Definition of Emoji: a small digital image or icon used to express an idea or emotion in electronic communication

Nou het ek wragtag genoeg gehad.

Daar is sekere mense wat so obsessief is oor seks en alles wat daarmee gepaard gaan, dat ALLES op hierdie aarde gemeet word of gelykgestel word aan hulle (meesal gewaande) awesomazing sekskapades. Hulle praat oor seks, hulle skryf oor seks, hulle droom oor seks, hulle mors met seks en hulle verveel die blêrrie hel uit my.

Jy kan nie ‘n gesprek voer by die bushalte, ‘n koerant of ‘n boek of ‘n internet-applikasie oopmaak of ‘n fliek kyk sonder om te hoor en te sien presies wat in ander mense se (seks)lewe gebeur nie.

Mense word nou voorgestel aan mekaar, nie as Dominees of Doktor of plein Meneer nie – nee, hulle sekstitel, byvoorbeeld hereto-seksueel, lesbian, homo, a-sexual, bi-sexual, transgender, drag queen en en … tot vervelens toe, moet bygevoeg word. Dit moet op die daad uitgehaal, afgestof en bewonder word voordat ons nog op voornaambasis verkeer. Al die lede van ‘n sekere seksgroep haat enigiemand wat aan ‘n ander groep behoort.

So verneem ek nou dat sommige emojis (sien definisie hierbo) ook nou ‘n seksuele konnotasie het. “Hulle” (diegene wat weet), beveel aan dat jy baie versigtig moet wees as jy emojis in jou amptelike besigheidskorrespondensie gebruik, want jy weet nooit watter betekenis daaraan gekoppel kan word nie. Wie doen dit in elke geval? Ek stuur nie ‘n emoji met ‘n glimlaggende gesiggie vir die Ontvanger van Al My Inkomste nie.

Wat my nog meer die moer in maak: as ek nou my perske vir jou (per emoji) aanbied, kan jy jou eiervrug vir my tentoonstel. Op sosiale media. Daar buite in die kuberruim. Waar almal dit kan sien. Die probleem is dat ek (in ‘n vorige lewe waar mense beter maniere gehad het of hulle slegte maniere beter weggesteek het), net sou gedink het dat die perske / eiervrug ‘n oulike prentjie is, of dat jy my vir ete genooi het. Is ek naïef? Ja. Ek is ook so die bliksem in dat ek iets wil oorkom, want nou mors hulle met kos. Dit herinner my aan die dae van Die Man met die Goue Piesang wat sy finansiële sake by die Naaste Bottelstoor (NBS) bedryf het. Vervelige ou grappie.

Seks is nie ‘n verbode onderwerp in my teenwoordigheid nie, maar kan ons dit op ‘n volwasse wyse bespreek? Kan ons asseblief ook die fyn detail van jou tegniek en bedrywighede uit die geselskap hou? Ek gee nie om vir ‘n grappie so nou en dan as dit onder die belt is nie, maar kan jy tog asseblief jou broek aanhou? Net omdat ons volwasse, opgevoede persone is … behoort te wees. Ons kan ook baie ander onderwerpe bespreek, want my kennis en belangstelling in seks is op ‘n bevredigende vlak, maar daar is baie ander dinge wat my ook prikkel; ek meen soos musiek, sport, politiek, kuns, ens.

Nou hoor my nou my volk en nasie, hierdie is my staatsseksrede:

  • Ek gee nie om aan watter seksgroep jy behoort nie
  • Ek voel my nie verplig om jou te laat weet aan watter seksgroep ek behoort nie
  • Ek gee nie om wie aan jou perske proe nie
  • Ek gee nie om in wie se sop jy jou eiervrug inroer nie
  • Ek wil nie hoor watter tegniek jy gebruik om die perske af te skil of die eiervrug op te kook nie

JOU sekslewe bring vir MY geen plesier nie, net soos wat ek niks kan koop met jou salaris nie en nie met jou duur motor kan ry nie en nie in jou groot huis kan bly nie. Hou asseblief op om my te verveel. En as jy vir my ‘n emoji stuur, sorg dat dit NET ‘n glimlaggende gesigie is – een wat AL sy tande wys, want die glimlag met die passion gap doen absoluut niks vir my nie.