Ter wille van die liewe gesondheid moet ek elke dag ten minste drie kilometer loop by order van die kardioloog. Dis gelukkig nie ‘n probleem nie, want om buite in die natuur rond te loop is my idee van ‘n lekker paartie. My dogter doen gretiglik mee, maar ek vergeet soms dat sy Maximanus se dogter is – sy en haar pa doen niks op matige wyse nie. Dis hoekom die drie-kilometerstappie soms ontaard in ‘n nagmerrie van rotse klim, myle se voete sleep deur duinesand, per ongeluk swem in branders wat hulleself nie kan gedra nie, ‘n geswoeg deur modder en reën … noem maar op, ek is al daardeur … net om ure later weer op te daag by die huis met slepende voete en seer spiere, rooi gebrand, papnat en doodmoeg.

Ons “verkenningsuitstappie” na  die Lake Eland natuurreservaat op die platorand van die Oribi Gorge was geen uitsondering nie.

Dit het goed begin. Ons was vroegoggend op pad en het by die onderkant van die Gorge ingery, oor die Umzimkulwanerivier. Dit was ‘n bewolkte dag en die sandsteen was bedruip met mos en waterstroompies wat teen die klippe afgesypel het. Die rivier het nie juis baie water ingehad nie, maar ons kon tog sien dat dit goed gereën het daar die afgelope weke. Dit was die soort mooi wat selfs my groot mond gesnoer het.

By ons bestemming aangekom, het ons besluit dat die hangende brug (suspension bridge) wat tagtig meter ver oor ‘n kloof gespan is, ons eerste aandoenplek sou wees. Ons het gebrand het om die Gorge van bo-af te bekyk. Op pad daarheen het ek so uit die hoek van my oog ‘n beweging onder ‘n boom gesien en skielik het ‘n blouwildebees tevoorskyn gekom. Ons het geweet dat daar wilde diere in die reservaat was, maar het hulle glad nie langs hierdie bepaalde roete verwag nie. Oomblikke later het ons besef dat daar ‘n oorvloed van wildsbokke in die veld rondom ons was. Die lekkerste verrassing was die elande en oribi (waarvandaan die Gorge sy naam gekry het). Die bokke het hulle nie veel aan ons teenwoordigheid gesteur nie.

Ons het eers die “loo with a view” besoek en toe die uitsig bewonder van die uitkyktoring af voordat ons oor die hangbrug getrippel het. Die brug het gesorg vir groot opwinding (lees grillerige senuwees en jellierige bene) deur ietwat te swaai en mee te gee met elke trippelpassie. Ek het probeer om suutjies te trap, maar moes boonop by verskeie punte omdraai om te pose vir die photo shoots. Ek weet nie hoe lyk dit daar van die brug af ondertoe nie. Ek dink nie ek het ooit afgekyk nie. Dalk het ek nie my oë oopgehou nie. Jy kan net in een rigting loop op die brug, want twee mense kan nie by mekaar verbyskuur nie en ons moes met ‘n bospaadjie oploop om weer op die gelykpad te kom. Tot dusver was ek heel gelukkig met my dag se oefening.

Dit het alles skeefgeloop toe my dogter besluit het om na die spelonke daar onder in die Gorge te gaan kyk. Kyk hier onder tussen die fotos is ‘n Google Map wat die stel trappies na benede baie mooi wys. Ek hou nie juis van afdraandes nie, want my brieke is nie goed nie. My knieë, ek bedoel my knieë. Ek het probeer beduie dat trappies nie my sterk punt is nie, maar my dogter weet net hoe om met haar ma te werk; sy speel my soos ‘n konsertina, trek my oop en toe, en druk daai knoppies totdat my musiek verander van bitsige rap tot vrolikheid wat die voete laat jeuk.

Sy druk toe daai knoppie wat sing: “Ek dink Ma is dalk ‘n bietjie oud vir hierdie soort oefening”. Sê WIE, huh? Net daar spring ek op die voetpad en huppel die afgrond in. Ek loop al 383 daai trappies af sonder om ‘n oog te knip. Ek was in elke geval te bang om my oë te knip.

Die grotte was … wel, donker en so aan, maar daar is ‘n uitstalling wat die khoisan-leefwyse voorstel en ons het ‘n rukkie daar vertoef. Wat dit egter alles die moeite werd gemaak het, was die ongelooflike uitsig van die grotte af tot onder in die bodem van die Gorge. Die son het saamgespeel en by tye uitgekom sodat ons fotos kon neem.

Maar, alle goeie dinge kom tot ‘n einde en ek moes weer die 383 (ja, drie-honderd-drie-en-tagtig) trappe teen die steilte uitklim. Ek het daar opgehuppel, van een bankie tot die ander en later van een trappie tot die volgende, waar ek dan so ‘n rukkie kon sit, om dan weer orent te kom met ‘n gekraak van stywe litte om voort te huppel. My geduldige dogter het my rustye benut deur elke liewe besie en goggatjie langs pad af te neem. Ek het my deel gedoen deur soveel van die pragtige blomme uit te wys as wat ek kon. Meer blomme = meer fotos = meer rustyd, sien?

Teen die einde het my tong van trappie tot trappie gesleep en dit het laaank gevat om bo te kom.

Dit het my ‘n hele dag lank gevat om te herstel van die ongewone marteling … oefening, ek bedoel oefening … maar ek beplan om gou-gou weer terug te gaan, want ek het iets gesien wat my vreeslik interesseer. Kyk net na die pragtige fotos hieronder. Mooi blomme, nê? Die ander twee fotos wys die zip lines (altesame 4,5 kilometer se foefieslaaid) tot onder in die Gorge waar die amptenare jou weer oppik en per voertuig terugneem na die beginpunt.

Ja, ek moet teruggaan.

Het ek vertel dat my dogter aan hoogtevrees ly?

My dogter sal leer om suutjies te trap rondom haar ma se ouderdom. 😀  😀

Advertisements