Sleutelwoorde

,

Toeka-Tokkel: ‘n Mens in elke blom

My oudste seun is gebore in die Marifont Maternity Hospitaal in Pretoria in September 1978. Dit was ‘n lang en moeilike geboorte wat die hele dag voortgesleep het van vroegoggend tot laatnag.

Daardie dae was dit nog nie algemene gebruik dat die mans bygestaan het by die geboorteproses nie, maar my man het in die gang voor die deur van die kraamkamer geboer om elke greintjie nuus te hoor. Ek onthou net ‘n waas van pyn, die sagte ruising van die nonnegewade wat die susters gedra het en elke nou en dan my man se stem wat kla dat hy wil weet wat aangaan. Hulle was baie geduldig met hom tot op die einde, maar net nadat hulle hom die nuus meegedeel het dat ma en seun nog albei asemhaal, het hy skielik verdwyn.

Bykans twee ure later, in die middernagtelike ure, het hy ewe skielik weer opgeduik, nie heeltemal vas op die voete nie, maar met arms vol rose. Dit het later geblyk dat hy net na die geboorte besef het dat hy met al die spanning en simpatiepyne wat hy die hele dag moes verduur, vergeet het om vir sy vrou ‘n ruiker te bestel.

Hy het in groot nood ‘n paar vriende gebel wat opgedaag het met die nodige nattigheid om die geboorte van sy eersteling te help vier en hulle het vinnig ‘n plan gemaak: daardie dae was daar die lieflikste roostuine by die ou Uniegebou (is dit nog daar?) en hier aan die einde van September was hulle vol in die blom. Hy en die vriende het met alle beskikbare hande wat nie bottels en glase vasgehou het nie, soveel rose gepluk as wat hulle kon. Ek was agterna nog lank bevrees dat iemand hulle gesien het en dat die gereg gaan opdaag om hom op te laai vir betreding en beskadiging van staatseiendom, maar dit het darem nooit gebeur nie.

Die rose het hy sommer begin uitdeel onder die nonne en die dokter het ook ‘n roos en ‘n drukkie gekry, sodat daar toe nie veel vir my oorgebly het nie, maar die bedoeling was seker goed.Β Hy het darem belowe om te sorg dat ek wel my rose sou kry, net soveel as wat ek wou hΓͺ, en hy het woord gehou – oral waar ons heen getrek en huis opgeslaan het, het hy vir my ‘n roostuin aangelΓͺ.

Hierdie fotos is geneem by ons huis in Gauteng waar ons twaalf jaar gewoon het voordat ons see toe getrek het. Die roostuin was weggesteek tussen die garage en die skeidingsmuur tussen ons en die bure, want ek was selfsugtig met die genot daarvan; dit was alles myne. Ek het nooit toegelaat dat die rose gepluk word nie, want ek wou hulle sien blom daar in die tuin. Net my ma het so nou en dan ‘n rosie gekry om saam te neem ouetehuis toe.

Nou weet ek nie eens of my roostuin nog bestaan nie, maar die fotos sorg dat hulle in my gedagtes bly.

Advertisements