Images For > Nice Old Lady Cartoon

 

Ek is ‘n ou tannie met ‘n vieslike humeur en baie slegte maniere. Dis al. Sorrie. Nee, nou lieg ek ook sommer, ek is gan niks sorrie nie. Ek gaan nou ‘n bietjie lelik praat oor die urine van ‘n dassie, oftewel, ‘n Rock Hyrax in Engels.

Daar is twee dinge waaraan ek ‘n absolute hekel het en een daarvan is mense wat dieselfde vraag oor en oor vra. Die ander ding wat my so omkrap, is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ek het ‘n hele ruk terug al geskryf oor die google search terms wat klokslag op my blog opduik. So het ek byvoorbeeld ‘n blog geskryf met die titel van Om te hond of nie te hond nie waarin ek geskimp het op ‘n ander simpel ou vrou wie se parfuum gestink het soos dassiepis. Nou kry ek al om die ander dag iemand wat, met komplimente van google, hier op my blog opdaag om te kom vra “waarvoor word dassiepis gebruik?” of “waarvoor is dassiepis goed?” of “is dit waar dat dassiepis ‘n vrou vrugbaar maak?”.

Nou – my oorwoë mening was nog altyd net dit: Dassiepis stink. Dis al. Dit Stink. Vreeslik. Maar ek het dieselfde ding gedink van kakiebos (Tagetes minuta as jy nou fênsie wil wees). Toe, so twee dekades gelede het ‘n boer daar van die Noord-Kaap ons genader om hom te help met die uitvoer van kakiebos. Uitvoer? Waarheen voer ‘n mens sulke stinkende onkruid uit? Frankryk toe, waar hulle dit gebruik in die parfuum-industrie. Die Franse gebruik die kakiebos se essensiële olie-tagette oor die olie daarin wat so vasklou, sien? Dan haal die Franse die stink uit en voeg die olie by die parfuum sodat die lekker reuk kan vasklou aan die vrou se polse en ander plekke wat lekker moet ruik.

So, nè, toe ek nou so aanhoudend die navrae sien oor die dassiepis, toe spring ek op die google-trein en so wragtig: dassiepis word gebruik om parfuum te maak. Dit word ook gebruik vir medikasie vir die voorkoming van epilepsie. Loop lees dit maar self op google – soek vir Hyraceum Dassiepis (dis nie ek wat so lelik praat nie, dis die naam waaronder dit bemark word). Dis vrek duur ook, want dit neem glo ‘n honderd jaar om ‘n soliede massa te vorm wat dan in poeiervorm verkoop word. Loop lees dit maar self. Ek wonder nou ook hoeveel dassies moet nou op dieselfde plek pis vir een honderd jaar lank om genoeg klipfossiele te vorm om parfuum te maak. Nou begin ek ook wonder oor die duur parfuum wat my dogter vir my gekoop het.

Maar in elk geval, om die storie af te sluit, moet ek nou erken (want ek is die eerlike onbeskofte soort): dassiepis stink, ja, maar dis nie al nie. Dis by verre nie al nie.

Image compliments of ClipArts