Solid Old Car Clipart by j4p4n : Car Cliparts #3334- ClipartSE

Ek het voorheen al geskryf oor goete wat so wegraak in ons huis, en die frustrasies verbonde daaraan, in … want ‘n ding het ‘n plek. Dus, vir scrapydo se Toeka-Tokkel no 27: Soektog, het ek besluit om te vertel van my motors wat so “wegraak”.

Pretoria, 1971: Dis die jaar wat ek my man ontmoet het daar in Sunnyside waar albei van ons in die Jeugtuiste gewoon het. Hy en sy kamermaat was destyds van die min jongmense daar wat motors besit het en hulle het lekker gekuier saam met die vriende en tussen die meisies. So het ek verneem van die Maat wat na ‘n groot joligheid een aand, by die Burgerspark Hotel, by die deur uitgeslinger en in sy kar geklim het. “O hel, my pêl,” sê hy vir my man, “iemand het my stuurwiel gesteel.” Dit het albei van hulle ‘n hele rukkie geneem om uit te werk dat Maat, wat vroeër sy motor stertkant eerste in die staanplek parkeer het, by die agterdeur ingeklim het, waar hy nou hard op soek was na sy stuurwiel.

Ek het heerlik hieroor gelag, maar het weldra self uitgevind watter beproewing dit kan wees as jou motorvoertuig (of stuurwiel) nie op die plek is waar jy gedink het dit is nie.

In daardie tydperk was die inryteaters nog die mees algemene en goedkoopste tydverdyf waaraan die jeug deelgeneem het: ons het nie per persoon betaal nie, maar per motor. R1. Dis reg, één rand per motor ongeag die hoeveelheid passassiers. Die gevolg was natuurlik dat soveel van ons as moontlik in my man se seegroen Volkswagen beetle ingedruk het om te gaan fliek. Een aand het almal van ons met pouse uitgespring om ‘n wegneem-etetjie te kry by die kafeteria op die perseel en met Danie, een van die agtersitplek-passassiers, op die voorpunt, het ons teruggetou motor toe vir die hooffliek. Ou Danie was maar bietjie stadig van begrip en elke nou en dan moes my man hom so ‘n bietjie op die hoogte van die cowboys en kroeks se doen late kry, want hy kan nou nie mooi die storielyn volg nie. Die fliek was skaars aan die gang, toe sê Danie: “Ou Jakkie, ek verstaan nou nie …” My man verduidelik gou onderlangs, maar Danie lyk nie tevrede nie en elke vyf minute herhaal hy sy klaaglied: “Ou Jakkie, ek verstaan nou nie …” Op die ou end ontplof my man: “Danie, wat die hel verstaan jy nie?” “Ou Jakkie, ek verstaan nie hoekom daar ‘n bababottel in jou kar is nie.” Ons kyk mekaar met onbegrip aan, want toe was ons nog nie lank genoeg gekys om ‘n baba in die prentjie te plaas nie. Dis toe wat ons besef dat ons s’n nie die enigste seegroen Volla in die inry was nie. Die een ding wat ons nooit kon kleinkry nie is – waar was die eienaars van die vreemde motor (en hulle baba) dan?

Weer Pretoria, 1980: Ek het so pas my eerste, eie motor gekoop; ‘n 1100 Golfie, R4800 splinternuut uit die boks. Net nadat ek my motor vroegoggend in ontvangs geneem het, ry ek gou om ‘n tandartsafspraak in Irene na te kom. Ek parkeer so windgat langs ‘n kombi-bussie so skuins voor die spreekkamer, waar ek ‘n ogie kan hou oor my nuwe motor. Na die tyd stap ek daar uit met ‘n dik lip en ‘n dooie tong, net om te sien hoe ‘n wildvreemde man die Golfie se deur oopsluit en inklim. Ek is nie links nie, storm nader en dreig hom met dinge erger as die dood, maar hy kyk my net uit die hoogte aan, draai die venster toe en en ry kalmpies weg. Intussen arriveer die eienaar van die kombi ook en ek probeer vir hom vertel wat gebeur het, maar hy ignoreer die vreemde vrou wat met slepende tong en dik lip buiteaardse geluide maak, klim in sy kombi en ry weg. Dis toe wat ek my nuwe Golfie gewaar, selfde kleur, selfde model as die een waarmee die eerste man weggery het, geparkeer reg aan die anderkant vanwaar die kombi gestaan het – en reg voor die bottelstoor. Wat hét deur daardie twee kêrels se koppe gegaan?

Bloemfontein, 1984: Ek was hoogswanger met my dogter toe ek met my twee klein seuntjies by my in ‘n systraat onder ‘n groot koelteboom parkeer het op ‘n boosaardige warm somersdag, om net gou by die biblioteek aan te doen. Twee ure later stap ons uit die biblioteek, met arms swaar gelaai van boeke, en al wat ek sien is net ‘n leë parkeerplek daar waar my windmaker, posbusrooi Escort Deluxe behoort te wees. Wie, o wie het my mooi, rooi motor gesteel en hoe gaan ek my man laat weet (dis voor die dae van selfone en daar is nie ‘n telefoonhokkie in sig nie)? ‘n Uur later staan ek nog steeds onder die boom op die sypaadjie voor die biblioteek, hopende dat my man sal onthou waar ons is en sal kom soek (hy het nie; daar was ‘n rugbywedstryd aan en hy het vasgenael gesit voor die televisie). Die kinders is moeg en neulerig, die boeke is swaar en die hormone maak dat die trane in wartervalle oor my wange loop, toe daar uit die bloute ‘n barmhartige samaritaan verbyloop. Hy vra en ek vertel van my motor wat gesteel is. Ek huil. Hy vra hoe die motor lyk en sê ek moet bietjie wag, hy gaan net ‘n bietjie rondkyk. Vyf minute later kom hy terug met ‘n glimlag wat hy nie kan wegsteek nie: “Mevroutjie, daar aan die agterkant van die biblioteek onder ‘n boom staan so ‘n posbusrooi Ford Escort. Dalk is dit joune?” Dit was. Regte kar, verkeerde boom. Dankie Meneer, ek sal jou vriendelikheid nie vergeet nie.

