Vandag is die derde dag wat daar nie water in ons krane is nie. Ons tel onder die gelukkiges; op verskeie plekke in hierdie area is mense al 12+ dae sonder water.

Ek sit en lees die beriggewing op die internet en sosiale media. Daar is beweringe van sabotasie en munisipale amptenary se onbeholpendheid (of ongeëergdheid). Daar is sprake van wettige aksie, petisies en klagstate. In die sosiale media word die kommentaar elke dag in merkbaar meer dreigende formaat geformuleer, rassisme word bygesleep en politiek word blameer. Daar is duidelik waarneembare paniek, veral omdat die skoolvakansie binnekort aanbreek; nie net is daar die gevaar van inkomste en werksgeleenthede wat verlore sal gaan as die vakansiegangers nie opdaag nie, maar ook die wete dat nog bykomers in die gebied meer druk sal plaas op die skaars waterbronne.

Mense is om die beurt woedend, filosofies, moedeloos en baie pleit om hulp. Daar word waterstasies opgerig om drinkwater te voorsien, maar ook dit word deel van die probleem. Sommige mense is selfsugtig: een egpaar bring ‘n hele trokkie vol leë houers, spoel eers almal uit en vermors ‘n hele paar liters water op hierdie manier, neem daarna nog twee ure in beslag voor die tenk om al die houers te vul. In die snerpende koue wind staan oumense en ouers met klein kindertjies en wag vir hulle beurt. Baie van hierdie persone het al in meer as een ry gestaan vir die dag, want teen die tyd dat hulle beurt aanbreek, is die tenk leeg.

Onder by die strand waar daar nog ‘n flou straaltjie water in die pype is, probeer ‘n paar pensioenarisse om houers te vul, maar die wind waai die water weg en hulle kan nie die houers tot daar bo by die stortkoppe oplig nie – gelukkig is daar jongeres wat kan help om die houers omhoog te hou. Daar is nog barmhartiges wat op sosiale media uitnodigings plaas vir diegene in nood om water te gaan haal by hulle huise. Een vrou gaan selfs sover om mense met babas te nooi om die kleintjies by haar huis te kom bad.

My eie probleme lyk meteens nie meer so dringend nie, alhoewel dit darem lekker sou wees om ‘n slag te bad en hare te was. As gevolg van die swaar reën van die afgelope tyd het die wasmasjien stilgestaan en ons sit met ‘n berg wasgoed, en baie min skoon klere. Ons het ‘n watertenk buite in die tuin wat ons gebruik om water aan te dra vir die toilets; die modderspore oor die wit teëls wat van die voordeur af tot in elke badkamer loop word net geïgnoreer. Skottelgoed word een keer ‘n dag gewas. Gelukkig is gebottelde water nog beskikbaar en ons gaan koop by die naaste winkelsentrum of maak vol by vriende. Ons situasie is nog nie naasteby so desperaat soos in ander huishoudings nie.

Die son skyn vandag vir die eerste keer in baie dae. Ons is pas genooi om by ‘n vakansieoord te gaan bad, maar eers gaan ons strand toe om die son te gaan geniet voordat die wind opkom.