English version here

Met my eerste besoek aan die chirurg twee weke na die mastektomie, was hy baie in sy skik met my vordering. Nadat die dreineringspype verwyder is, was ek reeds in staat om my arm bo my kop te hou en my hare self te borsel. (Ek het nietemin aangehou om die battery-aangedrewe tandeborsel te gebruik terwyl ek gelees of televisie gekyk het, tot groot irritasie van my familie!)

Goeie nuus was dat hulle geen teken kon vind dat die kanker begin versprei het nie, maar dit was nie ‘n honderd persent waarborg dat daar nie abnormale selle teenwoordig was nie en hy het my verwys na ‘n onkoloog. Dit het beteken dat ek nog ‘n verdere paar uur by die kliniek moes deurbring vir bloedtoetse, x-strale van my longe, sonar-video-opnames van my hart en ingewande – dit het gevoel asof my binnegoed uitgedop is om inspekteer te word. Dit was vir my, ‘n ware control freak, ‘n nare ondervinding om so hulpeloos en blootgestel te voel. Gelukkig was al hierdie fasiliteite beskikbaar onder een dak.

Nog ‘n geluk was dat ek al jare lank lid was van ‘n uitstekende mediese fonds. Daaroor was ek baie dankbaar, want al die mediese kostes is deur die fonds gedek, van begin tot einde.

Kort daarna het ek my eerste besoek aan die onkoloog gebring en hy het die uitslae van die toetse met my bespreek: my hart, niere, longe, lewer en nog ‘n paar ander organe waarvan ek nog nooit gehoor het nie, was in goeie orde, bloeddruk, suiker en cholestrol normaal. Goeie nuus dan.

Ek sou egter wel chemoterapie moes kry as voorkomingsmiddel, omdat borskanker vroeg reeds begin “uitsaai” en die behandeling is gemik op die vernietiging van enige kankerselle wat dalk nog in my liggaam teenwoordig mag wees.

“Maar”, sê die wyse man, “jy is eintlik baie gelukkig”. Net voordat my onderkaak die mat slaan, verduidelik hy dat ek ‘n hormoonverwante kanker het, wat maklik behandelbaar is, met goeie resultate. “Bowendien, as ek nou moes kies watter soort kanker ek wou hê”, sê hy, “sou ek borskanker kies, want die navorsing in daardie rigting het al so ver gevorder, dat die kanse op oorlewing en volkome herstel soveel groter is as by ander tipes kanker”.

Dankie Dokter, nou voel ek so gelukkig.

Siende dat daar niks met my verkeerd was nie, by wese van spreke, kon ons die volgende week reeds begin met die voorgeskrewe behandeling. Die onkoloog het verduidelik dat my behandeling oor ‘n tydperk van ‘n paar maande sou geskied en dat ek elke drie weke moes aanmeld vir chemo. Hy het gesê dat elke toediening my sou laat siek voel vir ‘n paar dae, maar dat ek sover as moontlik “normaal” moes voortgaan met my lewe tussen behandelings. Daarna het hy my voorgestel aan sy bekwame mediese assistent wat my gaan wys het waar ek die volgende week moes aanmeld.

Daar was ongeveer tien pasiënte besig om chemiese middels binne-aars te ontvang, vanuit die gemak van leerstoele in ‘n kring gerangskik – daardie soort wat jy agteroor kan stel om ‘n uiltjie te knip, wat sommige pasiënte ook gedoen het, tot my stomme verbasing. Party van hulle het onder mekaar gesels en sjokoladekoek geëet wat een van hulle gebak het. Ek is ook koek aangebied, maar my binnegoed het gereed gestaan om weg te hardloop en ek het die aanbod bedank.

Die mediese assistant het tussen die stoele rondbeweeg vir ‘n geselsie hier en daar en dis toe dat een van die pasiënte haar uitvra oor die rooi merke op haar hande. “O”, sê sy ongeërg, “dis waar ek myself verlede week gebrand het toe ek besig was om een van die pasiënte se drup gereed te kry”. Ek verneem versigtig en kry bevestiging dat dit die chemiese middels is wat aan pasiënte toegedien word waarna sy verwys. Dis nou die blêrrie soort gif wat hulle in my liggaam wil inpomp, het ek gegril, terwyl die ander pasiënte gelag het oor my verwilderde uitdrukking.

Gelukkige, gelukkige ek.

