My liewe Ma,

Ek verjaar môre, ek word 66. Maar dit weet Ma tog.

My dogter, Ma se kleindogter, word hierdie jaar 33. Ek was 33 toe sy gebore is. Ma was 33 toe ek gebore is. Dink net: hierdie jaar gaan Karen 33 wees, ek word 66 en Ma se 99ste verjaardag is ook om die draai. 33, 66, 99. Drie derdes wat een leeftyd en amper een eeu verteenwoordig.

Hoe het Ma daaroor gevoel om op 33 weer ‘n baba te hê? ‘n Laatlam. Onthou Ma, Karen was ook ‘n laatlam? Ek was nie beïndruk daarmee om op 33 weer ‘n baba te hê nie; om die waarheid te sê, ek was sommer kwaad vir die ginekoloog wat my so ewe gelukgewens het met my swangerskap. Toe sy gebore is, was ek effe verdwaas oor die feit ek nou skielik ‘n dogter gehad het. Ek het saam met drie broers grootgeword en toe twee seuns van my eie gehad. Hierdie nuwe klein dogtertjie in my lewe het my paniekbevange laat wonder hoe ‘n mens nou eintlik ‘n meisiekind moet grootmaak? Gelukkig was sy ‘n kalm en gesonde kind en sy het sommer vir haar eie grootword gesorg; ek het net saamgepiekel.

Ek dink Ma het anders gevoel, want daar was die pasgebore babadogtertjie wat Ma verloor het voor my geboorte. Was Ma bang dat iets weer sou skeefloop? Ek dink Ma het gehoop dat daar weer ‘n dogtertjie sou wees om haar plek in te neem en die familienaam voort te dra. Ja, ek weet dat sy die naam sou gekry het as sy geleef het, maar ek het ook altyd geweet dat ek nie net ‘n plaasvervanger was nie; ek was ‘n geliefde dogter. Ja, ek het dit altyd geweet my liewe Ma, ten spyte van die feit dat ons oor baie dinge nie saamgestem het nie.

My dogter weet ook hoe belangrik sy in my lewe is, ten spyte van die feit dat sy nie ‘n beplande baba was nie, en ek sal spesiaal weer op hierdie besondere verjaardag seker maak dat sy weet hoe lief ek vir haar is.

Ek sal vir Ma ook vertel dat ek baie lief was vir my ma, sommer hardop, hoewel Ma nie meer hier is om dit te hoor nie; hoewel ek nooit weer sal hoor hoe Ma dit vir my vertel nie.

 

 

 

Advertisements