home-158089_1280

“Hier” is Southport, KZN, in ons nuwe huisie. My man verspreek homself so elke nou en dan en vertel vir almal ons woon in Southfork (à la Dallas se Ewings) en ekself het al by geleentheid laat glip dat ons in Portsmouth woon, wat ons vriende laat dink ons het geëmigreer.

Ons het die afgelope paar dae uitgepak, skoongemaak en reggetrek, elektroniese en elektriese apparate is gekoppel, alarms is geaktiveer en die bure is ontmoet. Daar is nog spieëls en prente wat nie hang nie, matte opgerol onder my bed, gordyne wat nie pas nie, en die kat moet nog geprogrammeer word om van haar vorige potty training te vergeet – daai dêng kan in die tuin gedoen word. Hiermee kan Genis darem help deur die voorbeeld te stel.

Waddehel, ons het internet en ons het ‘n tuintjie, effe verwaarloos, maar ons hou van tuinmaak. Ons is in ‘n ouetehuis … nee wag, ek lieg darem nou, maar die dame hier om die hoek sê hier woon net oumense: sommiges is baie oud en tenminste een moes al heengegaan het. Ons is ‘n klein sekuriteitskompleks met slegs agt eenhede en lekker privaat.

In die dorpie is daar ‘n petrolstasie en ‘n paar besighede, onder meer twee bakkerye en ‘n supermark, wat beteken dat ons darem nie meer ‘n dagreis te perd moet aanpak om ‘n brood te koop nie. Baie belangrik vir ons: hier is ‘n kliniek, dokter en tandarts en Port Shepstone is net om die draai, 20 kilometer ver, wat beteken dat ons naby die hospitale en groot winkels is.

Behalwe Southport self, is hier heelwat gewilde strandjies rondom ons en volop vakansiegangers. Ons gaan terugverlang na die stilte en die afgeleë strande van Elysium en Mtwalume waar ons meer as twee jaar ‘n vreeslike laidback lifestyle gevolg het; ons sal weer “mens gewoond moet word” soos my ma sou gesê het, maar oor die algemeen dink ek die voordele oortref die nadele.

Ons kan die see hiervandaan sien (as jy op jou tone staan en jou nek rek), maar nie die strand nie. Toe ons vanoggend by die bakkery ‘n draai gemaak het, het ons sommer gou gaan loer hoe lyk die strand. Hier is ‘n voorsmaak van die fotos waarmee ek in die toekoms die bloggers kan toegooi, haha 😊

Southport Beach, KZN