Alhoewel ek nou vir myself die mooi grafsteen hierbo ontwerp het, weet my familie dat ek veras moet word. Druk my in ‘n diep, donker, koue gat in en ek sal heelwat daaroor te sê hê wanneer ons mekaar weer raakloop. Nee, strooi maar my as daar waar die son lekker warm skyn. Moenie my asse laat koud kry nie. Enniehoe, hierdie storie word nou vooruitgeloop; dit gaan nie oor my oorblyfsels nie, maar oor die bewoording vir my grafskrif en die redes daarvoor.

Hoekom het ek hierdie bewoording gekies?

Want (ja ek weet dis swak taalgebruik om ‘n sin so te begin), ek leef in die oortuiging dat ‘n mens aangebore karaktertrekke het wat jy nie kan afgooi, uitsny of verbloem nie. Jy is wat jy is. Sommige karaktertrekke is goed en sommige ietwat ongewens. Ons moet net onthou dat niemand ooit met slegte maniere gebore word nie.

Omdat (ja ek weet dis swak taalgebruik om ‘n sin so te begin) ek werklik daarna streef om ‘n “beter” persoon te wees, maar soms word ek gepootjie deur my ongeduld, die feit dat ek nie ‘n wag voor my mond het nie en dan nog ‘n oorgeërfde dwartrekkerige streep ook het. Aan die ander kant is ek nie haatdraend, veroordelend of liefdeloos nie. Ek probeer en dis wat belangrik is, hoewel ek soms klaaglik misluk.

Die grafskrif is dus gebaseer op die weegskaal van “Ek probeer” en “Ek kry dit nie altyd reg nie”, want ek is wat ek is. Dis my gene. Dis my erfdeel. Dis ‘n dêmmitse goeie verskoning ook.

Ns. Ek het daaraan gedink om soos Bart Nel te sê: Ek is Hester Nel van toe af, en ek is nog sy (met verskoning aan J Melle). Sou dit nie ‘n paslike beskrywing van my gewees het nie? Dit sou, nè? Nè?! Toe dog ek die “ek is nog sy” gedeelte mag dalk nie heeltemal toepaslik wees nie, want daar is darem ‘n verskil tussen ‘n lyf en ‘n handvol as.


Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Advertisements