Hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging het as onderwerp “Fluister liefdeswoordjies in Afrikaans”. Die gedagte vir hierdie onderwerp het ontstaan na aanleiding daarvan dat sommige bloggers van die opinie was dat Afrikaans ‘n wonderlike spreek- en skryftaal is, maar dat dit nie ‘n taal is waarin ‘n mens kan vry nie.

Die opdrag is om hierdie gesprek tussen Mens en Hot Lady (die bidsprinkaan) as uitgangspunt te neem en die storie klaar te skryf. [Hou in gedagte dat ‘n bidsprinkaanwyfie gewoonlik die mannetjie ten tye van die seksdaad doodbyt en opvreet. Die rede vir die seksuele kannibalisme is blykbaar dat beide die sperm en die liggaam van die mannetjie gebruik word om meer eiers te produseer, asook om die wyfie en haar nageslag te voed. Lees meer: Why Female Praying Mantises Devour Their Partners During Sex].

Mens (selfvoldaan): “Hot Lady, jy het ‘n lekker soettand, nè? Dis ook die enigste rede waarom jy hier by my kom kuier, net agter die jêm aan.”

Hot Lady: “Ja, so ‘n ou jêmpie is lekker, maar dit gee my ook krag vir wat voorlê.”

Mens (bekommerd): “Watter swarigheid voorsien jy dan nou in jou toekoms?”

Hot Lady: “Maar jy weet mos dis hierdie tyd van die jaar wat ek ‘n mannetjie moet aankeer om my eiers te bevrug! Vanaand is die aand wat ek moet sterk wees en al my oorredingskrag moet inspan om ‘n mannetjie te laat sterf tot voordeel van ons nageslag.”

Mens (ongelowig): “Nou hoe op aarde ‘oorreed’ jy ‘n man om te sterf vir ‘n nageslag wat hy nooit eens gaan ken nie?”

Hot Lady: “Maklik. Jy hou hom teer vas en net voordat jy sy koppie begin afkou, fluister jy soetjies in sy oor: Liefling, … “

VERVOLG: Hot Lady en Sticks (ek sien hierdie naam wat Kameel uitgedink het vir die gelukkige mannetjie het nou gestick).

Hot Lady: “Liefling, kyk diep in my oë sodat jy kan sien ek bedoel elke woord wat ek sê. Ek het lank en hard gesoek na ‘n man soos jy, so sterk, so aantreklik, so gewillig om my liefde te deel. Ek belowe jou, vanaand gaan ek jou so gelukkig maak dat jou lewe nooit weer dieselfde sal wees nie.”

[Ha! Dis ‘n woordespeling  … ‘jou lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie’. *grinnik*]

“Ruik jy die soet parfuum aan my voorpote? Dis die nektar van die liefde waarmee ek jou pragtige gespierde ligaam gaan bedek en jou dan gaan ek jou aflek van kop tot tone.”

[Hy ken duidelik nie die verskil tussen nektar en gewone appelkoonkonfyt uit ‘n blikkie nie. Dankie vir jou bydrae Mens.]

“Dis reg, my liefsteling, lig jou pootjies op dat ek elke spesiale plekkie kan insmeer en masseer. Lig die arms hoog op … hiehie, is jy ‘n bietjie kielierig? Wag ek maak vir jou ‘n lussie van my syserpie sodat jou arms nie moeg word nie.”

[Okay great, uit hierdie systrikkie sal jy jouself nie sommer loswikkel nie.]

“Ek het spesiaal vir ons hierdie romantiese musiek uitgesoek. Kan jy voel hoe vibreer die aantrekkingsktag tussen ons? Dis reg, druk jou lyfie vas teen myne sodat ons kan saamwieg.”

[Ek het ook Fifty Shades of Grey gelees en die fliek gekyk, ja. Goeie musiekkeuse.]

“O ja, o ja! Dis presies wat ek wil hê. Hou my styf vas.  Dis reg, nou het jy die ritme. Hou jou koppie stil, my liefste, ek wil jou oortjies skoonlek … aaa, is dit nie lekker nie?

Oe, hoekom ruk jy so van ‘n ou klappie op die boud? O, ek dink jy hou daarvan; ek kan voel hoe versprei die hitte deur jou lyf. Sticks! O, Sticks, moenie ophou nie …. Sticks? Hoekom is jy so stil? Is iets verkeerd?”

[O hel, ek het ‘n bietjie meegevoer geraak toe ek aan sy oortjies geknibbel het, nou is sy koppie weg. O wel, dit was aangenaam terwyl dit gehou het en ek is buitendien nou honger.]


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Advertisements