Ou Jaco,

Kyk mooi na hierdie selfoon sodat jy nou my storie mooi kan verstaan. Dis nie my selfoon hierdie nie; myne lê iewers, miskien in my motor, dalk in my handsak, maar hy lyk soos hierdie een en dis wat belangrik is.

 

selfoon

My selfoon se battery is heelwaarskynlik pap. Dis maar oukei, want ek hou nie ‘n selfoon aan sodat jy en ander poepholle my na willekeur kan bel nie. Ek hou ‘n selfoon aan sodat ek hom kan saamvat wanneer ek weg is van my huis af, net in geval van nood. Dis wat belangrik is.

Wanneer ek nie die foon nodig het vir moontlike noodgevalle nie, dan lê hy nou maar rond soos my bont hond. As ek my foon wil laat rondlê met ‘n pap battery, is dit nou maar my saak. Ek kan hom wel opspoor wanneer nodig en sy battery laai en hom dan in my gatsak druk om saam te dra. Dit doen ek so een keer ‘n week, mits dit nodig is vir my gerief en vir noodgevalle. MY gerief, dit is wat belangrik is.

Soms mis ek ‘n oproep, soos wat ek jou baie belangrike oproep Saterdag gemis het. Belangrik vir jou, nie vir my nie. Sondagaand het ek die selfoon uit my bedkassie se laai gegrawe en die battery gelaai, omdat ek Maandag ver moes ry om ‘n kliënt te gaan sien. Wanneer ek op die pad is, wil ek kontak behou met my huisgesin. want dis belangrik vir my, sien?

Dis toe dat ek die missed call van ‘n vreemde telefoonnommer raaksien, asook ‘n voice message kry wat my gebied (nie versoek nie – gebied) om onmiddellik terug te skakel in verband met my masjien wat by die jou besigheid staan en waarvan die operateur nie werk nie. Ek het teruggeskakel; ek doen dit gewoonlik nie, maar in hierdie geval het die saak so dringend voorgekom dat ek gemeen het die masjien ter sprake is dalk ‘n hart-long-masjien of so iets. Sulke goed is belangrik.

Ek het nou nie juis verwag dat jy my skriftelik moet bedank vir my poging om te help nie, maar wat ek beslis ook nie verwag het nie, ou Jaco, is hierdie onbeskofte vent aan die anderkant wat my van ‘n dizzy height af uitkak omdat die call al twee dae lank nie beantwoord word nie. Die call moes baie belangrik gewees het – vir jou, nie vir my nie. Vir my was dit van geen belang nie. Wat wel van belang is, is dat jy ‘n verkeerde nommer gebel het en toe jou slegte humeur op my uitgehaal het.

Maar laat my toe om vir jou te vertel dat ek hoop dat jou ma op een of ander wonderbaarlike manier hierdie blog sal lees en dat sy haar gat af sal skaam vir die swak opvoeding wat sy haar seun gegee het. Goeie maniere is belangrik.

Hier is nog ‘n belanrike stukkie nuus vir jou: ek het ‘n 1000 (lees een-duisend) minute praattyd op my selfoon. Kyk nou mooi na hierdie foon. Wanneer ek weer by daardie winkelsentrum verbyry, gaan ek my soortgelyke foon vat en sy vibration and automatic reply call setting aanskakel. Dan gaan ek die foon in jou gat opdruk en ek gaan myself bel, elke vyf minute, totdat ek al een-duisend minute opgebel het of totdat jy maniere geleer het, whichever comes first (pun intended). Dit sal my humeur laat bedaar en dit is wat belangrik is.