Sleutelwoorde

, , , ,

Toeka-Tokkel: Droom

Ek kry nou nie juis tyd om snags te droom nie, want ek deel my slaapkamer met ‘n Slapelose Siel, een wat nooit deur die nag slaap nie, hoewel hy skynbaar geen probleem het om bedags ‘n uiltjie te knip nie. Die Slapelose Siel rinkink enige tyd van die dag of nag, totdat hy moeg genoeg is om te gaan slaap.

Ons slaap nie in dieselfde bed nie, om verskeie redes wat verband hou met gesondheidstoestande, ouderdomspyne, verskillende slaappatrone en so aan. Ons het wel twee beddens wat langs mekaar staan, net buite raakafstand, of klapafstand of spoegafstand, wat ookal die bui is wat op ‘n bepaalde oomblik in die slaapkamer heers, maar dis nou nie waaroor hierdie storie gaan nie.

Of dalk gaan dit juis daaroor.

Ek is ‘n slaper van formaat in diè opsig dat ek binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde wegdommel, die oomblik as my kop die kussing slaan. Ongelukkig word ek net so maklik weer wakker as iets my pla en as jy my wakker maak, beter dit vir ‘n baie goeie rede wees, want ek is nie ‘n vriendelike ontwaker nie. Die Slapelose Siel het nog nooit hierdie konsep onder die knie gekry nie, vandaar die skeiding van die beddens – terwille van sy veiligheid.

Ek wil slaap wanneer dit donker is, maak nie saak hoe laat dit donker word of hoe laat die son opkom nie; as dit donker is, wil ek slaap.  Slapelose Siel sit tot wie weet watter tyd van die nag en bingo speel op die internet of hy kyk hierdie raserige flieks wat my dwing om met ‘n ipod en oorfone slaap om te verhoed dat geluide van buite my skedel binnedring.

Klokslag tien minute nadat ek my lig afgeskakel het, wat ‘n duidelike teken behoort te wees dat die okkupeerder van die kamer nou slaap, storm die Slapelose Siel die badkamer binne om te stort en te skeer. Hy doen dit ook nie stilletjies nie, nee, hy skuif die vensters tussen die badkamer en die slaapkamer oop, rol die blindings op en begin gesels in ‘n vreeslike vrolike stemtoon oor die fliek wat hy besig is om te kyk. Hy het net gou kom stort voordat ek slaap, want anders pla hy my dalk. Nè? Hy loop op dun ys.

Uiteindelik raak dit stil en ek slaap weer.

‘n Uur later is die fliek verby en die Slapelose Siel is nou moeg genoeg om te kom slaap. Hierdie keer gesels hy nie met my nie, maar wel met Genis, die majestueuse oorgewig hond. Hy maak seker dat Genis onder my bed inkruip en homself toerol in my muskietnet, sodat die muskiete hom nie pla nie. Die feit dat ek nou nie genoeg muskietnet oorhet om te sorg dat daar nie op my bloed ge”wine” en ge”dine” word nie, is nie van enige belang nie.

Uiteindelik weer – salige stilte. Ek raak weer aan die slaap.

‘n Uur later doen die natuur ‘n beroep op my en ek moet opstaan. Dis nie regtig vir my ‘n probleem nie, want ek kan daai dêng afhandel met toe oë, sonder om wakker te word. Ek kan in die middel van die nag kombuis toe loop met toe oë, ‘n piesang afskil en eet (ek is altyd honger in die middel van die nag) sonder om regtig wakker te raak. Ek slaap-loop terug bed toe, en net toe ek my lyf omdraai om te slaap, wil die vreeslike vriendelike stem weet wat ek eet; hy wil ook hê.

Okei, nou is ek wakker, maar ek maak of ek slaap en begin liggies snork in die hoop dat die Slapelose Siel sal besef dat sy gehoor geen aandag gee aan hom nie. ‘n Halfuur later kom die Slapelose Siel kom terug van sy middernagfees af en bied ewe vriendelik vir my ‘n skeppie van sy roomys aan. Hy skaats nou op ys met krake in.

Uiteindelik het ons weer stilte, maar nou kan ek nie my lê kry nie. Ek rol diekant toe en daaikant toe, ek kan nie op my rug lê nie, want my toonnaels is skielik te lank, ek gooi die warm duvet af, net om dit ‘n minuut later weer op te trek, my bek raak al hoe dikker en ek begin droom van moord. Nie ‘n slaapdroom nie, ‘n oopoë droom met bloedstollende wraakgedagtes.

In die vroeë oggendure begin ek so wegsweef op ‘n welkome slaapwolkie; nie ‘n rustige slaap nie, ek roei en stoei met die beddegoed. Met dagbreek word ek wakker en maak my oë oop. Groot fout. In hierdie slaapkamer moet jy liewer nie jou oë oopmaak nie.

“Môre”, sê die vreeslike vriendelike stem, “ek het darem wraggies lekker geslaap. Jy sal nooit raai oor wie ek gedroom het nie!” Nee, ek sal nie. As jy weet wat goed is vir jou, sal jy ook nie jou droom oorvertel nie.

Ek benader die dag met moeë tred en ‘n kromgetrekte rug. Sit ek so half deur die slaap voor my lessenaar met my kop gestut in my hande, toe hoor ek hierdie aardige geluide. Draai om en kyk na die Slapende Siel wat toe-oë agteroor op sy stoel sit en hierdie ploffende snorkgeluide uitstoot. En ek sink weg in ‘n oop-oë droom …


Image by WorldArtsMe

Advertisements