Sleutelwoorde

,

Hierdie week se Toeka-Tokkel bydrae is Byname.

Ek het grootgeword in die hartjie van Namakwaland waar byname meer algemeen was as hare op ‘n hond se rug en almal het daarmee verlief geneem. Dit was immers die maklikste manier om te onderskei tusen familielede waar die nasate vir geslagte lank dieselfde familiename gedra het: grootoupa Petrus, oupa Petrus, pa Petrus en klein Petrus het later ‘n verwarring veroorsaak.

Natuurlik moes jy sorg dat jy die regte persoon op die regte bynaam aanspreek en een van die ou meisietjies wat destyds in die poskantoor gewerk het, kon net nie die kloutjie by die oor kry nie. So het sy oom Wiele Kotze altyd oom Ore genoem en die arme Spyker Pieterse het sy per ongeluk herdoop tot Skroef.

Ons familie was “vreemdelinge” daar (my ouers het net sowat 50 jaar daar gewoon) en buitendien was ons familienaam ook ietwat “vreemd”, dus was ons nie gedoop in die Namakwalandse bynaamfont nie. My pa en sy beste vriend wat mekaar reeds geken het nog lank voordat albei families in Namakwaland aangeland het, het dit egter goedgedink om mekaar en hulle gesinne die “Knopbekke” te noem. Ons kinders het grootgeword met hierdie manier van aanspreek, hoewel niemand tot vandag toe nog weet hoe en hoekom die naam nou juis ontstaan het nie.

Sondae en feesdae het al die Knopbekke saamgekuier om ‘n braaivleisvuurtjie of ‘n teetafel en ons kinders het mekaar later as familie aanvaar – deel van ons asof van dieselfde bloed. Hierdie bande is oorgedra tot in ons gryse jare. Wanneer ons mekaar toevallig in die dorp gesien het of nog later jare getelefoneer en op facebook raakgeloop het, was daar altyd die vreugde van die groet: “Hallo, Knopbek!” en met die totsiens: “Sê groete vir die ander Knopbekke!”

Ses dekades later is daar nog net die twee van ons oor, Knopbek. Jy bly nog steeds my Knopbek-suster en -vriendin en so groet ons mekaar nog altyd, selfs al is ons geskei oor groot afstande en deur baie jare. Maar ons kan nie meer groete oordra aan die ander Knopbekke nie, want dis net ons twee wat oorgebly het. Daardie besef het my eers vanoggend getref toe my seun ietwat verontwaardig vra hoekom ma se vriendin sê sy dogter het knopbekgene. Ek wou eers lag en toe wou ek huil oor alles wat verbygegaan het.

Toe ons later vanoggend op die strand gaan stap het met Genis, het ek aan jou gedink, aan ons kinderjare en ons familie wat ons vooruitgegaan het. Ek weet jy dink nog soms aan my.

Het ek jou ooit vertel hoe Genis sy naam gekry het? Hy is mos vernoem na die karakter in Koöperasiestories wat Jacques Loots destyds vertolk het, omdat die hondeGenis ook die vreeslike wenkbroue en snor het. Hy kan ook so diep beswaard raak soos sy naamgenoot. Nog ‘n era wat verbygegaan het.

 

Alles van die beste Knopbek. Geluk ook met jou eerste klein Knopbekkie. Ek weet sy sal ‘n plesier vir jou wees, soos wat my klein Knopbekkie vir my is, selfs al weet hulle dalk nooit hoeveel eer en respek geheg word aan hierdie naam wat nog net hulle oumas gebruik nie.

Groete van ‘n ander Knopbek.

 

Advertisements