Sleutelwoorde

, , , , , ,

Vandat ons hier in die Koninkryk van Zululand ingetrek het, het ek baie nuwe dinge geleer. Ek het geleer hoe dit klink om elke oggend wakker te word met die klap van die branders wat hulleself te pletter loop op die rotse, om daglank oor warm sand in die son rond te loop en dan in die koel water rond te dryf totdat my vingers en tone verpruim, om vrede te maak met die apies wat my brêkfis so voor my neus van die tafel af steel, om blare uit te sit vir die mak wildsbokke wat hier op die rand van ons grasperk wei, om rys en broodkrummels oor die balkonmuur te gooi vir die kwetterende wewervinke wat nes maak in die palmbome, om te gaan slaap met die slag van donderweer en bliksemstrale oor die see of die gekwaak van paddas hier onder in die dam.

Dit was ‘n heerlike klaskamer waar ek baie lesse geleer het en die meeste daarvan was goed. Daar was ook die minder goeies soos my kenissname met die Natalse muskiete, duwweltjies en slange in die lang gras. Maar hierdie is nie ‘n storie oor muskiete, duwweltjies en slange nie; dis ‘n storie oor piesangs. Kyk, ek vrek mos oor piesangs, so ek was behoorlik in my noppies om die klomp piesangbome orals hier in die omgewing te sien.

Die eerste jaar wat ons hier gewoon het, was nie ‘n goeie reënjaar nie en die piesangbome wou maar nie piesangs oplewer nie, maak nie saak hoe ek hulle dopgehou het nie. Hier onder by die hek was daar darem so een of twee trossies, maar dit het die blouape opgevreet toe hulle nog grasgroen was en niks langer as my vinger nie. Dis nou dieselfde vinger wat ek vir hulle rondswaai wanneer hulle my vrugtebak leeg steel.

Ek gaan bekla my lot by my wederhelf en hy lag vir my. Hy LAG vir my. Man, die meerderheid van hierdie bome is nie regte piesangbome nie. Huh, daar is verkeerde piesangbome ook? Nee, dis wilde piesangbome en hulle dra nie piesangs nie. Nuh? Nee, jy het reg gehoor, geen piesangs nie. Wel dis nou vir jou ‘n simpel boom wat lyk soos ‘n pesangboom, maar geen piesangs voortbring nie; die wildevyboom dra tenminste darem sulke harde vrank vruggies wat lyk na vye … wat die ape opvreet. Hulle vreet ook die mangoes, koejawels en grenadellas wat hier onder in die kloof groei. En my gekoopte vrugte.

Wat ek nie kon kleinkry nie, is die feit dat ons nie toegelaat word om die wilde piesangbome uit te haal nie. Daar staan hulle, lewensgroot, dra geen piesangs nie en versper boonop die uitsig op die strand en die rivier ook. Hulle dra glo wel die een of ander soort vrug met sade wat … wag hiervoor … baie voedingswaarde het vir die ape. Dus moet ek hulle nou maar verdra.

Hierdie jaar was tot dusver ‘n goeie reënjaar, ‘n baie goeie reënjaar; om die waarheid te sê: as dit ‘n beter reënjaar was, het ons al almal al aan vrotpootjie gely. Maar toe die son weer een dag sy kop uitsteek, gebeur die wonderwerk – die simpel faux piesangbome begin blom so op ‘n streep. My bek hang oop van pure verwondering. Die blomme is mooi en hulle lyk net soos ‘n strelitzia, behalwe dat hierdie blom sulke persblou kroonblare het en spierwit kelkblare, waar die strelitzias wat ek ken se blomme blou en oranje is (of blou en geel as hulle baie grênd is en Madiba se naam dra).

Nouja, sê my alwetende wederhelf, dit is mos ‘n strelitzia, hulle noem hom die kommin strelitzia. Ekskuus tog, maar ek het seker nie reg gehoor nie, eers het jy gesê dis ‘n wilde piesangboom en nou is dit ‘n kommin strelitzia? Toe wip ek my gat in ‘n krul en gaan vra vir Mevrou Google en ja, hierdie boom wat lyk soos ‘n piesangboom, staan ook bekend as die Comm0n Strelitzia / Strelitzia Nicolai / Natal Wild Banana).  Die vrug bestaan uit drie lobbe in ‘n houtomhulsel wat oopbars om die swart saad in die oranje wollerige bedekking vry te stel. Die saad is baie gewild onder soogdiere en … wag vir dit … veral die blouapies.

Hoe dit ookal sy, dit was ‘n baie aangename kennismaking met die kommin strelitzia en kommin is mooi, kommin is goed. Ek wil ook so mooi kommin wees.

 

Advertisements