Sleutelwoorde

,

English version here

Ek het nooit voorheen daaraan gedink dat my ma ernstig siek kon word en doodgaan nie. Sy was maar altyd daar, deel van my lewe, besig met werk en buitemuurse studies of op reis om opleiding te gee. My ma het gemeen dat ek te jonk was om by die huis te bly wanneer sy miskien een of twee nagte moes uitslaap en sy het my elke nou en dan uit die skool laat bly om saam te ry. Toe ons in Bloemfontein gewoon het, het die streek waarin sy gewerk het, gestrek van Upington in die Noordkaap tot Harrismith in die Vrystaat.  Dit het beteken dat ons ure lank in mekaar se geselskap was in die motor en snags in gastehuise het ons ‘n kamer gedeel. Bedags het ek saam met haar werk toe gegaan, gewapen met my skoolboeke om by te hou met my studies. By geleentheid moes sy ook konferensies bywoon en daarvoor moes ons Kaapstad of Durban toe reis.

Met die oorplasing Johannesburg toe, het die rondryery tot ‘n einde gekom. Ek was in my voorlaaste skooljaar en my ma wou sorg dat ek nie klasse mis nie. Sy het lank en hard besin oor die skool waarheen ek moes gaan en toe sy haar finale besluit geneem het, het ons ‘n woonstel binne loopafstand van die skool af gehuur. In die maande daarna was ons besig om ingeburger te raak, my ma in haar nuwe pos en ek in my skool. Ek het selfs een of twee vriende gemaak, maar het nog merendeels my tyd na skool saam met my ma deurgebring. In daardie tydperk het my pa en twee broers in Kaapstad gewoon en die lewe met net ons twee saam, het rustig sy gang gegaan vir die volgende paar maande.

Vroeg in September het my ma my een middag by die skool opgelaai, wat vreemd was, want sy het nooit so vroeg van die werk af gekom nie. Ons het gaan koffie drink in die nabygeleë winkelsentrum waar ons altyd inkopies gedoen het. Sy het my vertel dat sy die oggend by die kliniek was vir haar jaarlikse mediese ondersoeke en dat ons huisdokter haar verwys het vir verdere ondersoek deur ‘n chirurg by dieselfde kliniek, later dieselfde middag. Dit was nie nodig om verder uit te vra nie, want ek het van die begin af presies geweet waaroor hierdie toetse gaan.

Ek het in die wagkamer gesit en het gehoor hoe sy ‘n gedempte gilletjie laat glip het. Sy het agterna verduidelik dat die chirurg ‘n naald-biopsie uitgevoer het wat redelik pynlik was. Daarna het ons in spanning gewag vir die oproep van die laboratorium. Drie dae later het die chirurg self geskakel om te sê die toets was negatief, maar dat hy tog nog onseker was oor die uitslag. Hy het my ma oorreed om die volgende week ‘n wig-biopsie te laat doen. Ek het egter geglo dat die resultate in orde sou wees, soos soveel keer in die verlede, en het nie te veel gestres oor die tweede biopsie nie.

Ons het geweet dat my ma na hierdie prosedure vir ‘n rukkie lank nie haar motor sou kon bestuur nie en my oudste broer het van Kaapstad af gekom om hand te by te sit. Die dag voordat ek verjaar het, het hy vroeg die oggend my Tweetiekoek gaan haal by die bakkery. Toe ek van die skool af gekom en by die kombuisdeur ingeloop het, kon ek aan sy gesig sien dat iets verkeerd was. My ma het saam met my na my kamer toe gestap en by my op die bed kom sit om my te vertel dat die uitslag van die biopsie hierdie keer positief was. Ek wou dit nie glo nie en het begin huil. Daar was egter nie veel tyd vir trane nie, want ons moes klaarmaak sodat my ma weer in die hospitaal opgeneem kon word en ek moes my voorberei vir ‘n toets by die skool.

Die dag wat ek die toets moes skryf, was my ma in die hospitaal om ‘n mastektomie te ondergaan. Ons sou daardie aand haar gradeplegtigheid by Unisa gaan bywoon het; haar toga het gereed gehang in haar kas en ons was so opgewonde daaroor, maar nou moes ons daardie planne laat vaar. Halfpad deur die vraestel was ek te ontsteld om verder te skryf; ek opgestaan en by die klas uitgeloop om my broer te bel om my te kom haal. Die enigste beskikbare telefoon was in die skoolkantore, waar die onderhoof my aangetref en gevra het wat verkeerd is. Ek het haar vertel en haar reaksie was: “Karen, jy sal van nou af maar moet leer om op jou eie voete te staan, want as jou ma doodgaan, sal jy op jou eie moet regkom.” Ek was beide uit die veld geslaan en woedend, want ek het darem ‘n bietjie simpatie verwag, nie hierdie onwelkome advies nie.

My ma was drie dae lank in die hospitaal en ek het haar net een keer besoek. Ek dink in my onderbewussyn het ek haar kwalik geneem vir die slegte wending wat my lewe skielik geneem het. Sy het huis toe gekom met dreineringspype in die wond en te siek om na die huishouding om te sien soos wat sy gewoonlik gedoen het. Ek het haar gehelp om te bad en haar hare te borsel, want sy kon haar regterarm nie lekker beweeg nie. Gelukkig was ons slim genoeg om ‘n tandeborsel aan te skaf wat met batterye gewerk het, want my ma is maar onhandig met die linkerhand. Sy was in haarself gekeer en het die meeste van die tyd geslaap, of sommer net televisie gekyk.

My ouma, toe reeds in haar tagtigs, het vir ‘n rukkie by ons kom bly. Ek en my broer moes help kos maak, skottelgoed was en inkopies doen. Die eerste keer toe ons in die winkel gestaan het met Ouma se inkopielys, het ons nie eens geweet waar om te begin soek vir alles wat ons nodig gehad het nie. Voorheen het ons net saamgedrentel wanneer my ma winkel toe gegaan het. Later het ons die plan beraam om die kruideniersware aanlyn te bestel en tuis te laat aflewer. Ons het nou weinig uitgegaan en eintlik net rondgesit om te wag vir die chemo-behandeling om te begin.

Op hierdie stadium het ons begin om die legkaart te bou wat ons sou onthou as die eerste tree op pad na herstel, maar daar het nog moeilike dae voorgelê.

Ons het my ma darem oorgehaal om fotos van haar te laat neem in haar toga voordat sy dit moes inhandig, hoewel dit ‘n groot jammerte was dat sy na al daardie harde werk haar gradeplegtigheid misgeloop het. Sy het egter belowe dat sy by myne sou wees. Sy het woord gehou en was daar vir die plegtigheid toe ek my graad (ook by Unisa) verwerf het en ons het beide ons grade plegtig gevier na die tyd.

Advertisements