaar ingetrek, wat beteken dat ons kon begin met die verkenning van ons nuwe woongebied. Ja, ja, ons was by die strand en het geswem en ons het super duper fotos geneem, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Heel eerste het ons die paar winkels gaan besoek, die wegneem-etes en gebak beproef, die kar laat was, ‘n vinnige draai gemaak by die kwekery en toe die winkel met tweedehandse goedere binnegeval. Net daar tussen die ou boeke, langspeelplate, cd’s en dvd’s het ons vasgehaak en lank gekuier.

Toe ek onverwags afkom op twee pragtig geïllustreerde Siembamba storieboekies, het sestig jaar se leeftyd in ‘n oomblik weggeval en ek was weer vyf jaar oud. Ongeduldig het ek in die sitkamer gestaan en trippel voor die ou Echo radiogram, wagtend dat my ma inskakel op Siembamba Storietyd wat elfuur in die oggend uitgesaai word.

“Kan dit ooit dieselfde stories wees waarna ek destyds geluister het”, het ek vlugtig gewonder; die datum van druk en uitgawe word immers voor in die boekies aangedui as 1985, ‘n skrale dertig jaar gelede. Ek het in elk geval my beursie uitgepluk en R2 per boekie betaal.

Terug by die huis het ek eers deur die boekies geblaai om die prente te bekyk. Daarna het ek die name van die stories gelees en gewèèt dat ek iewers in my lewe al hierdie stories gehoor of gelees het. Ek kan glad nie onthou dat ek die Siembamba reeks vir my kinders voorgelees of uitgeneem het by die biblioteek nie. Is dit wel moontlik dat dit dekades gelede se stories was wat in my kop vasgesteek het?

Die aand met bedtyd het ek so ewe my kindle opsygestoot en die storie van die drie goue granate gelees. Dit was bekend, ja, sò bekend. Ek moes lag oor die feit dat Koning Sugswaar meer as ‘n duisend kilometer te perd deur ‘n donker bos gery het met ‘n stukkie rou vleis om die heks se honger leeu te voer.  Hoe sou ‘n stukkie rou vleis gelyk (en geruik) het na al daardie weke in die saal? Dit was natuurlik grootmens-sinisme wat ‘n oomblik lank kop uitgesteek het, maar nie vir lank nie – die ou towerkrag van ‘n kinderstorie was nog daar.

My man sê dis nou alles goed en wel as ek laataand in die bed wil lê en giggel oor sprokies, maar hy sal regtig bekommerd raak as ek volgende keer by die huis kom met die Sub A leesboekie, Sus en Daan.