Sleutelwoorde

, ,

In 2003 het ons ‘n huis gekoop daar in die Vaal Driehoek. Die huis en die tuin was ietwat verwaarloos, maar die huis was baie stewig gebou en daar was ‘n peperboom. Ek het in my ander blog, ‘n Geseënde Leeftyd, geskryf oor die peperboom en die werk wat ons deur die jare onderneem het om huis en tuin op te bou tot ‘n oase vir ons gesin waar ons twaalf jaar lank baie gelukkig gewoon het.

Die vorige eienaars het met hulle vertrek ‘n hele paar juweelstukke aan ons bemaak, onder meer ‘n kliptafel, ‘n voëlbad van klip en die ou tuinbankie. Dis laasgenoemde waaroor ek nou wil skryf.

Ons majestueuse vet kat, Oliver, het sonder omhaal die bankie vir haarself toegeëien, haar spesiale plekkie vanwaar sy die gewerskaf op die werf rondom haar beskou het. Die helder blou verf ten spyt, het ons onmiddellik geweet wat die oorsprong van die bankie was – ons generasie het genoeg van hulle gesien op die treinstasies waar hulle geplaas is vir die gerief van die passassiers wat op die treine se aankoms gewag het.

1 Oliver op die blou bankie

My man het die blou verf van die gegote-ysterraam afgeskuur, dit teen roes behandel en toe swart geverf. Die nuwe planke is vernis en die bankie het ‘n ereplekkie ingeneem onder die skaduwee van die groot stinkhoutboom aan die straatkant van die huis.

2 Tuinbankie

Daar is baie gekuier op en rondom daardie bankie terwyl die res van die huis en tuin nog onder konstruksie was. Dit was altyd my man se rusplek wanneer die tuinwerk hom soms baasgeraak het. Oliver het egter gesorg dat sy haar regmatige lêtyd op die bankie kon inkry.

3 Oliver op die tuinbankie

Toe ons na die kus toe verhuis het, het my man botweg geweier om die bankie agter te laat. Hoewel die meubelvervoermanne swaar moes dra (die ysterraam is nogal gewigtig), het die bankie eers op die balkon van ons woonstel in Elysium gestaan en toe weer in Mtwalume. Nou het dit gearriveer in Southport waar ons ‘n klein patio voor die sonstoepie agter die huis het, met ‘n mooi uitsig op die tuin.

Oliver is al jare nie meer met ons nie, maar ek “sien” haar nog steeds op die bankie as ek daar verbyloop.

4 Die tuinbankie se nuwe rusplek

Ons is nou behoorlik ingeburger in die nuwe plekkie: al die bokse is uitgepak en elke ding het sy plek; die badkamers is uitgeskrop, die stoof en res van die kombuis is onder hande geneem, die mure en vloere is skoon; die vensters blink (is ja, sien die foto hierbo) en die gordyne is in plek.

Nou gaan ek my gat op daardie bankie maak sit en toesig hou terwyl my man die tuin herorganiseer. Meer hieroor later.

Advertisements