Vandag is nie regtig ‘n goeie dag om hierdie blog te skryf nie, want my gemoed en my humeur harmonieer nie baie goed met die donderweer, reënbuie en onstuimige wind wat om die huis se hoeke huil nie. Dit is die derde week wat die weer ons letterlik vaskeer in die huis en nou begin my jammer-‘bersie deurskuur. Dis nou die soort ‘bersie wat jy om jou skouers hang wanneer die lewe druk en jy so ‘n heerlike jammerte vir jouself ervaar.

Die eerlike waarheid is dat daar nooit ‘n goeie dag sal wees om hierdie blog te skryf nie, want ek het soveel verkeerde besluite in my lewe geneem dat ek verkieslik nie daaraan wil terugdink nie. Sou ek graag van hierdie besluite wou verander en probeer om beter besluite te neem? Ja, maar nie op hierdie ouderdom nie. Ek wil liewer glad nie meer besluite neem as ek dit kan verhelp nie, want ek is te bang ek doen dit weer verkeerd, of die uitkoms is nog erger as die eerste keer se bôlsap.

Nou wat wil ek dan nou liewer doen?

Ek wil liewer gaan swem gedurende die hooggety wanneer die branders oor my kop slaan en ek liters soutwater sluk. Wanneer ek halfpad versuip is en iemand my lewe kom red deur my aan die hare op die sand uit te sleep, wil ek teruggaan vir nog.

Ek wil liewer kaalvoet met min (of geen) klere in die son rondloop en voel hoe my vel gloei.

Ek wil liewer met my voete in ‘n rotspoeletjie sit terwyl die klein vissies aan my tone knibbel.

Ek wil liewer buite in die tuin sit, braaivleis van die rooster af eet en luister na klipharde rock ‘n roll musiek.

Ek wil liewer op die naat van my rug lê en kyk na ‘n blou lug sonder wolke en dink oor die lekker tye wat ek beleef het, die mooi herinneringe wat ek saam met my gebring het en die goeie lewe waaraan ek nog steeds deel het.

Dit alles wil ek doen omdat ek liewer in hierdie dag wil leef en nie rondsit en wonder hoe my lewe sou verloop het as ek maar liewer … Ek wil nie sit en tob oor presies waar my lewe verkeerd geloop het, of hoe ek daarop sal kan verbeter as ek weer die kans kry, en of ek dalk dankbaar moet wees dat ek tog heel aan hierdie kant uitgekom het nie. Dis nou ‘n bietjie laat daarvoor.

Do not take life too seriously. You will never get out of it alive. Elbert Hubbard


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).