Voordat ek nou begin met ‘n langdradige storie, wil ek darem die bloggers herinner aan hoe die omgewing waarin ons woon, gewoonlik lyk. Let op die kalm vloei van die rivier, die stil water in die lagoon, die skoon strook sand tussen strand en lagoon, en die uitnodiging van stil water in die getypoel. Paradys.

Ongelukkig kan dinge vinnig verander en Maandagaand het ons die storm van alle storms hier beleef. Aan die wind het ons al gewoond geraak en ons ken van lekker swaar reënbuie en donderweer, asook woeste branders wat op die strand klap en ruis, maar Maandagaand het al hierdie elemente gekombineer om ons klomp (gewese) binnelanders groot skrik op die lyf te jaag.

Die wind het het onverwags van die suidekant af begin woed, die reën is neergelaat by die dromvol en die lawaai van die see se kant af het benoude oomblikke besorg. Binne die huis hoog op die koppie het dit nie beter gegaan nie – die wind het die water so van onder af geskep en by die (toe) staaldeur- en vensterrame inforseer. Ons beste pogings om die vloed in die huis te keer, het ons nog steeds met nat voete gelaat en ons moes tydelik na hoër, droër gebiede ontruim.

Floors under water

Dinsdagoggend het dit steeds gereën, maar ons het deur waterpoele en moddergate gestrompel om te kyk wat op die strand aangaan. Hierdie fotos wys hoe die Mtwalumeriver afgekom en die water in die lagoon saamgesleur het, deur die sandstrook waar ons dikwels rondloop of in die son lê, tot in die oseaan wat minder vriendelik was as gewoonlik.

Die eerste foto is van die oord aan die onderkant van die heuwel se “garden pond” wat skielik ontaard het in ‘n rivier. Die ander fotos is op Elysiumstrand geneem (die deel wat toeganklik was)

Woensdag het ons by die hospitaal deurgebring, waar die man van die huis opgeneem is en nog steeds verkeer, dus kon ons eers Donderdag na die Mtwalumestrand gaan kyk.

Die eerste foto wys die getypoel waarin ons liewer nie op die oomblik sal swem nie; jy weet nooit wie het van die see se kant af oor die wal tot in die poel geswem nie!

Die vermoede is dat meeste van die opdrifsels en gemors met die rivier afgevoer is strand toe.

Die orde in die huis op die heuwel is herstel, die water weggedroog en die nat handdoeke, gordyne en matte is droog.

O ja, en laat dit bekend gemaak word: Beide Telkom en ESKOM het sonder onderbreking voortgegaan met gewaardeerde werkverrigting. Dis sowaar ‘n rekord.