Skeleton

“Ag nee, ffs “, sê my man wat aljimmer ‘n stuiwer het om in die armbeurs te gooi, “hierdie Amerikaanse politiek is nou besig om te ontaard in ‘n sirkus. Die enigste verskil is dat ‘n sirkus ‘n hoogs georganiseerde bedryf is. O ja, en moenie vergeet nie, g’n sirkus sal hom ophou met so ‘n ou klomp geriatriese narre nie. As hulle oor hulle eie voete val, sal jy ‘n oorverdowene gekraak van heupbene hoor”.

Ek is nou nie iemand wat my ophou met politiek nie, maar sodra iemand sy groot mond rek oor ouderdom en senior burgers, staan my ore onmiddellik op aandag. Natuurlik spring ek onmiddellik op Dr Google om te verneem waaroor die man praat, en wragtag, die kandidaat-presidente sal geen probleem hê met ‘n aansoek vir verblyf in ‘n ouetehuis nie. Bernie is 74, Donald 69 en Hillary 68. Sjoe! Die uittredene president is dan nou maar eers 56.

“Dit wys jou net”, sê ek vir my man. “Wat wys dit?” vra hy nog voordat ek kan verduidelik ougoed is hougoed … of so iets; ek kan nou nie eintlik onthou wat my oorspronklike argument veronderstel was om te wees nie. “Wys dit dat dalk die ouetehuise gaan leegloop; dat alle oumense nou Parlement toe gaan?” Nou nie presies so daaraan gedink nie, maar dit mag dalk ‘n goeie idee wees. Die ‘jongeres’ (onder 60) kan hulle basse lig en gaan werk, terwyl ons oues van dae (bo 60’s) die land ordentlik kan regeer en die belasting kan invorder. Ons het die kennis, die tyd en die geleerdheid ook (nie dat laasgenoemde ‘n probleem is nie – as jy nie die regte geleerdheid het nie, kan reëlings getref word vir ‘n eredoktorsgraad).

Daar is net een probleem: om vir president te staan, grawe almal ou koeie uit die sloot, gooi jou met die modder uit dieselfde sloot en basuin dan die sondes van jou huidige en vorige lewens uit op facebook en / of op televisie. As jy op daardie podiums wil staan en self modder gooi, beter jy sorg dat daar nie geraamtes in jou kas is nie, oftewel nie ou koeie in die sloot nie.

Vandag is ek dus besig om my familiegeskiedenis na te vors sodat ek kan weet waar die ratelende beendere gebêre word.

Is daar iemand wat bereid is om finansieel by te dra tot my veldtog? (*Fluister*: ek het al baie tenderdokumente opgetrek in hierdie leeftyd, e-pos net vir my jou naam en id nommer saam met die bydrae.)