Dis nou tien dae na ons stappie daar in die Oribi Gorge waarvan ek vertel het in ‘n vorige blog en kyk hoe lyk my arme toonnaels soos ek gebriek het daar teen die hoogtes af. En nee, dis nie nuwerwetse naellak wat jy daar sien nie, net ‘n paar baie ongelukkige tone. Nie (meer) seer nie, net blou.

My poor toenails after suffering a grueling nine-kilometer hike

‘n Mens sou dink dat voorvalletjies soos hierdie ‘n goeie les sou wees vir ‘n vrou wat al aangestap het in jare om haarself te gedra volgens ouderdom, maar dit is nie die geval nie. Ons het al op vorige uitstappies ‘n paar noue ontkomings gehad, soos die dag wat ek amper rivier-af tot in die see gedryf het, maar ek wil nou graag eers vertel van ons gewoonte om op die treinspore te speel.

Net hier onder in die bosse, vooordat jy by die strand kom, moet jy eers oor ‘n treinspoor loop. Dit op sigself is nie ‘n probleem nie, want dis ‘n enkelspoor en die vragtrein loop net so twee of miskien drie keer ‘n week hier verby. Wanneer die riviere hulle water uitspoeg op die strand, is dit makliker om met die treinspoor langs te loop as strandlangs. Dis natuurlik amptelik nie toelaatbaar nie, maar die verskoning is “almal doen dit”. Die treindrywers ry maar stadig en hulle is gewoond aan voetgangers wat al met die spore langs loop, dus, as jy die trein op die spoor ontmoet, staan jy so effens opsy – daar is gewoonlik genoeg plek vir mens en trein.

Jy moet maar net jou oë en ore oophou vir aankomende treine. Die tweede groot gevaar op die spoor, en die een wat my eintlik bang maak, is die feit dat daar tussen die dwarsstawe en weerskante van die spore gruis gegooi word. Sou jy gly en val op daardie klippe, kom jy vanaand by die huis aan met jou nerwe wat wapper in die wind; dis nou as al jou bene heel bly. Die derde probleempie is dat slange, waarvan daar baie is hier rond, vreeslik graag daar tussen die spore lê en bak in die son. Tot dusver het ons nog net twee spoorlêertjies van die slanglike soort teëgekom, maar een daarvan was ‘n baba-nagaddertjie (is hulle dan nie veronderstel om in die nag rond te loop nie? en as ek mag vra, hoe naby was mamma-slang?).

Die modus operandi is dus om jou treë aan te pas sodat jy netjies op die dwarsstaaf trap, nadat jy seker gemaak het daar lê nie los klippies of los slangetjies op die staaf nie. Die probleem is dat die stawe nie altyd baie mooi gespasieer is nie en so in die loop moet jy jou treë rek of krimp. Dit alles beteken dat jy jou oë ten alle tye op jou blou toonnaels moet hou en jou ore moet spits vir die rammel van ‘n trein. Ons is eintlik al baie goed gekonfyt met hierdie manier van reis.

Walking along the railway line

Sowat drie weke gelede het die Mvusirivier uit sy nate gebars en dit gebeur baie min. Dis ‘n baie fatsoenlike rivier, nie so lyflastig soos die Mtwalumerivier net hier regs van ons nie. Kamera om die nek is ons dus strandlangs af na Ifafa se kant toe. Dis ‘n stappie van ongeveer vier kilometer en ‘n lekker koel bewolkte dag – net wat die dokter georder het.

Die fotos hier onder is van die strand se kant af geneem. Aan die anderkant van die treinbrug is daar ‘n groot stuk vleiland waar die water opdam voordat dit oorstoot na die see se kant toe. (Kliek op die fotos om groter weergawes te sien).

Toe kry ons die idee om teen die wal op te klim en fotos bo van die treinbrug af te neem. Ons het so om die beurt fotos geneem van die rivier, die oseaan, die vleilande met die hamerkoppe wat daar nesmaak, die eende op die rivier en natuurlik van mekaar ook. Ons moet darem mos kan bewys dat ons daar was.

Dié soort bedrywigheid trek natuurlik ‘n mens se aandag af van die minder belangrike dinge soos byvoorbeeld slange en treine. Nog erger, die dreuning van die golwe, die klofie waardeur die treinspoor met ‘n draai loop en die digte plantegroei het die klank van die aankomende trein gedemp. Dis eers toe die gruisklippies tussen die spore ‘n ritteldans begin uitvoer het, dat ons gewaar geword het van die gevaar wat dreig. Ons het soos ware naellopers laat spat na die bos se kant toe, met geen gedagte aan slange en ander ongediertes nie. Gelukkig het ons betyds van die spoor af padgegee en daar was nog tyd om fotos te kry (daar is altyd tyd vir fotos) en vriendelik vir die treindrywers gewaai. Hulle het nie baie vriendelik gelyk met ons nie.

Nadat die trein reeds verby was, het ons mekaar ietwat verskrik aangegluur (vertraagde skok), maar toe sien ons vir die eerste keer werklik die pragtige bospaadjie en omgewing waarin ons skuiling gesoek het. Natuurlik kon dit toe nie hoër of laer nie, ons moes gaan ondersoek instel.

Bush path through the dense growth next to the railway line

Dis ook net hier waar ons die spoor heeltemal byster geraak en ses kilometers later eers met sleeptonge by die huis aangekom het, maar daardie fotos bêre ek vir ‘n volgende blog.

Intussen, bloutoongroete en hou asseblief duim vas dat die toonnaels bly sit!