Sleutelwoorde

, , , , ,

Vorige inskrywing in hierdie kategorie:  Vindertjie.  English version here.
Hester with long hair at age fifteen.

Ek het vir die eerste keer besef hoe siek my ma werklik was na die tweede chemo-behandeling. Sy was bleek en naar. Wanneer sy nie oor die toiletbak gehang het nie, het sy net doodstil in die bed gelê, wat heeltemal buite haar aard is.

Ek het nie regtig geweet wat ek kon doen om te help nie: moes ek by haar sit, vir haar kos maak, die dokter bel? Sy het net met ‘n skud van die kop aangedui dat ek haar liewer moes uitlos. My ma het so lank as wat ek kon onthou nie daarvan gehou dat mense rondom haar moes “faff” (soos wat sy dit genoem het) wanneer sy siek gevoel het nie. Sy het van haar agtiende jaar af saamgeleef met baie erge migraine-hoofpyne en ons kinders het vroeg reeds geleer om onsself skaars te maak wanneer sy so siek gevoel het. Ek het wel haar kamerdeur oopgelos en elke nou en dan ingeloer, meer om myself gerus te stel dat sy nog asemhaal, eerder as om hulp aan te bied.

Teen dag twee het ek haar hoor roep en sy het gevra vir swart rooibostee, omdat die smaak van die chemikalieë in die drinkwater haar naar gemaak het. Ek het besef dat sy by die kraan in die badkamer water moes gedrink het, want ek het nie eens voorheen daaraan gedink om vir haar ‘n glas en waterkraffie in haar kamer te sit nie. Die dag daarna het al haar hare uitgeval terwyl sy gestort het en sy het poenskop by die badkamer uitgestap, duidelik geskok en onseker oor wat haar te doen staan.

Ek dink dis op daardie presiese tydstip wat ek my tienerjare agterlaat en volwasse geword het. Ek het besef dat my ma se versorging en die waarneming van die huishouding my verantwoordelikheid moes wees terwyl my ma so siek was. Terwyl my broer besig was om die paar klossies oorgeblewende hare op my ma se kop af te sny, het ek die badkamer en stort gaan skoonmaak. Ek moes handevol hare optel met die skoppie en besem, want die arme ou stofsuier het gewurg en die stort se dreineringsgat was verstop. Ek het die vorige weke reeds elke dag stilletjies al die los hare in die woonstel en uit die motor verwyder, want ek het geweet hoe ontsteld my ma sou wees oor die verlies van haar hare, maar daar was nog ‘n verbasende hoeveelheid hare oor.

Daarna het ek haar bed skoon gaan oortrek, haar kamer aan die kant gemaak, kos gekook, skottelgoed gewas en die hele woonstel reggetrek. My ma het net vir my gesit en kyk terwyl ek soos tornado deur die woonstel getrek het om skoon te maak; ek dink sy het besef dat dit vir my terapeuties was en dat dit tyd was vir haar, ‘n rasegte “control freak”, om die leisels te laat gaan en te konsentreer op haar gesondheid.

Hoe nader ons gekom het aan die einde van die reeks behandelings, hoe erger is sy daardeur geaffekteer. Ek onthou dat sy na nog ‘n behandeling een oggend wakker geword het, so moeg, uitgeput … dit is nog ‘n newe-effek van die chemo waarteen die onkoloog ons gewaarsku het, die lewensmoegheid. Terwyl sy die tee gedrink het wat ek vir haar gemaak het, het sy so ewe droog opgemerk dat sy so dankbaar is dat haar hare uitgeval het, want “vandag is ek beslis te moeg om ‘n hareborsel op te tel”.

Die dag toe sy die laaste behandeling ontvang het, is ook die dag waarop die onkoloog weggegaan het vir sy jaarlikse vakansie. My ma was weer siek en naar, maar teen hierdie tyd was ons al daaraan gewoond en ons sou net ons bes moes doen om deur die volgende paar dae te kom. Nege-uur daardie aand het sy my geroep en aan haar stemtoon het ek gehoor dat daar fout was. Sy was op haar knieë voor die toilet, spierwit bleek en papnat gesweet. Sy het net haar arm na my toe uitgehou om haar pols te voel. Dit was ook ‘n toestand waarmee sy lank reeds saamgeleef het, die polsslag wat sonder waarskuwing en oënskynlik sonder goeie rede net begin weghol soos ‘n wilde perd. Sy het jare reeds ‘n lae-dosis beta-blokkeerder daarvoor gebruik.

Hierdie keer was die polsslag nie net vinnig nie, dit het letterlik gebokspring, ‘n paar slae gemis en dan weer gehardloop. My eerste reaksie was om die onkoloog te bel, maar hy was reeds weg met vakansie. Die enigste ander opsie was om haar vinnig by die kliniek se trauma-eenheid te kry, gelukkig net vyf minute se ry van ons woonstel af. Daar aangekom, het die dokter aan diens opdrag gegee dat my ma se hartklop gemonitor word en die saalsuster het onmiddellik die kardioloog ontbied. Soos wat die wet van gemiddelde voorskryf, was die kardioloog besig met ‘n ander noodgeval en ons moes wag.

Ek en my broer het buite in die gang gesit en luister na die gepiep-piep van die hartmonitor. Ons het geweet dat die alarm wat elke nou en dan deurdringend gebliep het, ‘n teken was òf dat die hart nie klop nie òf dat die die hartklop gevaarlik vinnig en haar bloeddruk te hoog is. Die personeel was baie besig, kon of wou nie vrae antwoord nie en ons het al hoe meer gespanne geraak … veral toe die hartmonitor skielik net een lang skril skreeugeluid begin maak het. Die dokter en saalsuster het verby ons gehardloop agter die gordyn in en junior personeel het ons teruggehou in die gang. Dit blyk toe dat my ma begin het om die elektrodes af te pluk sodat sy kon opstaan om met ons te praat, want sy het gehoor dat ons daar buite in die gang sulke histeriese gilletjies gegee het elke keer as die monitor se alarm afgaan.

Daarna is sy vinnig “geprosesseer” (wat ‘n uitdrukking!) en gang af gestoot in ‘n rolstoel, die bliepende hartmonitor en twee kinders agterna. Die kardioloog het instruksies gegee oor die medikasie wat my ma moes kry en gesê sy is nie in onmiddellike gevaar nie, maar dat sy opgeneem moes word vir observasie. Ons is twee-uur die oggend huis toe, ietwat kalmer, maar nogtans bekommerd en te rusteloos om te slaap.

Die volgende oggend met besoektyd het ons ‘n vrolike groepie pasiënte in die saal aangetref, almal besig om hulle dokters se lof te besing of van hulle te skinder. Nog ‘n krisis was verby.


Die foto is van my ma toe sy vyftien jaar oud was, met lang hare wat gewoonlik gevleg was.

Advertisements