Snaaks hoe die simpelste gebeure deesdae my gedagtegang kan terugstuur op ou paadjies waar ek jare gelede gestap het.

My dogter en ek staan gister daar in die ry by PnP en wag vir ons betaalbeurt. Die pappa voor ons in die ry is besig om vir sy twee seuntjies, seker so vier en vyf jaar onderskeidelik, elkeen ‘n speelgoedkarretjie koop.

Hy wys hulle die karretjies en verduidelik baie mooi dat hy een blouetjie (vir ouboet) en een groenetjie (vir kleinboet) gekoop het. Dis net die kleur wat verskil, sodat hulle elkeen hulle eie karretjie kan uitken, maar verder is hulle presies dieselfde. sê hy, en voeg by: “… en albei ry ewe vinnig. Ek wil nie hoor dat julle twee hieroor baklei nie.”

Hy vang my oog en sien dat ek agter my hand glimlag, sê dan verskonend: “Hierdie twee maak ons klaar met hulle onderonsies.”

Ek weet jong, ek weet, dis nie nodig om verskoning te maak nie. Ek het ook op ‘n tyd twee klein seuntjies gehad (ek het hulle nog steeds, maar die storie gaan nou oor die skermutselings van daardie tyd toe hulle ook so vier en vyf jaar oud was – deesdae kom hule darem beter oor die weg).

Ons het vroeg-vroeg al die stryd opgegee om hulle te leer om speelgoed te deel. Ons het doodeenvoudig twee van alles gekoop op Oudste se verjaardag, omdat Jongste so kort voor Kersgees verjaar het. Kersfees is weer twee van alles gekoop, soms ook net in verskillende kleure. Soms het hulle besluit om uit te ruil en soms het die groen en die blou deurmekaar geraak, maar ons het relatiewe rus en vrede geniet … totdat die Knight Rider reeks sy verskyning op TV gemaak het.

Oudste het lank voor die tyd reeds begin soebat dat hy ook ‘n K.I.T.T. wil hê vir sy verjaardag en in ‘n onbesonne oomblik het ons belowe om dit te kry. Ek het die winkelrakke begin deursoek vir die swart karre wat ek nie regtig kon bekostig nie, maar daar was net een probleem: in die hele Bloemfontein was daar net een van hulle beskikbaar.

Paniek.

Op die laaste minuut het ek besluit dit kon nie anders nie, Oudste sou die swart kar kry, want ‘n belofte is ‘n belofte, en vir Jongste het ek ‘n groot, geel (en heelwat duurder) “tip”lorrie gekoop waarmee hy kon sand aanry uit die tuin – een van sy geliefkooste speletjies. Met die oorhandiging van die geskenke het ek ook mooi en op redelike wese probeer verduidelik wat my probleem was.

Ek kon ook maar gesjarrap het, want Jongste het net daar opgestaan en ‘n hamer uit sy pa se toolbox gaan haal. Hoe hy die swaar hamer opgetel het, weet nugter, maar hy het vir K.I.T.T. so plat geslaan dat daar nie eens ‘n I.T. oorgebly het nie. Oudste het sy beurt afgewag en die geel lorrie dieselfde eer aangedoen.

Daardie Kersfees het daar geen geskenke opgedaag nie. As ‘n man sterk genoeg is om ‘n hamer op te tel, moet hy sterk genoeg wees om die nagevolge ook te dra.

Free Knight Rider Live Wallpaper

wallpapersafari.com

Advertisements