Vervolg op Hoofstuk 1 oor die harige tong wat my genoop het om my huisdokter te ontmoet.

Wanneer ons na ‘n nuwe wêrelddeel toe trek, soek my dogter vir my ‘n nuwe huisdokter en gaan handig afskrifte van al my mediese lêers in by sy kantoor, just in case.  Dit sluit in al my kardio-verslae, bloedtoetse, EKGs en whatnots. Ek besoek my huisdokter dus … wel, so min as moontlik, want al daardie papiere hou hom mos op die hoogte van my ouderdomskwale.

Toe ek nou vir die eerste keer in amper drie jaar by die dokter beland vanweë die dashboard fur op my tong, het my dogter haar kans waargeneem en hom sommer vertel van die seer keel, loopneus en knaende hoesie waarmee ek al die hele winter sukkel (lees … waarmee ek haar snags uit die slaap hou). Die blêrrie merrie. Ek woon by die see, ek swem wanneer ek water sien, ek loop met nat klere en hare in die wind, dus, ja, ek hoes, nies en proes.

Ek sien egter die dokter frons en ek weet wat kom. Reguit oor die pad na die radioloë toe vir longplate. Ek is vreesbevange vir masjinerie wat my binnegoed bekyk. Ek haat dit om my klere uit te trek, net om bibberend van die koue daar rond te sit in ‘n dun jassie terwyl ek wag dat my plate geneem word. En ek haat dit nog meer om daar rond te sit en wag vir die uitslae. Elke keer as een van die personeel by die wagkamer se deur inkyk, verwag ek hulle gaan my roep vir ‘n ernstige bespreking (soos in Grey’s Anatomy) en my maag draai in die rondte. Wanneer hulle geselsend verbyloop in die gang, wonder ek of dit mý longplate is wat hulle bespreek en watter vreeslike nuus ek gaan ontvang.

‘n Hele paar jaar gelede in Bloemfontein het ek een keer baie lank gewag vir die verslag. Dit was ‘n koue wintersdag, die praktyk was besig en na ‘n vreeslike vloermoer van my kant af, kom daar ‘n rêrige handsome outjie aangedraf na my toe: “Mevroutjie, jy kan maar kalm bly, jou longe is stunning, regtig stunning, niks fout nie en jy hoef nie te wag nie, ons sal die plate en die verslag by jou dokter aflaai.” Toe soen Mevroutjie hom sommer op die mond.

Hierdie keer het niemand iets gesê nie; ek is net ‘n bruin koevert met ‘n Confidential plakker oor die flap in die hand gestop om na my dokter toe te neem. Dalk laat hulle dit aan die dokter oor om slegte nuus oor te dra? Die Confidential plakker het gewaai nog voordat ek op die sypaadjie was en ek het die verslag geloop en lees terwyl my dogter my oor die pad gelei het. Die uitslag? My longe is nog steeds stunning! En hierdie keer het ek ‘n CD gekry, nie vervelige outydse x-straalplate nie. Ek wonder of ek my CD op You Tube kan plaas.

Dit was egter nie die einde van die drama nie, want just in case is ek by die dokter se deur uit met ‘n ‘n botteltjie in die hand vir ‘n sputum-monster wat ek by die laboratorium moes inlewer om te toets vir tuberkulose.

“Dokter”, sê ek, “ek is net nou die dag getoets vir HIV en die toets was negatief. Ja, ek weet dis nie dieselfde ding nie. Ek sê maar net, just in case, jy weet?” Ek sê maar liewer niks oor my historektomie nie, want op my ouderdom sal ek darem seker nie gestuur word vir ‘n vir ‘n swangerskap-toets ook nie?

So is ek toe huis toe met die botteltjie, want ek kan nie hoes op aanvraag nie en buitendien, ek verkies om my dogter in die nag te irriteer. Die ding is nou net, in die donkerte van die nag is my korrel nie so goed nie. Ek dra immers nie my bril in die bed nie.  Ek reken toe daar was nou net een uitweg: ek sou moes oefen om te spoeg soos die destydse gunslingers in die Wilde Weste. Jy weet, terwyl jou hand dramaties stadig afbeweeg na die rewolwer wat op die heup hang, rol jy eers die pruimtwakkies so in die kies, dan draai jy jou kop so effens skuins en zierts! die bruin spuugseltjie so by die kant van jou mond uit.

“Ma!”, sê my dogter, gryp die botteltjie en sit dit onder my kussing. Hier rond mag jy mos nie pret hê met jou eie siektes nie.

Wel, ek het toe nie TB nie, maar vir die volgende maand drink ek vyf ekstra pille per dag, onder meer iets wat google my vertel is steroïde, om die hoesie reg te sien. Ek sal laat weet of die steroïde gunstig werk vir die ontwikkeling van my maagspiere, just in case daar nog van julle is wat hoes en maagspiere wil oefen.

Ps. Die hare op my tong word elke dag minder.

 

 

 

Advertisements