Sleutelwoorde

, , ,

Toeka Tokkel 24: Winter

Ek en Frannie gesels so nou en dan op ons blogs oor die plekke langs die Suidkus waar sy in haar kinderjare vakansie gehou het. Frannie sê dat Hibberdene vir haar besondere herinneringe inhou. Ek kan natuurlik elke dag, die hele liewe dag lank, gesels oor die see en die strande as iemand my die verskoning bied, maar hierdie keer is dit regtig Frannie se skuld dat ek nou weer eens strand-fotos op my blog gaan laai 😀

Ons is elke dag op die strand, maak nie saak hoe die weer lyk nie, want ek moet terwille van die liewe gesondheid elke dag so ‘n kilometer of drie stap. Om met die teerstraat af te loop, doen niks vir my gemoed nie, dus is dit strand toe, al gaan ons met reënjassies, watersteweltjies en gebreide mussies. (Ja, ek gebruik verkleinwoorde … om die impak van die winter op my emosies te probeer bekamp).

Verlede week Vrydag egter, het ons onverwags een van daardie heerlike somersdae in die middel van ‘n koue, windverwaaide winter gehad. Ons was vir ‘n vinnige heen-en-weertjie Hibberdene toe vir inkopies. Van die winkels af is dit net so ‘n spoeg ver tot op die strand. Wat eienaadig is, is dat ons in die agtien maande wat ons reeds hier woon, by amper elke strand langs die Suidkus vertoef het, net Hibberdene het nog nooit ‘n beurt gehad nie.Vir ons was dit altyd net die dorp met die winkels en die apteek.

Wag, ek moet nou eers myself in die rede val en die storie aanhaal wat my man so graag vertel van ‘n kollega wat desjare saam met hom gewerk het. Hulle het elke jaar Hibberdene toe gekom vir die skoolvakansie en sy het nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om te spog oor haar seevakansies nie. Maar, sê hy, sy kon dit nou regtig aanplak: sy het nooit sommer net “Hibberdene” gesê nie, nee sy het gepraat van H-asemteugie-ibber-spasie-die..ENE, met so ‘n draai en ‘n aksent op die laaste lettergreep. Dus, wanneer ek en my dogter ons weeklikse inkopies op daardie dorpie gaan doen, ry ons nou deesdae ook “H.ghie.ibber.die.ENE” toe.

Hierdie keer het ons die inkopies op dubbelspoed afgehandel om gou ‘n draai by die strand te maak. En watter aangename verassing was Hibberdene strand nie vir ons nie. Ons het lank na middagete eers weer by die huis opgedaag, met ‘n kamera vol fotos en sonder brood of melk; laasgenoemde het sommer vergete gebly in die haas om op die strand te kom.

Ek hoop julle geniet die fotos.

 

 

Advertisements