Hoe weet ‘n mens wanneer jy oud word? Jy weet presies hoe gefosilleerd jy reeds is wanneer onverwagse kleinighede op jou pad jou laat terugdink aan dinge wat dekades gelede gebeur het en diep begrawe was in jou geheue. Nie net bly dit by die herinnering nie, maar daar kom ook altyd ‘n storie daarmee saam.

Dis my persoonlike mening, die geleerdes hoef nie hulle koppe te skud nie.

Vandag se gebeure: Ons het teen ‘n stink spoed met die N2 langs gery, toe my dogter skielik skreeu: “Bok! Bok!” en net daar gooi die swart karretjie ankers, reg langs die hoofweg op die skouer van die pad, net so binne die geel lyn. Moet tog nie die padpolisie hiervan vertel nie asseblief; daar is reeds genoeg fotos van die swart karretjie in hulle rekords. Die feit dat die taxis dit ook doen, tel geen gewig by hierdie dienaars van die gereg nie.

Hier in die Konkryk van Zululand, sien jy heel dikwels skape, bokke en beeste wei langs die grootpad. Hondmak staan hulle daar, vasgemaak aan hulle leirieme, al kouende aan grashalms en knip nie eens ‘n oog wanneer die swart karretjie net ‘n tree van hulle af verbyskiet (en soms stilhou vir ‘n foto) nie. Kyk nou mooi na die foto hieronder – die teerstrook daar onder regs is die buitenste rand van die grootpad se skouer, net so links van die geel lyn.

Goat grazing next to the N2 freeway KZN

Bekyk hom nou van naderby. Hoe kan jy nie hierdie gevreetjie waardeer nie?

Goat next to the N2 freeway KZN

… en die storie(s) wat daarmee saamgaan: Toe ek nou die foto so sit en bekyk, hol my gedagtes terug op ver paaie.

Die eerste gedagte was aan die speletjie wat ons so graag by die laerskool gespeel het: bok, bok, staan styf, hoeveel vingers op jou lyf? het ons die hele langpouse gedreunsing, terwyl ons gehardloop en wydsbeen oor die “bok” se rug gespring het. Met vlieënde vlegsels en geplooide navy blue jumpers wat ons navy blue bloemertjies tentoongestel het, het ons gespring totdat ons gô uit was.As ek dit deesdae moet doen, sal my gebeendere bly lê wanneer my lyf opstaan. Hoeveel mense onthou nog hierdie speletjie?

Die tweede herinnering was aan die dag toe ek en my (toe aanstaande) man ‘n besoek aan die Pretoriase dieretuin gebring het. Daar was ook ‘n bok met so ‘n kenbaardjie. Ek kan nou nie sê of dit ‘n boerbok was of dalk ‘n uitlandse soort bok nie, maar ek onthou wel die kenbaardjie wat so heen en weer gewikkel het soos wat sy eienaar, al kouende aan ‘n grashalmpie, die groep mense aan die buitekant van die draadhok kalmpies bekyk het. Skielik haak die (toe aanstaande) man af en sê kliphard: “Haai kyk, daar is Dr. Hertzog ook!”

Daar was eers so ‘n doodse stile en ek het benoud rondgekyk om te bepaal hoeveel HNP-aanhangers in die bondel mense staan, ook maar banggat en gereed om te vlug, want daardie dae was politiek ‘n ernstige aangeleentheid wat met die nodige respek en waardigheid behandel is. Toe lag eers een en later al wat mens is, terwyl ek staan en bloos oor al die aandag wat skielik op ons toegespits is. Ek was toe nog ordentlik en het gebloos wanneer vreemde mense na my gekyk het.

Sien jy nou waar ‘n bejaarde ou vrou se gedagtes kan gaan draai by die aanblik van so ‘n pragstuk van ‘n jong bok? En … ek bloos nie eens nie.

.

 

Advertisements