Hierdie verhaal moet in episodes afgelewer word, maar nie noodwendig in chronologiese volgorde nie – meer soos in ‘n Quentin Tarantino moewie – om al die drama en lyding tuis te bring. Dus val ons weg met:

Episode 4: Vroegoggend staan ek voor die badkamerspieël en borsel my winkeltande, terwyl ek die kiemdodende mondspoelmiddel in my mond rondswoesj. Tande geborsel, steek ek my tong uit … en gaan aan die gil soos ‘n banshee. Die priemende geluid wat ek voortbring, laat die water in my ore rondskommel en my neus gaan aan die loop. Daai verkoue wat net nie wil weggaan nie.

My dogter storm in my badkamer in, vaalgeskrik, en probeer vergeefs om my stil te kry sodat sy kan verneem wat die probleem is. Ek beduie na my mond en sy word nog bleker; my hele tong is oortrek met ‘n groen harige mat, amper soos die dashboard fur wat daar iewers in die 70’s so gewild was by eienaars van ‘n sekere motorfabrikaat.

“Trek aan!” “Doktor toe.” “Nou.” My persoonlike sersant-majoor blaf haar bevele uit.

“En onthou om die hare te kam”, sê sy.

“Ek kam elke dag my hare!”

“Ek meen daai hare op Ma se tong,” sê sy.

Episode 2: Ek het so ‘n paar dae gelede ‘n wit sproei (thrush) op my tong ontdek. Ek en Donald Trump het een ding in gemeen: ons ly albei aan kiemafobasie (germophobia). Ek het iewers gelees dat hy ook ‘n badkamer- of toiletdeur met sy elmboog oopmaak. Selle hier. Ek vat nie aan handrelings nie (ek val veel liewer by die trappe af en breek ‘n paar bene). Ook nie aan winkeltrollies se handvatsel as daar nie van daardie ontsmettende lappies aangebied word om dit eers ‘n bietjie skoon te vee nie; dis hoekom ek graag by PnP inkopies doen. Ek verval in ‘n toestand van apopleksie as iemand rondom my nies of hoes, veral as hy of sy nie ‘n sakdoek gebruik nie. En ek raak moorddadig as iemand met my wil bladskud; jy mag my druk en air kiss soos wat beroemde mense doen. Ek behoort dus nie sproei op my tong te hê tensy daar ‘n ander onderliggende siekte aan die broei is nie.

Ons almal bespiegel oor wat die probleem kan wees en my man reken dit kan net die Jik wees wat dit veroorsaak het: “Jy het jou taste buds laat afsterwe”, sê hy.

Episode 1: Die dag voor die ondekking van die tongsproei was my verjaardag en ‘n paar vriende het gebel vir ‘n persoonlike gelukwensing. Een persoon het vroegaand gebel toe ek in die stort was. So ‘n oproep wil jy nie mis nie en ek het met die een hand gegryp vir die selfoon, en die ander hand vir my winkeltande wat ek in ‘n Jik-oplossing gesit het vir die duur van my stort. Ja, ek het van daai pille wat ‘n mens oplos om jou tande in te week, maar Jik maak 99% van alle kieme dood, nie waar nie? Mens weet nooit watter kieme aan winkeltande klou nie, veral nie met al die eetgoed wat hulle vandag moes verwerk nie.

In die haas om selfoon by die oor en tande in die mond te kry, het ek vergeet van die Jik. Die reuk en die brand het my gelyktydig geslaan, maar toe kon ek mos nou nie die oproep kortknip om eers tande uit te haal nie en buitendien, hoe praat jy sonder tande? Ek het maar net agterna weer geswoesj met die mondspoelmiddel om van die reuk en die brand ontslae te raak.

Episode 3: Ek maak ‘n draai by die apteek en kry ‘n botteltjie Nystatin; dis nou daai geel mondspoelmiddel wat jy vier keer ‘n dag in jou mond rondswoesj om die fungus in jou mond te vermoor. Dit maak die fur op jou tong so ‘n siek geel, maar dis darem beter as die pers  gentian violet wat ek nog destyds vir my babas gebruik het. Verbeel jou om met ‘n pers tong in die openbaar te loop!

Episode 5: Ek is bang vir dokters, inspuitings, bloeddrukmasjiene, spreekkamers, hospitale, x-strale, eintlik enige vorm van mediese behandeling. Daarvan het ek genoeg gehad. My huisdokter noem dit die white coat syndrome. Sodra ek in hierdie omgewing instap, gaan my bloeddruk oorboord, my hartklop word onreëlmatig, my longe wil nie asemhaal nie, my brein vries en my liggaam wil graag hardloop, maar word met lamheid geslaan.

My dogter forseer my in die spreekkamer in en die dokter vra uit na vandag se klagtetjie.

“Ek groei groen hare op my tong”, sê ek, nors en kortaf.

Hy lyk ietwat verdwaas: “Groen hare?”

“Ja, dit was eers wit, maar ek het gisteraand niekerbôls geëet wat die hare so blouswart gemaak het en vanoggend het ek Nystatin gebruik wat geel is. Blou en geel word groen.”

Ek het eers hierdie feite eers onthou toe ons reeds in die motor op pad na die spreekkamer toe was, maar teen daardie tyd was my dogter reeds sienende blind en horende doof vir my koppigheid.

Toe moes ek natuurlik eers my klere uittrek sodat die dokter na my tong kon kyk. Ek wonder hoeveel keer in my lewe het ek al my klere uitgetrek vir vreemde mans? Seker nie ‘n onredelike versoek nie, want daar was darem ook die bloeddruk-toets, kliere bevoel, stetoskoop op die bors en rug – alles wat gewoonlik onder klere verberg is.

Opvolgprosedures word bespreek en nog medikasie voorgeskryf. Ek kners op my tande. Hoe het ek geweet dat hier ‘n hele battery toetse op pad is? Ek byt my groen tong vas, want ek weet, met my mediese geskiedenis is dit nodig.

Dit verhoed my nie om vuil kyke in my dogter se rigting te gooi nie. Sy ignoreer my en vra net kalm: “Dokter, is dit aansteeklik? Ek wil net weet, want ek het nou-net ‘n bottel Coke met my ma gedeel.”


Hierdie verhaal sal vervolg in Hoofstuk Twee.

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements