Parade_of_Basotho_women

Vroeër jare was ons klomp binnelanders gewoond aan temperature wat in die minusse gehardloop het en ons was daarop voorbereid, maar nou klappertand ons sodra die kwik onder 20°C daal. Hierdie naweek is dit so koud dat ons soos mummies toegerol is in ons komberse wat ons doer diep onder uit die linnekas moes gaan opgrawe. Daar in die Vrystaat het ons by Naomi geleer om komberse te dra soos wat net ‘n Sotho dit kan doen – met panache.

Dit herinner my toe aan ‘n besondere koue winter daar in die Vaal Driehoek, die soort koue wat jou gebeendere vries ten spyte van al die klere (en komberse) wat jy jouself mee bedek. Ek het destyds nog gerook, maar in ons huis het ons ‘n streng  nie-rook reël nagekom; die enigste genade was om na die motorhuis toe te verkas en daar te gaan rook wanneer die lus jou oorval.

So staan ek een Saterdagmiddag toegevou in my Sotho-kombersie, warm mussie op my kop, skaapvelpantoffels aan my voete en rook, toe daar so ‘n voorbarige ou meisietjie koe-hoeeei! daar van ons hek af. My man, ook nie links nie, maak sommer die hek vir haar oop en sy draf vrypostig na my toe: “Oe, hallo my ou Tannietjie. Dis darem weer koud vandag, nè, maar daai kombers is darem net die regte ding as jy jou siegrêtjie hier buite in die koue staan en rook!”

Ek vang my man se oog en sien hoe hy met sy volle ses voet in die sementvloer probeer wegsink. Hy weet hy het drooggemaak. Daar is ‘n rede waarom daardie hek gesluit is en daar is ‘n rede waarom daar nie ‘n klokkie of ‘n interkom in sig is nie; dit hou die straatverkopers weg van ons deur af. Hy moes nooit daardie hek oopgemaak het nie, veral nie vir ‘n ongenooide, voorbarige ou meisietjie wat met so ‘n klokkiestemmetjie vir my kom “Tannietjie” nie. Tannie is al erg genoeg om my te laat rooi sien, maar die verkleiningsvorm -“tjie” agteraan geheg, laat my bloed kook op die koue wintersdag. Boonop laat ek my nie seg oor my siegrêtjies nie.

“Tannie”, jubelsing sy, “ek wil nou vir julle iets vertel, maar dan moet ons nou daar in julle sitkamer gaan sit sodat ons lekker kan praat.” Sy nooi my uit … nee, sy beveel my om in my eie sitkamer te gaan sit sodat sy met my kan praat?! Ja, vertel sy verder, so met Eskom se tariefverhogings sukkel almal maar om by te bly met die betalings vir krag en sy het nou gekom om ons uit die moeilike situasie te red, “maar my Tannietjie kan nou maar eers haar siegrêtjie klaar rook en dan gaan sit ons nou lekker en gesels daar binne.”

Het hierdie meisietjie agtergekom dat Tannietjie tot dusver nie ‘n oog geknip of ‘n dooie woord gesê het nie en dat die Benson en Hedges siegrêtjie van die filterkant af GEKOU word? My man het dit agtergekom; dis nog net sy laaste krulhaartjies wat onder die rooi vloer van die motorhuis uitsteek. Hy sprak ook geen sprook nie.

Die Tannietjie weet presies waarvan sy praat – daardie apparaatjie wat aan jou warmwatertoestel gekoppel word om dit outomaties af te skakel op sekere tye van die dag. Dit kos toe so ongeveer R7000 as ek reg onthou. Die bure het reeds almal gekla oor die verkoopsmense wat hulle so pla en onder mekaar probeer uitwerk hoeveel maande se krag hulle met R7000 kan betaal.

Toe druk die Tannietjie met mening haar papnat siegrêtjie dood in die asbak, trek haar kombers reg en sê in ‘n afgemete stem: “Moenie worrie oor Tannietjie nie; Tannietjie het reeds so ‘n apparaatjie. ‘n Mens noem dit ‘n vinger. As ek my warmwatertoestel wil afskakel druk ek net sy AF-knoppie en wanneer ek dit weer wil aanhê, druk ek weer sy AAN-knoppie.” En net daar swaai Tannietjie met ‘n swierige gebaar die kombers se punt oor haar skouer en swiep grasieus by die motorhuis se deur uit.

Julle moet almal die week vorentoe geniet en hou maar die kombersies gereed, daar wag nog koue vorentoe.


Image credit: By VirtualSteveOwn work, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=6630258

Advertisements