English version here

Butterfly

Kort voor lank het die dag aangebreek dat ek myself moes aanmeld by die onkologie-afdeling vir my eerste chemo-sessie. Die onkoloog het voorgestel dat ek die behandelings op ‘n Donderdag sou ontvang, wat beteken het dat ek darem ‘n periode van drie dae oor die naweek sou hê om te herstel voordat ek Maandag weer moes begin werk. Gewapen met ‘n pakkie neute, ‘n bottel koeldrank en ‘n boek het ek by die bloedstasie opgedaag waar Suster Vampier voor elke behandeling bloed moes trek en dan die naald vir die binneaarse drup insit.

Ek het uit dure ondervinding geweet dat daar geen vrygewige aar in die waai van my arm te vinde is nie, maak nie saak hoe styf jy die toerniket trek of hoe energiek ek my vuis oop en toe maak om die are op te pomp nie. Die enigste are wat bereid is om saam te werk, is geleë aan die bokant van my hand. Dit is seerder as gewoonlik as die naald daar ingesit word, maar dis verkieslik bo die tref-en-trap prosedures wat my vel vol blou kolle gelaat het. Geneeskundiges se koppe is egter geprogrammeer met die ek-weet-beter-ignoreer-die-pasiënt-sagteware en ek het elke keer ‘n paar lelike swetswoorde kwytgeraak voordat ek en Suster Vampier tot ‘n ooreenkoms kon kom. Ongelukkig het die wet van gemiddeldes bepaal dat ‘n ander vampier aan diens sou wees met elke behandeling en dan moes ek die opvoedingsproses herhaal.

Nadat die bloedtelling bevredigend verklaar is, is ek in my gemaklike leerstoel sitgemaak en drie sakkies vol vloeistof is bo my kop aan ‘n haak gehang. Ek is ingelig dat die toediening van die chemiese middels ongeveer twee ure per sessie sou duur. Ek het nooit sover gekom om my boek te lees nie en het maar my net oë toegemaak om so deur my wimpers vir die ander pasiënte te loer. Hulle was al mooi gekonfyt in die storie en het rustig gesit en koerant lees, brei- of hekelwerke uitgehaal of met mekaar gesels. Dit was skynbaar net ek wat letterlik my tong moes vasbyt om die inhoud van my maag binne te hou.

Later die aand het die naarheid toegeslaan. Ek en Ollie, die vet kat, het vroeg in die bed gekruip en ek het deur die nag geslaap, net om die volgende dag nog sieker te voel. Teen Saterdagoggend het ek myself uit die bed gesleep om ‘n sigaret te gaan rook. Wonderlik wat daardie eerste sigaret na ‘n periode van weerhouding vir ‘n roker beteken; ek het sommer dadelik beter gevoel.

Die Maandagoggend is ek terug werk toe. Na ‘n paar dae het ek regtig goed gevoel en hoewel ek so nou en dan ‘n paar los hare op my kussing gesien het, het dit my nie vreeslik gepla nie. Ek het ‘n dik bos hare gehad en kon bekostig om ‘n paar te verloor; of so het ek gedink totdat iemand by die werk my eendag ingelig het: “You are shedding like a dog.” Dit was tyd om my hare te sny.

Ek is vooraf gewaarsku dat my hare sou uitval en die onkoloog het gesê dit sal minder traumaties wees vir my as ek dit liewer voor die tyd afskeer. Ek wou darem nie so ver gaan nie en het net die haarkapper gevra om dit baie kort te sny. Natuurlik was hy verbaas en het gevra wat die rede is agter die versoek. Ek het nie ‘n goeie verskoning byderhand gehad nie en het maar vertel van die mastektomie en die chemo. Dis toe dat hy in detail vir my vertel hoe sy tannie swaargekry het gedurende haar behandeling vir borskanker, hoe geel en deurskynend haar vel geword het, hoeveel pyn sy verduur het … bla-bla-bla totdat sy dood is en die storie genadiglik ‘n einde gekry het.

Ek kon gerus sy strot uitruk. Dis presies die reaksie waarvoor ek van die begin af bang was en die rede waarom ek nie lus was om my toestand met enigiemand te bespreek nie. Op daardie stadium was my simpatie-battery pap en my meelewings-tenk leeg. Ek het skaars genoeg entoesiasme gehad om myself jammer te kry en dit was makliker om te ontken dat daar enigiets verkeerd was. My houding het natuurlik niks daartoe bygedra om die lewe vir myself makliker te maak nie.

Na my tweede chemo-sessie het ek en Oliver onmiddellik bed toe gegaan. Ek was naar en baie siek. Twee dae later het ek vroeg opgestaan om te gaan stort, want my vel, slaapklere en beddegoed was deurtrek met die skerp reuk van die medikasie. Ek het die stortkraan oopgedraai en die reuk van die sjampoe wat ek in my hare gevryf het, het amper my asem weggeslaan; dit het geruik soos ‘n mengsel van bleik- en ontsmettingsmiddels.. Ek het my neus toegedruk tussen duim en wysvinger en die stortkrane heeltemal oopgedraai. Vir ‘n minuut of twee het ek net daar gestaan en die warm strale water oor my vel geniet, totdat ek skielik agtergekom het dat iets verkeerd is: die water het dik en slymerig gevoel en begin opstoop  rondom my voete. Ek het afgekyk en ‘n see van hare gesien. ‘n Vinnige vryf oor my kop het bevestig wat ek onmiddellik vermoed het – al my hare het op een slag uitgeval.

Ek het uit die stort geklim, afgedroog en effe verdwaas sitkamer toe geloop waar my twee kinders besig was om televisie te kyk. Een kyk na my gesig – of was dit dalk my poenskop? – was genoeg om hulle te vertel wat gebeur het. My seun het my by die tafel laat sit waar hy die laaste klossies hare verwyder het met ‘n elektriese skeerder. Karen het verdwyn om die stort en my kamer te gaan skoonmaak.

Ek het ‘n sigaret opgesteek en ietwat beter gevoel. Toe tref die volle omvang van die gebeure my: ek het tot dusver geen poging aangewend om ‘n pruik of enige ander hoofbedekking aan te skaf nie. Ek het werklik nie verwag om oornag al my hare te verloor nie en het gemeen dit sou ‘n geleidelike proses wees. Daar was mos nog tyd, nie waar nie? Verkeerd. Dit was nou reeds Saterdagmiddag en die winkels was toe.

++++

Maandagoggend. Ek sou vanoggend sonder ‘n haar op my kop en met my arms vol blou kolle (komplimente van Suster Vampier) by die werk moes opdaag vir daardie belangrike vergadering. Slegs ‘n handvol mense het tot dusver geweet dat ek behandel word vir kanker; voor die einde van die dag sou honderde mense op die kampus dit weet. Om kanker te hê, was dieselfde as om swanger te wees; jy kan dit nie wegsteek nie. Ek sou op daardie oomblik swangerskap verkies het, was my effe histeriese gedagte.

Net voordat ek werk toe is, het Karen by my kamer ingeloop met so ‘n byderwetse swart angorahaar hoedjie wat destyds so gewild was onder die modebewuste tieners. Sy het die hoedjie opgekikker met ‘n haarknippie, ‘n vlindertjie waarvan die vlerkies liggies gebewe het elke keer as jy jou kop beweeg. ‘n Uur later het ek windmakerig met my “vlieënde vlindertjie” by die werk opgedaag, tot groot vermaak van my kollegas.

Ek het toe nooit ‘n pruik gekry nie en die vlindertjie het vir die volgende ses maande vrolik op en af gewip op my hoed.

Advertisements