Na ons vorige besoek aan die Oribi Gorge (sien Jy beter suutjies trap) het ons net gewag vir ‘n verskoning om weer ‘n draai te gaan maak. Vrydagoggend se verskoning was dat ons die oefening nodig het en die son skyn … basta met die res. Dit het ons ongeveer twee minute geneem om die buurvrou (die eienaar van die vakansieoord hier) te oorreed dat sy ook oefening nodig het, newwermaaind die gaste wat in die namiddag sou arriveer en die inkopies wat nog gedoen moes word.

Om 10:30 vm was ons by die Hutted Camp waar ‘n vriendelike jongman vir ons die pad aangedui het. Met padkaart onder die arm, waterbottels in die rugsakke en kieries in die hand het ons begin voetslaan op die Mziki-wandelpaadjie wat ons na die Samango waterval sou lei. “Wandelpaadjie” is ietwat van ‘n wanbenaming in hierdie geval, soos wat ons gou genoeg agtergekom het – kyk net na daardie styl trappies! – en dit was ‘n taamlike rowwe wandeling van ongeveer 9 kilometer tot by die waterval en terug na die kamp toe.

Na ongeveer ‘n halfuur het ons by ‘n hoë rots vertoef om die uitsig oor die Gorge daar van bo af te bewonder. Doer onder in die kom loop die Umzimkulwanarivier sy eie pad.

Terug op die “wandelpaadjie” het nog meer trappies gewag en ek het die gevoel gekry dat ons dalk besig is met bergklim eerder as wandel. Dit het nou begin warm raak, maar ons was nog vol lewe en het so sing-sing voortgestap, terwyl Karen so elke nou en dan stilgestaan het om insekte, reptiele, wurms, besies en ander ongediertes af te neem. Die blouwildebeeskalfie was vir ons ‘n groot verrassing.

Net so skuins na middagete het ons die eerste keer die rivier gesien en ons kon die waterval hoor loop.

Die waterval self was ietwat van ‘n teleurstelling, hoewel ons vooraf geweet het dat die rivier se watervlak baie laag is. Dit was heerlik koel onder die bome en ek het gewens ons kon daar swem, maar ons is gewaarsku om nie met die water in aanraking te kom nie, om besmetting met bilharzia te vermy.

Ons het om die beurt vir die nodige fotos geposeer, wat beteken het dat ons een-vir-een soos bergbokke teen die rotse moes uitklim om aanraking met die water te vermy. Dis toe nou net hier waar dinge begin skeefloop, want terwyl ek daar bo vir die kamera gestaan en grinnik het, het my oog ‘n plaat speldekussings in blom gevang, daar aan die anderkant van die rivier. En natuurlik toe moes ons teen nog ‘n hoogte uitklim om te sien wat aan die aanderkant aangaan. Nuuskierigheid het my vantevore al duur te staan gekom.

Dit was die lieflikste uitsig daar van bo af en ons het onsself verwonder, totdat die besef by ons deurgedring het dat ons dalk nou ietwat afgedwaal het van die Mkize-wandelpad. Daaroor het ons geen sekerheid gehad nie, maar om weer die hoogtes en laagtes aan te durf deur met dieselfde pad terug te loop kamp toe, het ons nie juis aangestaan nie. Vorentoe dus, want ons kon beide die rivierloop en die teerpad onder in die kom sien, asook die bruggie waar die padkaart ‘n dagkamp aangedui het. Ons sou met die teerpad langs terug kon stap na die hoofkamp. Die bospaadjie reguit af dan, hoewel dit sou beteken dat ons in digte bome en plantegroei moes stap, maar dit kon nie te erg wees nie … of kon dit?

Dit was hel, glo my. Teen hierdie tyd was ons al redelik moeg en ons kon nie stilstaan nie, want die muskiete het ons met mening aangeval ten spyte van die afwerende room wat net gestink het, maar niks anders gedoen het om die muskiete weg te dryf nie. Daar was wel kliptrappies gepak, maar ons het by tye bo-oor stompe geklim of onderdeur gekruip, sommige tye loodreg af daar na waar ons geweet het die einde van die aarde was. Ten spyte van die gevaar van slange wat baie werklik is in hierdie area, het ek my stewels uitgetrek, want hoe verder ons afgeklim het, hoe warmer het dit geraak. My arme tone is vandag (drie dae later) nog steeds koeëlrond opgeswel en geneus omdat ek vir amper twee ure op die punte van my tone moes loop.

Naderhand was my bene so moeg dat alle kommunikasie met my brein verbreek is. My dogter het my gehelp om van klip tot klip te spring en dat haar skouer nie in die proses uit potjie geruk is nie, is ‘n wonderwerk op sigself.

Die ergste was dat ons so diep in die boswêreld was en dat ons gevaar geloop het om die oorgroeide paadjie mis te kyk. Ons moes dus voortdurend luister vir die geluid van die water in die rivier en die enkele motors wat op die teerpad verbygery het, om rigting te hou. Ons water het begin opraak en ons was nou reeds twee ure lank in die bos. So wat doen jy onder sulke sulke omstandighede? Jy bid. Daar sit ons toe ingeryg op ‘n klip: die buurvrou, ‘n diepgelowige Moslem, my dogter wat haar Christelike godsdiens baie privaat beoefen en ek wat my heil soek in die natuur eerder as in ‘n kerk of dogmatiese godsdiens … en almal van ons vra vir beskerming en ‘n veilige tuiskoms.

Toe trek ek my skoene aan en ons vat die pad. Kort daarna was ons by die brug en my dogter het vir oulaas fotos geneem van haar gehawende ma wat die laaste hang-aan-‘n-boom-en-spring-af oefening doen tot onder. Op die laaste foto staan ons in die teerpad en kyk na die kranse bo ons waarvandaan ons gekom het.

Daarvandandaan is ons oor die bruggie na die dagkamp toe om te gaan kyk of daar dalk piekniekgangers was wat ons ‘n saamrygeleentheid sou kon aanbied na die hoofkamp toe, andersins sou ons nog vier kilometer padlangs moes stap. Buitendien was ons water op en en tot ons ontsteltenis is al die krane by die dagkamp gemerk as “nie geskik vir menslike gebruik nie”.

Intussen het ‘n engel wel oor ons gewaak, in die vorm van die vriendelike jong bewaarder by die hoofkamp met wie ons gepraat het by ons aankoms. Hy het begin bekommerd raak toe ons teen drie-uur nog nie terug was by die kamp nie en het vir almal wat daar verbygery het gevra om op die uitkyk te wees vir die drie vroue wat gaan stap het en al baie lank weg is. Dit is hoe dit gebeur het dat ‘n toeris op besoek van die buiteland ons opgelaai het daar by die piekniekarea en met ons teruggery het na die hoofkamp toe. Die bewaarder was baie verlig om ons te sien.

‘n Halfuur later was ons in Port Shepstone, besig om inkopies te doen en melkskommels te drink. Die Kaap was weer Hollands en ons is al klaar weer besig om die volgende uitstappie te beplan.


Met dank aan die barmhartige toeris wat nog genoeg vertroue in sy medemens gehad het om ons op te laai en nooit laat blyk het dat hy dink ons is ietwat onnosel om so te verdwaal nie. Dankie ook aan die jong bewaarder en ek sou graag vir die mama van Zoeloeland wat hom grootgemaak het wou sê: “Jy het goeie werk gedoen. Jy het ‘n pragtige kind. Jy kan met reg trots wees op hom”.

 

 

 

 

Advertisements