Ek haat dit om te vlieg (omdat ek nie die vliegtuig self kan bestuur nie – ek is ‘n slegte passasier) en ons ry gewoonlik met die motor wanneer ons Gauteng moet besoek. Woensdag moes ons egter inderhaas op ‘n vliegtuig spring om ‘n vergadering te gaan bywoon. Johannesburg is in elk geval nie my gunsteling keuse vir ‘n bietjie ontspanning nie; ons verwys na die oorbeboude areas as Legoland. Verskoning aan die Jozi-inwoners, maar na amper drie jaar se woon in die bos , is Johannesburg net te … tè.

Ons woon ver van die lughawe af en het Durban se spitsverkeer trotseer vir amper twee ure om daar te kom. Teen die tyd wat die motor veilig in die hande van die valet service was, ons bagasie ingeboek en die nodige laaste draaie by die dogtertjie-kamer gehardloop was, moes ons vinnig suiker om aan boord te kom.

Ons het net ons sit gekry voordat die loods begin het met sy aankondigings en die grappie wat al hare het van ouderdom: “This is your captain … on my first solo flight”. Hoekom val ek elke keer daarvoor? Ek het net my hartklop weer in pas gekry en my naarheid onder beheer, toe ek die bekende steekpyn in my ore voel. Dêmmit, ek het vergeet van die verandering in lugdruk oor die Drakensberge en nou is ek in pyn.

Met ‘n vinger in elke oor stamp ek teen Karen se skouer en sy haal vinnig ‘n Airwave beechie uit haar sak. Hoe paslik. Ek val geesdriftig in met die kou-sluk, kou-sluk ritme wat gewoonlik vinnig verligting bring, vingers nog steeds in my ore. Binne enkele minute kom ek agter dat die beechie dalk nie ‘n goeie idee was nie. Die oorpyn het darem bedaar, maar teen die spoed wat ek gekou-sluk het, het die ding nou warm geword en my winkeltande klou aan mekaar vas.

Hoe nou gemaak? Die vliegtuig is tot kapasiteit gevul met passasiers en ek gaan wragtag nie in die gangetjie vol dopwaentjies af huppel toilet toe nie. Op watter ander ordentlike manier kan ek my tande bevry? ‘n Lugwaardin kom vra iets wat ek nie kan hoor nie, neem aan sy wil weet of ek graag ‘n versterkinkie wil hê en ek skud my kop, elmboë al swaaiend saam met die ore vol vingers. Die ander passasiers begin my suspisieus aangluur en ek lê oor na Karen se kant toe om te maak asof ek baie belangstel in wat buite die venster aangaan.

Vir die res van die vlug het ek die wolke en later die landskappe onder my belangstellend dopgehou en terselfdertyd my tong ingespan om die beechie op ‘n bondeltjie teen my verhemelte vas te druk. My dogter het haar min gesteur aan haar ma se predikament en net voortgegaan om fotos te neem. Ek dink sy was heimlik bly dat my mond gesnoer was, want ek hét nogal die gewoonte om deur haar videos te praat.

Kyk hieronder is ‘n filmpie van die landing. Hou die eerste kwadrant (regs bo) dop vir die skaduwee van ons vliegtuig, sigbaar na ongeveer 15 sekondes, wat saam met ons pas gehou en op die einde reg onder die vliegtuig ingeseil het.

Nog ‘n paar fotos van die landskap, almal geneem sowat tien minute voor die landing by OR Tambo. Mooi, nè? Mynhope en al.

Die tande? Ja, ek het by die naaste geriewe nat toiletpapier ingespan om dit te probeer skoonmaak, maar het met so ‘n taaierigheid en enkele frummels toiletpapier in my mond by die blyplek aangekom. Ysblokkies! Dis wat jy nodig het in sulke omstandighede.

Advertisements