Sleutelwoorde

, , , , ,

Ek het so ‘n rukkie terug begin om ‘n bietjie navorsing oor my familie te doen en in die proses het ek ontdek dat een van my oorle’ grootjies aan my ma se kant die bynaam van Piet Skopper gehad het. Die rede hiervoor, hoor ek, is die feit dat Oorle’ Grootjie so ‘n ratse man was: in die dae toe alle mans nog hoede gedra het, het geen man se hoed langer ‘n paar sekondes op sy kop gebly nie, maak nie saak hoe die man met die hoed gekeer het nie – Oorle’ Grootjie het dit sommer net so tjoef-tjaf afgeskop of afgeklap, net vir die snaaksigheid, net omdat hy kon (en seker om die meisies te beïndruk ook).

Maar, die storie gaan nie oor Oorle’ Grootjie nie, behalwe vir die feit dat ek hierdie ratse eienskap by hom geërf het. Ek is nie ‘n hoedskopper nie (want ek kan nie my been so hoog oplig nie), maar ek kan gatskop. Ek is ‘n Gatskopper van formaat.

Om nou by die storie uit te kom:

In die ou dae was dit mos nou mode om te rook, of te pruim, of te snuif, of jou kos gaar te maak in tabakblare … oukei, dalk het ek die laaste een nou uit my duim gesuig. Die feit is, daar is gerook, gepruim en gesnuif met oorgawe. Ons is aangemoedig om dit te doen. Onthou julle nog die advertensie waar die manlike mans ‘n Lucky Strike opgesteek het, of ‘n Gunston’tjie, of ‘n Marlboro’tjie: “na die aksie – satisfasksie”, of was dit “na die satisfaksie – kry die aksie”? Ennieway.

Ek kan nie onthou hoe die vrouens oorgehaal is om te rook nie, maar hulle hèt. Gerook en gesnuif … erm, ek is nie so seker van die pruim nie. Die aster wat by ‘n glansryke dans aan haar cocktail-sigaret, in dieselfde kleur as haar rok en aan die punt van ‘n laaang sigarethouer geteug het, was ‘n gerekende vrou.

Toe skielik verander die hele prentjie. Rook, snuif en pruim was uit en gesond leef was in. By die werk is ons eers net verbied om voor kliënte te rook, toe kon ons slegs in “dedicated smoking areas” rook, toe smyt hulle die rokers uit en ons moes buite in die reën en wind staan en rook. Restaurante, winkels en openbare bymekaarkomplekke het heel gou op die “no smoking”-wa gespring en ons rook-wêreldjies het al hoe kleiner begin word.

So saam met die onbeskofte kortknip, uitsmyt en hou verby beleide wat die regering en gesondheidsdienste in ons kele afgedruk het, het hulle elke nou en en dan die belasting op sigarette, snuif en pruimtwak begin verhoog. Stadigaan het ons begin besef het hoe sleg rook vir ‘n mens se gesond kan wees, hoe min nie-rokende mense van rokers hou en hoe hard die gewoonte jou sak slaan.

Ek het opgehou met rook nadat ek ‘n glansryke nag of wat in die hoësorgeenheid van die plaaslike hospitaal deurgebring het en met die uitkomslag die prediking van die kardioloog moes aanhoor: “Jy is oorgewig, jy kry nie genoeg oefening nie, die suurstof bereik nie jou brein nie omdat jy rook. Jou hart en ander organe kry swaar en jy hou aan met rook! Jy is besig om selfmoord te pleeg! As jy van my gaan verwag om na jou gesondheid om te sien, sal jy jou lewenststyl in oënskou moet neem. As jy nie daarvoor kans sien nie, moet jy dan nou maar doodgaan” Ek het. Nie doodgegaan nie, nee, ek het begin om gesond te eet, kilometers ver geloop vir oefening en … opgehou met rook. So groot was my skrik dat ek die laaste ou pakkietjie sigarette en goue sigaretaansteker net daar op die eetkamertafel gelos en weggeloop het.

Dit was meer as vyf jaar gelede en dit was MOEILIK. Dit was nog meer moeilik omdat my hele gesin gerook het. Ek het begin deur mooi te vra dat hulle ook ophou rook en plegtige beloftes is gemaak. Al daardie beloftes het soos rook oor die sandvlaktes versprei. In vyf jaar se tyd het ek myself hees gepraat, mooi gevra, spookstories vertel, gedreig, gesoebat en by tye moed opgegee. Ek het die persoon geword wat alle rokers haat: die gewese roker.

Toe beland wederhelf in die hospitaal met ‘n kerkhofhoes, seer longe, hart wat nie wil saamwerk nie en … die kardioloog skel my uit omdat hy rook. Sy skel MY uit, want hy is te siek om te luister. En my geduld knak. Ek vat sy sigarette weg en hy baklei. Ek weier om vir hom ander sigarette te gaan koop en hy baklei. Ek raak so kwaad dat ek hom vir twee dae verlaat en nie in die hospitaal besoek nie. Sy dogter (en mede-roker) praat nog kwalik met my. Op dag drie was hy sò bly om my te sien … en die eerste ding wat hy vra is ‘n sigaret.

Toe. Net toe. Toe verander ek in ‘n gillende feeks (hulle sê ek was nog altyd een). Ennieway, ek gil oor sy gesondheid, oor die moeite wat ek doen om hom gesond te probeer hou, oor die geld wat in die lug ingeblaas word op ‘n begroting wat buitendien nooit gaan klop nie, oor hulle klere wat stink, my motor wat stink, die stink sigaretstompies buite op die stoep, die stink rook wat per ongeluk by die deur intrek wanneer daar skelm gerook word in die middel van die nag – net vir jou inligting, ek kan daai sigaret ruik van oorkant die hoofweg af en moenie, o moenie naby my asemhaal nie, selfs nie as jy die Listerine by die mondevol drink nie. Hulle luister en maak hulle lywe skraal. Hy loop draaie om my. Sy dogter praat kwalik met my vir ‘n hele week. Maar hulle hou op met rook.

Dis nou ‘n maand later. My huis ruik skoon, die Listerine hou nou al die hele maand, die middernagtelike in-en-uit by die voordeur het opgehou, die humeure het bedaar. Daar is nou wel lekkergoedpapiertjies op elke oppervlakte, daar word vuisgeslaan oor die laaste toffie en die vrugtemandjie raak leeg in een dag, maar ek ry met graagte om nog te gaan koop. Dis net ‘n fase wat ook sal verbygaan. Ons praat weer met mekaar; die kwaadgeit is oor. En die aarde het in sy wentelbaan gebly. Dit was toe nie so vreeslik nie.

Ek bly natuurlik op my pos, besnuif die lug rondom my, kyk deur baksteenmure en om die hoeke om te sien of alles nog goed gaan en selfs die werkers op die oord hier langsaan rook op plekke waar ek hulle nie kan sien nie. Hulle staan gevaar om ge”fire” te word as hulle binne sig rook. My grootjie se naam was Piet Skopper en ek skop gat.

Kick Butt


Psst! As jy dalk een van daardie halsstarrige rokers is wat nie ore het nie, of sukkel met een van daai soort, lees gerus hierdie artikels. Daar is hulp beskikbaar. As die roker nie hulp wil aanvaar nie, pos hom vir my.

http://www.cansa.org.za/avoid-tobacco/

http://www.ekickbutt.org.za/ekickbutt.htm

http://www.cansa.org.za/plain-packaging-of-tobacco-products/

 

Advertisements