Sleutelwoorde

, , ,

Hierdie week se Discover Challenge Radical Authenticity het my laat nadink oor die dinge wat ons skryf, fotos wat ons neem en inligting wat ons deel op sosiale media. In die openings-inskrywing word onder meer menings aangehaal dat dit by sommige mense ‘n gevoel van onsekerheid skep wanneer hulle op sosiale media sien hoe perfek ander mense hulle eie persoon en lewe voorstel. Nog erger, persone wat so ‘n oënskynlike feëverhaal leef, begin ly aan identiteits-uitputting: ons is so besig om onsself as suksesvol en gelukkig voor te stel, dat ons terselfdertyd besig is om onsself uit te put.

Die idee agter die uitdaging, soos wat ek dit verstaan, is om ons aan te moedig om met volkome eerlikheid te lewe en jou ware self vir die wêreld te wys. Ek het hierdie soort van eerlikheid laas ondervind toe ek in ‘n baie klein dorpie gewoon het en die skinderbekke alles van my af geweet het, meer as wat ek self ooit van myself kon weet.

Nou toe, hier is my eie, opreg eerlike bydrae tot die debat:

Ja, eerlikheid en opregtheid is ‘n baie goeie ideaal. Emosionele, akademiese, politieke, seksuele en … en … probleme en triomfantlike oorwinnings moet bespreek word sodat die inligting daar buite beskikbaar is vir diegene wat dit kan en moet gebruik. Ons moet debat voer daaroor en profesionele menings daaroor bekom. Probleme van openbare belang moet aangespreek kan word, want onregmatighede mag nie onder die dekmantel bly nie. Ons eerlikheidheid en opregtheid moet sodanig wees dat ons saam kan soek na oplossings vir probleme en almal saam die voordeel kan trek uit oplossings en goeie raad. Ons moet nooit ophou kommunikeer en soek na ‘n beter lewe nie, want dan stagneer ons gemeenskaps- en spirituele lewens. Ons moet ook nooit ophou om mekaar te ondersteun in ons dae van nood (tasbaar en emosioneel) nie.

Hierdie openlike gesprekvoering en ondersoeke moet plaasvind op geordende wyse en met die doel dat dit die ore bereik van die gemeenskap in die algemeen, insluitende die persone en instellings wat ons verwag betrokke moet raak. Dit beteken dat hierdie soort sake aangespreek moet word op die regte platforms. Dis die rol wat in die verlede vervul was deur koerante (nie die Son nie), tydskrifte (nie die Huisgenoot nie), die kerke (wat self nie altyd te seker was van die boodskap wat hulle moes uitdra nie), die Parlement (uhm … ja). Sosiale media het die debat van die lewe oopgestel vir almal wat belang het daarby en dis goed so.

MAAR (daar is altyd ‘n maar, nè?), kom ons kyk nou na die ander sy van die saak ook:

Facebook word altyd voorgehou as die groot sondebok, so kom ons haal sommer die latte uit en help slaan. Daar word nou groot gewag gemaak van die feit dat mense net die goeie deel van hulle lewens op facebook vertoon – die luukse vakansies, die fotos van hulle nuwe motors, hulle kinders se prestasies, hulle oulike selfies en profielfotos wat so ‘n bietjie onder Photoshop deurgeloop het. Daar word niks gesê wat die facebooker in ‘n slegte lig kan stel nie.

EN? Wat daarvan? Ek gaan beslis nie ‘n foto van myself op facebook plaas met my vroegoggend-deur-die-slaap gesiggie, toegevou in my pienk kamerjas  nie. Ek sal mos nie so op straat verskyn nie; hoekom dan op facebook? Ek gaan nie hier oorvertel dat ek en my man ‘n luidkeelse meningsverskil gehad het oor die kleur van die nuwe gordyne nie; dis nie die soort nuus wat ek eens sal oorweeg om langs ‘n braaivleisvuur tussen vriende op te haal nie, hoekom dan op facebook? Gaan ek ‘n foto opsit van die pot rys wat ek aangebrand het of my sjokoladekoek wat platgeval het? Nee! Spaar my van sulke eerlikheid oor my onbeholpenheid! As dit die soort openbare eerlikheid is wat jy verlang, gaan woon op ‘n klein dorpie. Opregte eerlikheid word soms in elk geval net ‘n verskoning daarvoor om Jannie Jammergat of Willie Weetbeter te speel en in beide gevalle is dit ‘n pyn in die gat.

Daar is vir die facebook-leser ‘n baie maklike manier om haar-/homself te beskerm teen die uitputting wat ander mense se nie-opregtheid meebring: druk die scroll sleutel en rol verby die beriggie wat jou so uitput. As jy moeg is vir my vakansiefotos en kiekies van my kinders/kleinkinders, hou verby. As jy regtig gatvol raak, unfriend my asseblief; die kanse dat ek dit sal agterkom is op ‘n skaal van een tot 10 iewers tussen zilch en zero.

Dit bring my by die vraag: watter soort media is die beste wyse van kommunikasie om daadwerklike openhartige gesprekke en debatsvoering te handhaaf? Daar is klaarblylik ‘n behoefte aan so ‘n gespreksplatform wat nie sal ontaard in ‘n moddergooiery, ‘n monduitspoel-sessie of ‘n bespreking van my buurvrou se sekslewe nie.

Hoe sif ‘n mens deur die magdom inligting wat skielik beskikbaar geraak het op die internet? Wat lees julle?

 

 

Advertisements