Discover Challenge: Song

Mrs. Google has provided me with a definition of an earworm – a song stuck in your head that you can’t get out.

In Afrikaans sal ons dit dan seker vertaal as ‘n oorwurm. Julle weet nou waarvan ek praat – daardie liedjie wat bly draai in jou kop en waarvan jy nie ontslae kan raak nie.

Die storie met die oorwurm het verlede week begin toe ons inkopies gaan doen het by die Bargain Store (die groothandelaar wat onder meer aan plaaslike plaza shops voorsien). Dis die enigste winkel waar ek in grootmaat niekerbôls, Wilson toffies en Marie Biscuits kan koop. Ja, en dan kan ek sommer petrol ook ingooi.

Dis nou toe met die petrol-ingooiery wat ek sit en rondkyk en daar reg langs die grensdraad sien ek toe hierdie jaarthoenders, die spoggerige haan en sy onderdanige hennetjie, wat daar in die stof loop en skrop vir iets te ete. Net in daardie periode wat ek my selfoon gegryp en die foto hieronder geneem het, kom die oorwurm my toe by. (Vir die rekord, daar was nie eens ‘n kerktoring in die omtrek nie).

Ek het nou al alle boererate probeer: ‘n ander liedjie probeer sing, my maaltafels opgesê, die alfabet van voor na agter en toe van agter af vorentoe opgesê, maar niks help nie. Ek hou aan met sing oor die hoender wat die eier nie kan lê nie. Dis so ‘n catchy tune, luister maar self. As enigiemand weet hoe om die verdomde wurm uit my kop te kry, laat weet tog asseblief.

Hoenderhaan en -hen