Ons het verlede week op ‘n winderige dag besluit om ‘n orgidee-kweekhuis te gaan besoek. Ek kon nog nooit in my lewe ‘n orgidee aan die groei kry of aan die lewe hou nie en was baie beïndruk met wat ek gesien, maar daarvan vertel ek later.

Terwyl ek na die blomme gekyk het, het my gedagtes teruggespring tot so amper ‘n kwarteeu gelede – Desember 1993, om presies te wees. Ons het in Bloemfontein gewoon, dit was skoolvakansie en Kersfees was op hande. Ek het besluit om my drie kinders en my Kodak 110 Film kamera op ‘n uitstappie te neem sodat ons ‘n paar fotos kon neem om uit te stuur saam met kerskaarte vir die familie en vriende (wie doen dit deesdae nog?). Ons was onder meer by die Orgidee-huis en dit is hoe die geheuesprong ontstaan het.

Gisteraand het ek gaan soek na die fotos en plaas ‘n paar van hulle hieronder. Die fotos is effens pixellated; die digitale era was nog ‘n paar jaar vorentoe in die toekoms.

Die twee boeties was duidelik net so aan die beginstadium van hulle tienerjare, vol nukke, reeds vasgevang in die tiener-bravade, hardegat-rebelse tydperk van hulle lewe. Daar is net ‘n jaar verskil in ouderdom tussen die oudste (die blondekop) en die jonger een (vandag die pa van ons enigste kleinkind).  Kyk net na daardie diep donker uitdrukkings wat op die gesig geplak word vir die fotos, terwyl hulle soos standbeeldjies poseer vir die fotos. Let ook op dat die kuiwe darem windmaker gekam is en die klere met sorg reggetrek is vir elke foto, wat natuurlik die feit weggee dat hulle wel nog omgee wat die wêreld van hulle dink.

Sussie, ‘n laatlam en baie rustiger as die boeties, het haar alles laat welgeval, want daar was immers die belofte van roomys mits almal hulle gedra. Ons het op die ou end gevriesde yoghurt geëet, wat toe ook nog ‘n nuwigheid was.

Aan die einde van die dag het ‘n vriendelike verbyganger aangebied om al vier van ons af te neem op ‘n stel trappe wat ek nou om die dood nie meer kan identifiseer nie. Hy was so effe onhandig met ‘n kamera, maar die skewe foto het ‘n bekoring van sy eie en is nog steeds een van my gunsteling familiefotos.

Ek dink kind-grootmaak is net so onvoorspelbaar soos orgideë-kweek; hulle groei nie altyd soos wat jy dink die groeiproses behoort te verloop nie en ek is seker nie die enigste ma wat haar verwonder aan die feit dat haar kinders wel oorleef en gedy het ten spyte van onsekere opvoedingsmetodes nie. Maar my orgideetjies het nie te sleg uitgedraai nie, het hulle?

Advertisements