Hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging vra watter persoonlike artikel jy graag by jou wil hê wanneer jy op ‘n verlate eiland uitspoel. Ek ken hierdie simpel vrou wat die onderwerpe vir die uitdagings uitdink en dan, wanneer sy haar eie bydrae moet lewer, geen idee het waaroor sy kan skryf nie. Gelukkig het Facebook mos hierdie “Onthou-jy-nog?” funksie wat elke dag ‘n herinnering van die verlede opdiep:

En om ‘n lang storie kort te maak – hierdie dag se herinnering is ‘n foto wat ses jaar gelede geneem is by Oudewerf in Meyerton, Gauteng. Toe sien ek my Blou Baadjie No.2 in die foto raak en besluit onmiddellik, hièrdie is die item wat saam met my moet uitspoel op die afgeleë eiland.

Daar was ‘n Blou Baadjie No.1 ja, bodeel van ‘n sweetpak wat ek in 1994 in Bloemfontein gekoop het, net voordat die winterkoue daardie jaar toegeslaan het. No.1 het sowat vyftien jaar oud geword in my besit en het later begin deurslyt. So hier en daar was daar plekke waar daar geen wolle meer oor was nie en op ander plekke was daar brandgaatjies (ek het daardie jare nog gerook). No.1 het altyd saam met my gereis en by die huis het hy diens gedoen elke keer as die kwik tot onder 20°C gedaal het.

Die gesin het begin mor oor die afgeslete ou baadjie en ek is gereeld daarop gewys dat ek verskeie ander baadjies in my kas het. Ja, maar dis nie lekkerdra-baadjies nie; dis sulke ghrênd baadjies en jassies wat werk toe gaan. Toe begin hulle plaasvervanger-baadjies aandra totdat my kas oorvol was, maar ek het steeds vasgeskop soos ‘n steeks donkie, want ek was lief vir No.1. Verstaan nou mooi, ‘n warm baadjie word nie sommer net gedra nie; die dra van daardie spesiale baadjie is meer intiem as enige ander verhouding. Dit meen dat jy nie die een waaraan jy so geheg is, net so kan afstaan en ‘n nuwe een in sy plek aanvaar nie.

Ek het gedink dat ek in hierdie saak tenminste my man se ondersteuning sou geniet, want hy is by uitstek die soort persoon wat koppig aan sy persoonlike eiendom vasklou. Gewoonlik moet jy sy klere van sy lyf afskeur (letterlik) om plek te maak vir nuwes. Was hy my simpatiek gesind? Nee. Toe loop ek op ‘n dag vir No.2 raak in die winkel en vat hom huis toe. Ek het hom so nou en dan gedra, maar dit het lank geneem om ‘n toegeneentheid te ontwikkel en die stryd oor No.1 het voortgeduur.

Totdat No.1 eendag in die wasmajien se diep donker gat in verdwyn het. Dis wat my gesin beweer. Ek het dit nie vir ‘n oomblik geglo nie, want ek weet as hulle saamstaan, lieg hulle baie oortuigend. Hulle ma het hulle goed geleer.

Daarna het ek nie ‘n keuse gehad nie en ek moes plek maak in my hart vir No.2. So stadigaan het ‘n verstandhouding posgevat en No.2 hang elke dag oor my kantoorstoel. Snags hang hy op die kapstok daar onder by die voetenend van my bed. Wanneer die kwik begin duik, word hy aangetrek. As my voete koud bly in die nag, word hy summier nadergetrek om die rol van ‘n paar bedsokkies te vervul. As die wind waai, trek ek sy ritssluiter op tot oor my ore wanneer ek strand toe gaan. Ons het mekaar goed leer ken die afgelope nege jaar en ek sien kans vir nog nege jaar saam met hom.

Net so nou en dan dink ek nog terug aan No.1, maar hy is nie meer nie, dus sal No.2 moet saamgaan na die eiland toe, want met my blêddie vrot geluk sal ek nie op ‘n lekker warm tropiese eiland uitspoel nie.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).