Ek het al by vorige geleenthede geskryf oor ons gesukkel om vars groente en slaaie op ons borde te kry (Ek is deur die blare en Veggies), maar hierdie onderwerp bly ‘n teer punt. Groente is duur en ons moet ver ry om dit te gaan koop.

Daar is eerstens die probleem van die ongenooide gaste wat ons groente uit die tuin steel en daar is veral die een wat niks daarvan dink om vrugte en brood uit die kombuis te steel en dan uit te deel nie; dis nou nadat hy die tamaties in die tuin gestroop het.

Die tuin op die balkon het ‘n bietjie beter gevaar, omdat ons ‘n ogie daar kon hou. Ons maak ons eie bokashi-kompos uit kombuisafval en dit is ‘n groot sukses. Die twee drommetjies neem min plek op, ons het nie probleme met afvalkos nie, want jy kan selfs oorskiet gekookte kos invoeg en die kompos is van uitstekende gehalte (lees meer hieroor by http://earthprobiotic.co.za). Karen meng dit met gewone tuingrond en stop die mengsel in hessian voersakke. Dan maak sy gaatjies bo in die sakke en daarin word die plantjies dan oorgeplant wanneer hulle sterk genoeg is.

Die ou plantjies is vertroetel en opgepas en dit het lank goed gegaan … totdat dit op ‘n dag nie meer goed gegaan het nie.

Die blomkool wat heengegaan het, was vir Karen nou net eenmaal te erg en daar moes ‘n plan gemaak word.

Onder by die rivier lê daar letterlik duisende riete wat met die laaste groot storm rivier-af gewas is en ons het ‘n paar bondels daarvan gaan optel. Die riete is gemeet en gepas en die raamwerk is aanmekaar gesit met repe wat uit plastiek-inkopiesakke gesny is. Daarvan het ons ook ‘n oordosis in hierdie huis, die plastieksakke bedoel ek, want elke keer as ons winkel toe gaan, bly die plastiesakke wat bedoel was vir hergebruik vergete op die kombuistafel lê saam met die inkopielysie. Deur dit te gebruik vir die “aapkas”, het sy dus twee vlieë met een klap doodgeslaan. Die fotos hieronder wys die eerste klaargemaakte raam en ‘n en nog een in wording.

Slim nè? Geen aap gaan daardie tamaties en blomkole bykom nie. Wanneer dit tyd is om nat te lei, lig jy net die raam op. Die groenteboer het ‘n plan gemaak en die groente is veilig.

Vanoggend sit ons die besigheid so en beskou, baie ingenome met die verloop van sake, toe daag daar weer besoekers op: ‘n klompie vinke wat hulle bes doen om die plastieksakke uitmekaar te ruk (hulle is besig om nes te maak hier onder by die dam) en ‘n spreeu-egpaartjie wat hulle bes probeer om deur die skrefies tussen die riete te kruip agter die tamaties …

Hierdie storie mag dalk vervolg.