Read the English version here

Toeka-Tokkel: Legkaarte

Tiger

Hierdie drie dinge het ek aan my dogter, Karen, geskenk op haar sewentiende verjaardag: ‘n Tweety-voëltjie verjaardagkoek wat ek spesiaal by die bakkery op die hoek bestel het, ‘n legkaart van ‘n luiperd wat in ‘n boom lê en die nuus dat ek daardie oggend gediagnoseer is met borskanker.

Die onwelkome nuus sou ek graag ‘n bietjie langer wou uitstel, maar die chirurg het daarop aangedring dat ek die volgende oggend reeds in die kliniek moes aanmeld vir ‘n mastektomie. Dit was duidelik dat hy baie bekommerd was oor die prognose en sou gou as moontlik met die nodige behandeling wou begin. Die voorlopige ondersoeke het nie belowend gelyk nie.

Karen was verslae.

Ek was kwaad.

Ek was ten volle bewus van die feit dat, as gevolg van my familie se mediese geskiedenis, ek geag word in die hoërisiko-groep vir kanker te wees, daarom het ek gereeld aangemeld vir my jaarlikse ondersoeke. Die vorige vyf jaar reeds het mammografie- en sonar- ondersoeke afwykings in my borste aangewys, wat deur die dokters geklassifiseer is as nie-kankeragtige fibrositiese siste. Ten spyte van my gereelde versoeke om die groter sist wat my ‘n geruime tyd reeds ‘n mate van ongerief en pyn veroorsaak het, te verwyder, het die dokters elke keer net aangedui dat hierdie probleem gewoonlik homself oplos. Dit het my natuurlik laat voel soos ‘n vyfjarige kind wat neul oor ‘n stokkielekker.

As ek maar geweet wat vir my wag, sou ek aangedring op tweede en derde opinies. Instede daarvan, het ek net ‘n punt daarvan gemaak om die radioloë op ‘n gereelde basis te raadpleeg en elke keer is ek gerusgestel deur die diagnose. Die vorige week egter, het die mammogram aangedui dat daar “warm kolle” in die een bors was en ek moes ‘n nag in die kliniek deurbring vir ‘n biopsie. Aanvanklik het die toetse negatiewe resultate weerspieël, maar die chirurg na wie ek verwys is deur my huisdokter, was nog steeds onrustig en het daarop aangedring om ‘n wig-biopsie te doen. Sy raad het, sonder enige twyfel, my lewe gered, want hierdie keer het die toets duidelik die teenwoordigheid van kanker aangedui.

Op daardie tydstip was ek vyftig jaar oud, onlangs oorgeplaas na die hoofkantoor van ‘n groot kommersiële bank en ek het pas begin tuis raak in die pos waarvoor ek baie lank gewag en hard gewerk het. Ek het in my veertigerjare besluit om my regs-studies verder te voer en het pas my L.L.B. graad behaal. Die lewe was goed … of so het ek gedink, totdat ek daardie oggend gegaan het vir wat ek gemeen het bloot ‘n roetine-ondersoek te wees. Op die dag wat ek my graad-seremonie sou bywoon, het ek ‘n mastektomie ondergaan. Ek was woedend, om die minste te sê.

Ses maande vantevore het ons in ‘n gemaklike woonstel in die oorwegend Afrikaanssprekende voorstad van Florida, Johannesburg, ingetrek. Die woonstel was ideaal geleë, twee blokke weg van die sekondêre skool waar Karen twee jaar later sou matrikuleer, naby aan die winkelsentrums en ‘n kort rit weg van my nuwe kantore in die Johannesburgse sentrale sakegebied. Soos dit sou blyk, was dit ook gerieflik naby geleë aan die Mayo kliniek waar ek in die nabye toekoms baie ure sou spandeer.