Daardie aand, terug by die huis, het ek probeer om ‘n brawe front voor te hou, maar dit was nie juis ‘n geslaagde poging nie en ek het maar in die bed geklim, waar Oliver my kom troos het. Oliver was Karen se majestueuse dik wyfiekat – sy het ‘n onverwagte geslagsverandering ondergaan ‘n paar weke nadat ons haar gekry het, maar sy het die naam behou – wat toe reeds vir agt jaar lank elke aand by Karen in haar bed geslaap het. Die eerste oggend terug by die huis na die mastektomie, het ek wakker geword met ‘n kat in my bed. Daarna het Ollie by my geslaap elke keer as ek siek gevoel het na ‘n chemo-sessie. Sy het pal by my in die kamer gebly op my “slegte” dae, totdat ek uiteindelik goed genoeg gevoel het om op te staan en dan het sy weer haar intrek in Karen se bed geneem. Dit het ‘n patroon geword gedurende die tydperk dat ek behandeling moes ondergaan en dit was ‘n vreemde troos om elke keer as ek wakker geword het, die plomp, warm lyfie teen myne te voel.

Oliver

Ek het nie kans gesien om by die huis rond te sit en naels kou terwyl ek die behandeling ontvang het nie en het die enigste uitweg geneem wat vir my sin gemaak het in ‘n wêreld wat skielik onderstebo gekeer is – ek het weer begin werk. Dit het ‘n mate van normaliteit verleen aan ons lewe en Karen het begin voorberei vir haar eindeksamen. My seun het my elke oggend werk toe geneem en in die middag weer kom haal, want hoewel ek net 20 kilometers van die middestad af gewoon het, was die verkeer ‘n nagmerrie. Dit was in die dae net voordat alle motors vanselfsprekend uitgereik is met kragstuur en ek sou gesukkel het met die stuurwiel en die ratte.

By die kantoor het net die kollegas in die afdeling waar ek gewerk het, geweet van die mastektomie en ek het dit so verkies. Ek was nie lus daarvoor om vrae te beantwoord of om my prognose, waaroor ek in elk geval nog self nie klarigheid gehad het, te bespreek nie. In my binneste het ek nog self nie die begrip van “ek het kanker” verwerk nie; boonop was ek een van daardie mense wat dit haat om my swakhede te bely en vertoon. Al wat ek wou hê, is dat my lewe sou gou as moontlik sou terugkeer na normaal. “Normaal” het vir my ‘n uitdaging geword, ’n mylpaal wat ek so gou as moontlik wou bereik.

Dit was die regte besluit om terug te gaan werk toe en het wondere gedoen vir my gemoed. My kollegas wat almal met ‘n goeie skeut humor geklap is, het nie gehuiwer om dit op my van toepassing te maak wanneer my humeur opgevlam het nie. Die episode van die ketting-e-pos was duidelik ‘n bewys daarvan. E-pos kommunikasie was ‘n nuutjie daardie tyd en in die korporatiewe omgewing is dit onmiddellik omhels as die ideale vorm van kommunikasie wat die gebruik van geskrewe memorandums uitgeskakel het. Ongelukkig het die werkgewers destyds nog nie die nodige reëls en regulasies in plek gehad om simpel grappies, kettingbriewe en al daardie euwels te beperk nie; die e-posse vanaf ander afdelings en selfs eksterne bronne het vrylik gevloei. Dis veral daardie ketting-e-posse wat jou beveel het om die “goeie boodskap” of gebed binne sewe dae aan sewe verskillende persone te stuur om groot ongeluk te vermy, wat my bloed kon laat kook.

Toe ek op ‘n dag weer een van daardie ketting-e-posse ontvang het, het ek luidkeels ‘n vloermoer gegooi. Die hoë afskortings tussen ons lessenaars het verhoed dat dat ons mekaar kon sien, maar my kollegas moes my wel deeglik gehoor het, want net oomblikke daarna het daar nog ‘n ketting-euwel in my inboks beland, hierdie keer van ‘n spanlid wat net aan die ander kant van die afskorting gesit het. Die boodskap was kort en kragtig: “If you do not pass this message on to seven people within seven days, your other tit will also rot and fall off”. Ek het histeries begin lag en almal het oor die afskortings geloer om saam te lag oor die poetsbakkery.

Dankie tog vir hierdie mense wat my sin vir humor kon opdiep uit ‘n donker gat. Ek het in die volgende paar maande telkens hulle ondersteuning nodig gehad en hulle het my gedra op daardie dae wat ek nie die krag gehad om myself voort te sleep nie.

Advertisements