Ek het in die laat sestigerjare daar in Namakwaland gematrikuleer. Destyds het ons nog Afrikaans-Nederlands as ‘n vak gehad, wat beteken het dat ons saam met Afrikaans, ook Nederlandse literatuur bestudeer het. Ons het ‘n wonderlike literatuur-onderwyser gehad wat enige boek kon omskep in realiteit wat voor ons oë afgespeel het. Hy was ‘n onderwyser duisend en een van die rolspelers wat ‘n groot liefde vir lees by my gekweek het. Geen wonder dus dat ek nog steeds elke boek wat ons behandel het so goed onthou nie.

Een van my voorgeskrewe Nederlandse boeke was Morgen bloeien de abrikozen van Bertus Aafjes. Die skrywer het in die vroeë vyftigerjare in Egipte gewerk en gewoon. Morgen bloeien die abrikozen is ‘n versameling van kortverhale wat handel oor die lewenswyse, kultuur en veral die wyse sêgoed van die Arabiese inwoners, waarvan Aafjes meesal by monde van sy lyfwag, ene Hassan, verneem het.

Terwyl Aafjes op ‘n stadium in die hospitaal was, het hy in ‘n koerant gelees van die massabetogings teen vreemdelinge in die land. In sy voorneme om soveel as moontlik van die plaaslike lewe te ervaar, het hy besluit om een van die protesoptogte by te woon, maar Hassan het geweier om as lyfwag op te tree by die geleentheid weens die gevaar van besering of erger. Aafjes het hom egter nie laat afsit nie en met die volgende betoging was hy gereed om dit waar te neem. Gewapen met ‘n koppie koffie wat hy by die Griekse restaurant gekoop het, het hy buite op die sypaadjie gestaan om ‘n goeie uitsig te hê op die straat.

Met die aankoms van die betogers het ‘n klompie Arabiere wat ook op die sypaadjie gestaan het, begin om hande te klap om hulle simpatie met die betogers te betoon. Dis toe Aafjes opgelet het dat die betogers hom in die oog gekry het en met skynbare kwade gevoelens in sy rigting gemik het, dat hy besef het dat hy ook moes hande klap. Dit kon hy egter nie doen nie, want hy het nog steeds met die koppie koffie in sy hand gestaan. In paniek het hy omgedraai om terug te gaan na die restaurant toe en opgelet dat die eienaar reeds al sy besittings ingedra het en besig was om toe te sluit. Hy het dringend gewink en beduie dat die skrywer moes inkom deur die roldeure wat nog so ‘n halwe meter oop was en Aafjes het net betyds ingeduik. Nadat die betogers so ‘n paar keer teen die toe deure gestamp het, is hulle weg sonder verdere voorval.

Agterna het die skrywer nog gewonder of hy hom miskien net verbeel het dat Hassan een van die voorlopers onder die betogers was.

Die feit dat “men niet kan klappen met één hand” het vanoggend by my opgekom toe ek gelees het van die betogings en brandstigting wat nou weer oral in die land kop uitsteek. Daar is nie meer gerieflike roldeure wat oopgehou word en waardeur nie-deelnemers kan ontsnap nie. Nou is nie die tyd om met ‘n koppie koffie in die hand rond te staan nie. Ons gaan nou gereed moet staan om met entoesiasme (en albei hande) te klap of bereid wees om te help soek na ‘n oplossing, want dalk, net dalk, is die persoon wat jy ag jou lyfwag en beskermer te wees, die voorloper in die betoging.

 

Advertisements