Ek vind dat ouderdom ‘n ongewone impak op my daaglikse lewe het. Lyk my mos asof ek ‘n hele ander persoonlikheid en vaardighede ontwikkel het die afgelope twee of drie jaar. Onder meer het ek ‘n uitsteller van formaat geword; take wat voorheen baie belangrik was en stiptelik uitgevoer is, word nou sommer van die tafel af gevee om te wag tot môre. Of oormôre. Of die dag daarna. Dalk. Wat nou van meer belang is, is dat die son skyn en ek moet op die strand kom; of dis koud en mislik, wat beteken dat ek my verwarmer moet aansit en met ‘n goeie boek in die bed klim.

Een so ‘n belangrike saak is my bril, daardie waardevolle artikel waarsonder ek fokkolollie kan sien. Ek sit my bril op wanneer ek wakker word in die oggend en haal hom eers weer af wanneer ek vanaand gaan slaap. Ek dra van lankal af net multi focals waarvan die glase verdonker in die son. Op dié manier kan ek sien wat nodig is wanneer dit nodig is. Nog ‘n ding – ek kan ook nie hoor as die bril nie op my oë is nie. Dit kan iets te doen hê met die feit dat ek blykbaar lippelees aangeleer het as ‘n vaardigheid, want wanneer ek van aangesig tot aangesig met ‘n persoon is, kan ek hoor. Draai jou rug op my of gesels met my oor ‘n telefoon, dan hoor ek niks.

Ek dreig noual weke, of dalk is dit maande, om my oë te laat toets, want my bril is nie meer in so ‘n goeie kondisie nie. Nou nie dat ek my brilmaker kan kwalik neem nie, want die ander probleem van ouderdom is dat ek nie altyd my planne deurdink voordat ek oorgaan tot aksie nie. Ek het al vergeet om die bril af te haal voordat ek room aan my gesig smeer en dan is skottelgoedseep die enigste manier om hom weer skoon te kry. Dit het ook al ‘n paar keer gebeur dat ek en die bril saam gaan stort of in die seewater gaan swem het. Ek het gesê dat ek hom darem afhaal as ek gaan slaap? Dit sluit nou nie in wanneer ek voor die TV aan die slaap raak nie. Die gevolg is dat die bril blootgestel is aan wind en weer, die raam word soms effens gebuig en daar is al ‘n skraap of wat op die lense.

Dit het al vantevore gebeur dat een van die skroefies uitgeval het, en dan moer die lens natuurlik ook uit, maar gelukkig is hier ander mense wat goed genoeg kan sien om die fyn skroefie op die vloer op te spoor en weer in te draai. Elke keer as dit gebeur, neem ek my opnuut voor om by die brilmaker aan te doen.

Gister, vroegoggend, ‘n Sondagoggend natuurlik, maak ek weer bril skoon en bly met die een lens in my hand staan. Die skroefie word gesoek en na lange gesukkel word die koppie wat afgeroes het gevind; die ander deel sit vasgeroes in die bril se metaalraam en daar is beslis nie so ‘n klein boorpuntjie tussen ons gereedskap nie. “Dis wat gebeur as jy met jou bril in die see swem”, sê die mense wat van beter behoort te weet as om my nog verder om te sukkel.

Ek het gesê dit was op ‘n Sondagoggend, nè? So. Nou soek ons die voorganger van die eenlensige bril wat as tydelike plaasvervanger moet dien en wat veronderstel is om in die klein kluisie te wees. Dis nou die klein kluisie wat op die oomblik nog in die garage staan, leeg en sonder sleutel, want ek sou hom nog kamer toe gevat en sy belangrike goed weer ingepak het net nadat ons klaar getrek het …

Enniewoe, uiteindelik is die tydelike plaasvervanger opgespoor en ek kon voortgaan met dit wat gister die belangrikste taak in my lewe verteenwoordig het, naamlik om my nuwe Rubik Cube se algoritmes te ontsluit. Vanoggend halfnege was ons by die brilmaker. Dis toe ek die herstelde bril op my neus plaas dat ek iets eienaardigs agterkom: ek sien eintlik beter met die voorganger. Toe kon ek nou nie besluit nie, moet ek ‘n nuwe een laat maak of nie? Sulke gewigtige besluite raak al moeiliker met die ouderdom saam. Ek sal maar eers wag en sien. 😳

Ns. My HIV toets was negatief. Ek het my bloedtoetse al langer as ses maande uitgestel en daar was ‘n Clicks kliniek net om die draai van die brilmaker af 👼

Advertisements