Ek het grootgeword in ‘n omgewing waar dans as gròòt sonde beskou is, gewaagd, naam-weggooi onsindelik, ‘n duiwelse tydverdryf. Boonop het ek getrou met ‘n man wat net sy been sou hoog opskop as daar ‘n rugbybal betrokke was; dans was nie vir hom nie. Geen wonder dus dat ek tot nou toe nog nooit die vreugde van ‘n lekker loslit dans ervaar het nie.

Ek droom daaroor om net een keer in my lewe te dans totdat die sweet my afstroom, totdat my spiere seer is, totdat my asem blaas soos ‘n stoomtrein, totdat ek bly lê van moegheid en opgetel moet word. Ek wil ook nie net gewoonweg dans nie, nee ek wil my oorgee aan ‘n dansorgie, verval in ‘n euforie waar daar geen ag geslaan word op die alledaagse lewe nie, waar die tyd gaan stilstaan solank as wat die musiek aanhou met speel.

Diegene wat die fliek Dirty Dancing gesien het (ek dink ek ken elke toneel daarin so goed dat ek al die rolle kan vertolk) sal onthou van die toneel waar Baby met ‘n waatlemoen in haar arms by die personeel se partytjie inloop. Haar 17-jarige mondjie het oopgehang toe sy die eerste keer sulke wulpse, uitspattige, meevoerende dansbewings gesien het. My 66-jarige bek hang nog elke keer oop en ek kwyl my bors nat as ek na daardie spesifieke snit kyk.

Dìt is die soort dans wat ek wil dans. Net vir daardie paar minute wil ek ook ‘n Patrick Swayze voor (en agter en rondom my) hê. Ek wil wieg saam met sy ritmiese bewegings, my lyf laat sus op sy heup, teen hom uitklim soos ‘n klein katjie teen ‘n skurwe boomstam. Ek wil in die rondte gedraai en geswaai word totdat ek lighoofdig word. Dan wil ek soos ‘n slang teen hom afseil en my lyf om hom kronkel soos ‘n koesister wat eers later, heelwat later en met groot moeite, losgeknoop kan word.

Die musiek moet meeslepend, oorweldigend en oordonderend ritme hou met my polsslag, totdat ek doof word vir alles om my en my ledemate ‘n lewe van hulle eie aanneem. My lyf moet so lig en vloeibaar raak dat ek deur die gleuwe van die plankvloer kan seil of bo teen die plafon kan hang sonder hoogtevrees. Ek wil in daardie oomblikke bly vir ‘n baie lang tyd.

Ja, en wanneer ek nou klaar gedans het, kan iemand asseblief ‘n ortopeed en ‘n kardioloog bel? Gee sommer daar ‘n paar bloeddrukpille ook aan.

Hierdie een was geïnspireer deur Lewies se inskrywing vir hierdie onderwerp – rip roaring stuff! – dis waaroor ons moet droom.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=751225

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).