Tygervallei, 1988: Ons het pas daar doer in die Kaap aangeland, komplimente van die staat wat my man (weer eens) verplaas het en het nog gesukkel om ons rigtings te bepaal. Die Kaap is mos plat en jy kan eintlik net in twee rigtings ry – na die Berg toe en weg van die Berg af. Dis in die dae voor GPS. Dit is ook in die dae voordat die banke elektroniese slotte en die Pneumatic Chute-stelsels gebruik het en omdat ek verantwoordelik was vir die toesluit van die kassiere se ondertoonbankkluise, het ek ‘n yslike bos sleutels saam met my gedra in ‘n aktetas. Die verantwoordelikheid vir daardie sleutels het net so swaar geweeg as die sleutels self. Een Vrydagaand na werk het ek en my man die kinders (nou drie van hulle) opgelaai by die kleuterskool en ons is winkel toe vir ‘n paar vinnige inkopies, voordat ons huis toe kon gaan. Die winkels was toe reeds baie veiligheidsbewus en die winkelbestuurder het botweg geweier dat ek die aktetas in die winkel inneem. Hoekom? Handsakke is wel toegelaat. Ek het nie gewag vir die antwoord nie, net my beursie en die bos sleutels uitgehaal om saam te dra (die sleutels moes volgens bankreëls altyd in my besit wees). Inkopies is gedoen en ons is terug na die motor toe … wat nêrens te bespeur was nie. Hierdie keer was dit ‘n wit Toyota Sprinter en elke tweede jafel het met ‘n wit Sprinter gery. En almal het sulke rooi strepe langs die kante gehad. Die enigste onderskeidende kenmerk was dat ons s’n nog Vrystaat-nommerplate gehad het. Nie een van ons kon onthou waar ons geparkeer het nie. Ek was oortuig dat die kar gesteel was en het net elke vyf minute hardop gebid om dankie te sê dat ek die belangrike bos sleutels by my gehou het. Na die vyfde (of miskien die tiende) skietgebedjie het my man baie onvriendelik en ferm verduidelik presies wat hy van plan was om met daardie bos sleutels te doen as ek nog net één woord daaroor te sê het. Het ons toe die motor opgespoor? Ja, baie later, presies daar waar ons hom gelos het, maar ons moes wag totdat die meeste kopers huis toe is en die parkeerarea redelik verlate was.

Na hierdie episode het ek amper paranoïes nougeset geraak oor die presiese plek waar ek my motor parkeer het en dit het vir ‘n lank ruk baie goed gegaan.

Toe gebeur dit weer, in Johannesburg, net nou die dag: Die bank het so vyf of meer groot parkeergarages waar parkeerplekke aan personeel geallokeer word op ‘n “first come first serve” basis. Dit beteken dat daar wel ‘n parkeerplek in jou geallokeerde gebou beskikbaar sal wees vir jou, maar nie noodwendig altyd op dieselfde plek of selfs op dieselfde vloer nie. My parkeerplek was in die parkade wat jy bereik deur ‘n ondergrondse tonnel en waar honderde motors elke dag op ses vloere geparkeer word. Ek het gewoonlik vroeg in die oggend gearriveer en dan het ek my motor parkeer reg langs die hysbakke, op die vierde vloer, by die pienk pilare. (Die pilare op elke vloer was in verskillende kleure geverf, om personeel te help onthou waar hulle parkeer het). Op my laaste dag by die werk het ek met ligte tred op die vierde vloer uit die hysbak geklim en begin aanstap na my klein swart Panda toe … wat nie was waar ek hom verwag het nie. Ek het links en regs gekyk, niks gesien nie en besluit dat ek seker maar per ongeluk op die verkeerde vloer beland het, hoewel ek doodseker was dat die pilare pienk was. Ek ry een vloer op in die hysbank, loer uit … geen Panda. Ry twee vloere af en loer uit … geen Panda nie. Nou raak ek bekommerd, klim op elke vloer uit en bekyk die parkeerplekke by die hysbakke, met nul resultate. En ek bars in trane uit. Ek is vyftig kilometer weg van die huis af MAAR ek het ‘n selfoon, so ek bel my seun in Sandton en beveel hom om onmiddellik middestad toe te kom om my motor te soek. “Ma,” sê hy, “bly nou kalm en dink. Het jy op al die vloere gekyk voor en agter die hysbakke?” Ja, natuurlik het ek. “Ma, het jy gekyk na die nommer van die parkeerplek?” Nee, en vir wat, ek weet mos dis die pienk pilare reg langs die hysbak. “Ma,” sê hy, “is jy in die regte gebou? Het jy vanoggend deur die tonnel geloop?” O sh@t, klap my breinselle skielik in, omdat dit my laaste dag was en ek my besittings huis toe moes karwei, het ek in die hoofgebou parkeer, reg by die hysbakke, langs die pienk pilaar van daardie gebou.

Die Panda was veilig en is nog steeds in my besit. Hy is die enigste van sy soort hier in ons klein dorpie en as hy wegraak, kan ek maar sommer net hier in die straat rondvra, iemand sal my beduie waar hy is.


Image from cliparts.co

Advertisements