Bite.jpg

Scrapy se Toeka-Tokkel 26 handel oor ‘n byt wat jy sal onthou. Ek kan ‘n paar daarvan altyd onthou, maar nie omdat dit my persoonlik getref het nie. Gelukkig. Dis meer ‘n assosiasie, soos wat net die gedagte aan passion fruit & lemonade my onmiddellik laat gryp na ‘n bottel Eno vrugtesout.

Nee die byt wat ek van toentertyd af in gedagte gehad het, was die sogenaamde love bite, of soos wat die Amerikaners dit noem en definieer, ‘n hickey – a bruise caused by sucking or aggressively kissing another person’s flesh.

Daar in die 50’s en 60’s was die hickey (gewoonlik in die nek waar almal dit kon waarneem), ‘n teken daarvan dat (1) jy daarin geslaag het om ‘n kêrel te vang en (2) presies geweet het wat tussen ‘n meisie en haar kêrel gebeur wanneer die opsitkers se vlam laag begin brand het. Onthou julle nog die dialoog tussen die karakters Rizzo en Kenickie in die rolprent Grease wat in daardie era afgespeel het:

Rizzo: “I got so many hickeys people are starting to think I’m a leper.”

Kenickie: “Hey, cheer up! A hickey from Kenickie is like a Hallmark card when you care enough to send the very best.” So … hy het haar iets gegee wat sy moes waardeer? En waarop sy trots moes wees?

Daar was wel gedurende my skooljare so hier en daar ‘n skooldogter wat haar hickeys trots tentoongestel het. Ek het ook in ‘n fluister-skindersessie verneem dat hierdie effek verkry kan word deur die gebruik van ‘n stofsuier se pyp teen die nek: “Nothing sucks like Electrolux”.

Ek was nooit heeltemal oortuig van die belang of gewenstheid van die hickey-praktyk nie. Een rede hiervoor was heelwaarskynlik dat my pa my sitvlak se velle sou afgetrek het as hy dit gesien het. Die ander rede was dat ek van hickeys bewus geword het om en by dieselfde tyd wat ek kennis gemaak het met Count Dracula se rolprente. Ek het nog altyd gely aan ‘n ooraktiewe verbeelding en net die gedagte aan vampiere (bloedsuiers!) het my nagmerries besorg.

Dit was dus die redes waarom ek nooit heeltemal gemaklik gevoel het met ‘n mond en ‘n stel tande so naby my nekslagaar nie. Enige voornemende seunsvriend is sommer baie vinnig op die hoogte van my stel waardes gebring: “Ek laat nie aan my byt nie! Ek is ook nie ‘n Wilson toffie waaraan jy kan suig nie!” Menige kys het as gevolg hiervan gesneuwel nog voor dit van die grond af kon kom, maar nouja, ek het darem ook met ‘n ongeskonde vel aan die ander kant uitgekom.

Advertisements