Ponsie is nie ‘n gelukkige kat nie.  Sy is nie elke dag ongelukkig nie; om die waarheid te sê, wanneer die son skyn en sy buite in die tuin kan rondrol in die sand (veral wanneer sy so pas gebad is) of in die bome rondklouter, kan jy eintlik die genoegdoening op haar gesig lees. Sy lê soms die hele dag om en slaap daar buite. Maar o wee, die dag as die son nie skyn nie, staan sy buite op die vensterbank en skel op haar huismense. Karen sê sy is seker die kat dink ons is in beheer van die knoppies wat die son aan- en afskakel.

Op sulke dae bly sy nie lank buite nie en kom maak haar tuis op iemand se laptop. Daar lê sy lank uitgestrek oor die sleutelbord en suig die hitte in as ons nie betyds keer nie. Die feit dat sand en kathare, asook haar liggaamshitte, nie goed is vir die laptop se binnegoed nie, is vir haar van geen belang nie. Sy weet baie goed dis nie toelaatbaar om daar te lê nie, maar dit verhoed haar nie om daar langs die skerm te sit en gluur na haar mense wat nie die son-knoppie wil druk nie. Dan strek sy haar kastig uit, kruip-kruip ‘n bietjie nader en vat-vat so met die pootjie aan die sleutelbord, totdat sy aangepraat word.

Wie van ons het die idee gekry om plek te maak vir haar bêrsie op die lessenaars? Seker maar ek, want soms kan ek sulke onverantwoordelike besluite neem. Op ‘n koue dag soos hierdie, lê sy nou die hele dag lank op haar bêrsie, reg voor die laptop. Ek gee nie juis om nie, want ek het ‘n remote keyboard waarmee ek op my skoot sit, met my voete op die hoek van die lessenaar. Karen tik direk op haar laptop en bevind dit ‘n ongemaklike taak te wees wanneer sy rondom Ponsie moet tik.

Ek gaan so teen halfnege, nege-uur in die aand kamer toe om in die bed te gaan lees. Karen werk ‘n bietjie later en dan raak Ponsie ongeduldig. As Ma gaan slaap het, moet almal bed toe en sy maak haar stem dik om Karen aan te por, want hulle twee deel nou ‘n kamer.

Karen sê die eienaardige ding is dat, net sodra sy in die bed is, klim Ponsie by die venster uit om die tuin te gaan verken, in die pikdonkerte, want die son is mos nou amptelik afgeskakel.

Hier is dit nogal gevoelig koud. “Hulle” sê dis 21°C wat al klaar ongerieflik koud is na my oordeel, maar ek is seker die aanvoelbare temperatuur is heelwat laer. Lekker week aan al die bloggers en kom ons hoop iemand skakel binnekort weer die sonknoppie aan.

Advertisements