Reëlings is getref vir die behandeling as buite-pasiënt waarvoor ek moes aanmeld by die onkologie-departement een maand na die operasie. Ek het geen idee gehad hoe ek sou kon voortgaan by die werk terwyl ek terselfdertyd behandeling sou kry nie en ek het nie eens lus gehad om daaroor te dink nie. Ek het my dae voor die televisie deurgebring, te verslae om voort te gaan met my lewe. Dit was moeilik genoeg met al die dreineringspype wat ek saam met my rondgesleep het, om myself te bad en aan te trek – nie dat dit vir my saak gemaak het nie, want in die nadraai van die winter was dit bitter koud en ek het nie die nodigheid ingesien om my warm pajamas uit te trek nie; ek was nie van plan om iewers heen te gaan nie. Vir die eerste (en hopelik die laaste) keer in my lewe het ek in ‘n diep, donker gat van depressie ingekruip en al wat ek kon voel was ‘n onnoembare woede wat my laat stik het aan kos en woorde. Ek het geweier om uit te reik na enige van die ondersteuningsgroepe wat deur die hospitaal voorgestel is en wou nie besoekers ontvang of telefoonoproepe neem nie.

Sonder dat ek enige notisie daarvan geneem het, het Karen, wat voorheen ‘n tipiese nukkerige, selfsugtige en lui tiener was, my rol in die huishouding oorgeneem  Sy het omgesien na die wasgoed, gekook, huis skoongemaak, ons kruideniersware aanlyn bestel en haar ma in die badkamer ingeboender vir ‘n bad en harewas. Tussen dit alles deur moes sy studeer vir haar jaarlikse eindeksamen.

Toe, op ‘n dag, het sy die legkaart uitgepak wat sy vir haar verjaardag gekry het en die blokkies begin uitsorteer. Sy het my uitgenooi om by haar te kom sit en kort voor lank het my hand oor die tafel gekruip en ek het ook begin blokkies regskuifel. Ons het begin gesels oor dit en dat en eendag het sy my reguit gevra of ek sou doodgaan. Dit was die skok wat ek nodig gehad het om my te laat besef wat ek besig was om aan my kind te doen deur my stilswye en woede. Haar teenwoordigheid in my lewe was al die aansporing wat ek nodig  gehad om te oorleef. Ek het daar en dan vir haar gesweer dat ek alles in die stryd sou werp om die siekte te oorkom.

Dag na dag het die legkaart gevorder (Karen is beslis beter as ek met hierdie aktiwiteit) en na enkele weke was dit klaar … behalwe vir een blokkie wat skielik soek geraak het. Reg in die middel was ‘n gat waar die blokkie moes inpas. Ons het gesoek, rakke en laaie uitgepak en oorgepak vir ‘n vale, maar die blokkie was weg. Daardie klein openinkie het geestelik ‘n onoorkomelike probleem geword wat my van voor af siek en moedeloos laat voel het.

Drie dae later het ons weeklikse skoonmaakhulp opgedaag en ons ingelig dat sy die blokkie opgespoor het – in die stofsuier se sak. Groot vreugde! Ek het die eer gehad om die laaste blokkie in te pas en skielik was my lewe weer heel. Ons het daardie selfde dag versigtig ‘n karton onder die  legkaart ingeskuif en die blokkies vasgeplak. Daarna het die vriendelike omie by die kunswinkel dit vir ons geraam en en die luiperd het sy ereplek teen ons muur ingeneem.

Met die hang daarvan het ek besef dat die legkaart vir my ‘n simbool geword het van ‘n lewe wat heelgemaak kon word. Skielik het die komende maande se behandeling wat voorgelê het, nie meer soos ‘n berg voor my gelê nie. Ons het immers ‘n legkaart gebou; ons kon weer ‘n lewe bou.

Daar het nog baie donker dae voorgelê en ek was nog steeds nie gereed vir ander mense se “inmenging” in my lewe nie. Ek wou met alle geweld net my ou normale lewe terughê, wat natuurlik nie moontlik was nie; hierdie soort terugslae laat sy merk en dit hang van jouself af of jy dit as positief of negatief gaan ervaar. Die maande (en sommige jare) daarna was nie maklik nie, maar ek het kans gesien daarvoor en selfs humor gevind in die situasie.

Dit was vyftien jaar gelede. Vir my het die lewe tog weer goed geword en die donker gat net ‘n slegte herinnering; een wat ek hoop ek nie weer in sal val nie. ‘n Siekte van die liggaam is aanvaarbaar en hanteerbaar net as jy geestelik en emosioneel uit daardie gat kan klim.

Die luiperd trek nog steeds saam met ons van woning tot woning; dit bly nog steeds een van ons kosbaarste besittings.

Advertisements