Vervet money KwaZulu-Natal
Vervet money KwaZulu-Natal

Ek is mos ‘n vreeslike verdraagsame en mededeelsame persoon, maar soms, net soms, raak my moer sommer dik vir diegene wat my besittins vir hulleself toeëien sonder om te vra. Ek praat natuurlik van hierdie bloub@l aap hier bo en sy trawante wat by elke geleentheid regdeur my huis paradeer en vat net wat hulle wil. Daar word nie eens ‘n dankiekaartjie of ‘n “IOU” vir my agtergelaat nie.

Ons is op die oomblik baie besig met reëlings vir ons trek, hospitaalbesoeke, rondhardloop om internet-tyd te “leen” om ons werk te doen, ens., ens. Ons kan nie heeldag sit en huis oppas nie. Soms gaan dit so dol dat ons vergeet om elke liewe venster en gaatjie toe te maak voordat ons uitgaan, wat Saterdagoggend die geval was toe die hele gesin ‘n welverdiende uurtjie op die strand gaan deurbring en ongelukkig vergeet om die kombuisvensters toe te maak. Wanneer sulke geleenthede hulleself voordoen, is die meneer en sy trop soos blits in die woonstel om te kyk wat hulle te vrete kan kry. Hulle steur hulle nie veel aan die bouwerkers wat onder die balkon staan en raas, die bure wat op hulle gil of selfs aan Genis wat ‘n groot lawaai opskop nie.

Hulle is verdomp wetsgeleerd ook; hulle het hulle tyd gevat om die hele kombuis mooi deur te kyk en alles te ondersoek. Nie net het die brood wat ons op die kombuistafel agtergelaat het om te ontvries, voete gekry nie, maar die hele bottel grondboontjiebotter is saam. Die bottel Bovril is van die tafel af gedra tot by die wasbak en toe agtergelaat.

Bo-op die yskas het hulle ‘n pakkie Urbanol (vir die lang slapelose nagte) uit die plastieksakkie gegrawe, die boksie oopgemaak en net so gelos. Ek was nogal verlig dat hulle nie die pille gedrink het nie, want hoe sou ek ‘n trop slapende (of dooie) ape in my kombuis aan Natuurbewaring verduidelik het?

Ek was ook nie te ontsteld oor die vol botteltjie Panado-pille wat hulle geskaai het nie, want die bottel is “child-proof” en “eldery-person-proof” ook. Vra my, ek weet, dis een van daai botteltjies wat ek om die dood nie kan oopkry nie, selfs al spring ek met my volle gewig daarop.

Die ding wat egter my moer mooi laat koer het, was die gevolg van die vreeslike sooibrand wat ek opgedoen het, net om agter te kom die klein boggers is weg met my bottel Eno vrugtesout ook. Soos julle weet woon ons ver van die naaste dorp af en verlore brode, grondbootjiebotter, hoofpynpille en vrugtesout kan nie sommer net vervang word nie.

Nou kyk, ek wil geen aap iets slegs toewens nie, maar ek hoop met my hele hart dat hulle darem in staat was om die Eno-botteltjie oop te kry, want ek sou hulle graag ‘n goeie opelyf wou toewens.

Om die waarheid te sê, ek hoop die tropleier het die hele bottel weggeslaan, met of sonder water, en dat hy nog steeds besig is om homself te bek@k.

Advertisements